Volg die inskrywings van die blog

Vrydag 10 November 2023

Stiltetyd Matt 22:15-22 (besig)

 Mat 22:15-22  Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok.  (16)  Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: "Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.  (17)  Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?"  (18)  Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: "Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik?  (19)  Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word." Hulle bring toe die muntstuk vir Hom,  (20)  en Hy vra vir hulle: "Wie se kop en naam is hierop?"  (21)  "Die keiser s'n," antwoord hulle. Jesus sê vir hulle: "Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort."  (22)  Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.

Herodiane en Fariseërs sien Jesus wat by waarheid bly en nie beïnvloedbaar is deur mense nie. sonder om mense in aanmerking te neem. Aan die ander kant voel Hy dikwels jammer vir mense en huil oor Jerusalem wat nie wou luister nie. Dit is ‘n balans waaroor ons moet dink en met baie gevalle die hart vir mense behou asook by die waarheid bly. “In liefde by die waarheid bly”. 

Die keiser (vandag is dit regerings) het ook dit wat hulle toekom. Regering speel ‘n rol en is ook deel van God se koninkryk. Regering dien ook mense alhoewel dit so gebroke is en soms die teenoorgestelde uitwerking het. Ons het rol om regering te dien en tot verantwoording roep ter wille van mense. 



Woensdag 25 Oktober 2023

Stiltetyd Matt 22:1-14 Aanvaarding van die seun

 Mat 22:1-14  Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat.  (2)  Hy het gesê: "Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het.  (3)  Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie.  (4)  Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: 'Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.'  (5)  Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan.  (6)  En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak.  (7)  Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.  (8)  Toe sê hy vir sy slawe: 'Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie.  (9)  Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.'  (10)  Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.  (11)  Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie,  (12)  en hy sê vir hom: 'Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?' Maar die man kon niks antwoord nie.  (13)  Toe sê die koning vir sy dienaars: 'Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.'  (14)  Baie is immers geroep, maar min is uitverkies."

Duidelike aansluiting met die vorige gedeelte en dalk steeds 'n antwoord op die vraag van waar Jesus sy gesag vandaan kry.

Twee keer het die koning mense genooi, maar die verkose genooides wou nie kom nie en reageer wreed op die koning se boodskappers of diensknegte. Die fees is vir die koning se seun. Weer 'n sterk fokus op die seun wat heel waarskynlik op Jesus wys. Erkenning van Jesus word weer die fokus van die koninkryk!!

Die koning het kwaad geword!  God gaan die wêreld in deur sy boodskappers of slawe met 'n uitnodiging tot 'n fees. Die genooides wat nie wil nie en die wreedheid van genooides teenoor die slawe, maak God kwaad. Dit bring die koning se oordeel oor die genooides. Dit verwys seker oor die vernietiging van Jerusalem 40 jaar later. 

Dit bring egter ook die uitnodiging aan ander mense slegtes en goeies, wat nie in die begin uitgenooi is nie. Die genooides was dit nie werd nie. Ten diepste omdat hulle nie wou nie, wat op die ou end uitloop op 'n openlike vyandigheid teenoor die koning deur nie die seun se bruilof te erken nie en dit bewys deur hulle optrede teenoor die slawe. Nou is ons ook uitgenooi. Die Tempel en kerk van daardie tyd is eerste genooi, maar hulle wou nie na Jesus se bruilof kom nie. Hulle het soveel dinge reg gedoen, maar vanuit hulle posisie van "God se mense" was hulle te skepties om in 'n verhouding met Jesus te staan en na Sy bruilof te gaan. 

Die gevaar is dus om so besig te wees met wat reg is dat jy nie na Jesus se bruilof wil gaan nie. 

Wat is die bruilofsklere? Aanvaarding van die bruilofskleed lyk my is die aanvaarding van die koning en sy seun en dus die onderwerping aan die seun as ook sy koning. Die sonder die klere het seker gekom om saam te eet en die voordeel van die fees te beleef sonder die ware erkenning van die koning se seun as ook koning. Die klere sal dan die ware verhouding met die koning versinnebeeld. 

Die verhouding is 'n besondere een word met God se koninkryk. Sy teenwoordigheid en dieselfde strewe en bereidheid om hom te dien. As hy die met 'n kleed roep om die land te verdedig en sy lewe daarvoor te gee, dan is dit juis hulle wat dit sal doen. Die koning kan op hulle reken. 

Dit is in die konteks wat die woord eer, betekenis kry. Dit is nie omdat dit afgedwing word nie, of omdat jy bang is om dood gemaak te word nie, maar weens 'n vereenselwiging met die seun en dus met die koning.

Die wat sonder die klere kom, is dalk hulle wat bang is om dood gemaak te word. Net die voordele soek.

(14) Die wat die klere aantrek, eer en ag, is min. 

Jy kan nie die koning eer sonder om by Jesus te begin nie. Die keuse is egter by die kerk soos hy met die leiers praat. Die seun is nou hier. Die koninkryk het in Jesus gekom en staan hier voor die leiers. Asof Jesus sê: Dit is waar my gesag vandaan kom.

Wonder sommer oor Israel vandag. Die keuse is of ons die seun se bruilof bywoon en die bruilof klere aantrek. Dalk is daar meer onder die wrede Hamas beweging wat die klere aantrek? Ek weet nie. Dit is die balans punt oor God se oordeel. Net so ook Oekraine.  

Ons is gemaak om God te dien. Soms voel ek ongemaklik want dit voel of dit my vryheid beperk. Die ongemak kom seker uit ons vervalle natuur wat rebels is. 

Hoe lyk die kleed wat ons aantrek? Dalk soos volg?:

God nooi ons na 'n fees op Sy voorwaardes en op God se manier van doen. God vra dat ons dit doen met alles in ons. Daar is vryheid, maar slegs in prys gee van vryheid. Wat 'n teenspreking?! Daar is net een keuse wat gemaak kan word wat 'n nuwe lewe oop maak. Daar is geen manier om vry te word as ons rebels is om eie identiteit en mens te behou. Tog is daar lyk my 'n vreemde vryheid binne die onderwerping aan God. Dit is ook rebels, maar teen gebroke mens wees in jouself en ander. 

As ons uit ons vlees lewe is daar nie 'n manier nie. Dit is self vernietiging voor God. As ons egter op 'n manier reg kry om uit die Gees te lewe is ons vry in God se wil. Dit kom weer terug na ons bekering. Elkeen van ons is uniek gemaak en tussen die mense wat ons leef word unieke verhoudings geskep. In die omgewing wat ons leef word unieke vaardighede geskep. Alles deur die Gees wat in ons werk. Verder gee die Gees alle vaardighede en gawes, wat dikwels ontwikkel word in ons lewens. Die vryheid in die Jesus lewe lê heel waarskynlik in hierdie uniekheid en vereis 'n klomp kreatiwiteit. Dit vloei uit die begeerte saam met God vir Sy koninkryk wat groei vanuit ons haglike vleeslike mens wees na 'n nuwe Lewe waar genesing bevryding vervulling en verlossing van mense en versorging van dier en natuur gebeur. Daarin werk ons ook aan die vernietiging en uitroei van menslike begeertes, vleeslike gedrag wat vernietigend is. Soos met die roeping van Jeremia (Jer 1:10). Om te bou en af te breek. Dit is dus nooit 'n stil vreedsame lewe nie, maar ons is nie tuis hier nie en kan nie stil sit nie. Dit is harde werk. Beginnende by myself, wat dan deurvloei na buite. Dit is self vernietigende werk, vir die vlees en vreugde en vervulling vir die Gees. In die proses word jy deel van God se bruilofsfees. 

Ek wonder of die negatiewe gevoel teenoor die bruilofsfees nie juis kom uit die feit dat ons al die goeie goed van die nuwe lewe wil doen en na strewe soos om groen te lewe en vir ou mense te help, jou vrou lief te hê ens. Maar dit doen deur die vlees se pogings. Dan word die vreugde van die Gees gemis, die vrede, die vriendelikheid, die geduld en self beheersing. Die stryd voel dan asof dit nie lei na 'n fees nie. Ons is in die harde werklikheid van die aarde tot met die wederkoms of tot ons dood gaan. 

Die fees of lewe in Christus, is 'n reeds oorwinning deur die kruis, kreatiwiteit, harde werk, saam met vreugde van weet aan watter kant ek reeds is ten spyte van my foute. Die vreugde van wat dit aan ander doen as ek ander help groei ens. Daar is baie meer om te leer as wat ek in my lewe kan leer en daar is dus te groot verskeidenheid van gawes en moontlikhede wat onbeperk is. Daar sal nooit 'n vervelige moment wees nie. Dit alles is moontlik saam met die steeds gebroke natuur en begeertes wat my so dikwels laat struikel .Selfs dit word in die koninkryk gebruik. Die fees lê ook daarin dat selfs al bly ek vir lank hardkoppig oor goed, dit word bietjie vir bietjie verander. - Gaan na die fees en trek die kleed aan.

Dit gesê, wat dan van die sentraliteit van die Seun? Hierdie Lewe word moontlik deur die kruis en die bloed. Sonder dit was daar nie 'n nuwe Lewe nie. Jesus is die enigste weg tot hierdie Lewe. Dit is die seun se bruilof. Dit gaan nie net oor bywoon nie, maar deel word van en omdat ons gebroke is, is dit absolute genade deur die kruisdood heen om enigsins deel daarvan te kan wees. Hy is die weg, en Hy is die deur en almal moet deur die deur kom. Die wat oor die muur spring is seker hulle sonder ‘n kleed. Die kleed aantrek is dan juis seker 'n simbool van die genade aantrek. Jouself daarin te klee.

KERN: God nooi na 'n fees. Die mens verwerp die uitnodiging. Sommige gaan na eie grond en ander na werksplek. Dan word hulle verwerp en word ander genooi. Hulle wat dan die kleed aantrek, deel in die fees van God. Hulle wat gekies was in die begin was dit nie werd nie. 

(5)  Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan.  

Nogal iets om te wonder. Wat trek ons aandag af daarvan om na Jesus se bruilof te gaan? Die stuk grond en die werksplek behoort nie aan ons nie. Dit is ook net tydelik. Hoe kry die mens dit reg om deur die Gees so 'n revolusionêre prioriteit skuif te maak en hoe lyk die nuwe prioriteite in die lig daarvan dat ons ook moet werk om te leef. Wat is die implikasies van Jesus eerste. Die landery en die werksplek kan of joune wees of kan deel wees van God se opdrag. Deel van die fees daarvan om Jesus te dien. 

(8)  Toe sê hy vir sy slawe: 'Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 

Die uitspraak dat die genooides dit nie werd is nie, laat my ook wonder. Ek wil van die standpunt uitgaan dat niemand dit werd is nie. Hierdie geweldige transformasie deur ons verhouding met Jesus is niemand werd nie. Ons almal het gefaal en ontbreek ons aan die geregtigheid van God. Die kern van die fees is dus juis daarin dat dit die Seun se bruilof is en dat ons deur ons verhouding met die seun dit werd word om die koning se slawe te wees en dus 'n verhouding met die eienaar te hê. Slegs hulle wat die kleed van geregtigheid ontvang wat gegee word, is dit werd. Dit is die kern van ons waarde. Nou deel ons God se versorging en Sy paleis, Sy kos en wyn, sy fees en die belangrikste, 'n verhouding met Hom. Nou word ons Syne en ons werksplekke en landerye word syne en begin Hom te dien. Dit is dalk ver gevat, maar as ek nou terugkeer van die bruilofsfees, dan bou ek Sy koninkryk deur alles syne te maak en alles Hom te laat dien. 

(elke keer as ek 'n ongemaklike vraag vra, soos oor die uitspraak "Was dit nie werd nie", dan meestal kom daar skatte na voorskyn wat nie daar sou wees sonder die ongemak nie. dit daag mens uit). 

(14)  Baie is immers geroep, maar min is uitverkies."

Hoekom word die woord baie gebruik en nie almal? God het die wêreld lief. Hy is lief vir almal en het gekom vir almal. Dalk bedoel die baie eintlik almal om te kontrasteer met die min wat uitverkies is. Ek vermoed dat dit verwys na die baie wat op die strate en oral oor uitgenooi is vir die bruilofsfees. Ek weet nie.

Min is uitverkies. Dit verwys na die wat van die strate af die uitnodiging aanvaar het en die kleed aan het. Almal is nie uitverkies nie. Die wat uitgenooi is en aanvaar het en belangrik, ook die kleed aan het. Jy dra nie jou eie klere en jou eie geregtigheid nie. Jy is aanvaarbaar deur Jesus. Weer wys dit lyk my op die kerk mense wat in die kerk is en deelneem, maar nie 'n kleed aan het nie, want Christus is verwerp. Hulle wat trots is op hulle heiligheid en reg doen. Jou baadjie en jou das wat gewas en goed versorg is, kan jou nie red nie. 

Almal is nie uitverkies nie. Baie sal nie die uitnodiging aanvaar nie en sal ook nie die kleed aantrek nie en later ontdek dat hulle nie uitverkies was nie. God red nie almal nie, is 'n ongemaklike realiteit. Die genade is dat Hy sommige kies, terwyl die mens Hom verwerp het en steeds verwerp. Hy is 'n God wat lief is vir mense en nie almal los vir die oordeel nie, maar uit genade sommige kies. 

Donderdag 19 Oktober 2023

Stiltetyd Matt 21:33-45 Dood - Koninkryk en vrugte

 Mat 21:33-46  "Luister na nog 'n gelykenis," het Jesus gesê. "Daar was 'n grondbesitter wat 'n wingerd geplant en 'n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook 'n parskuip uitgekap en 'n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan.  (34)  Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal.  (35)  Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en 'n ander een doodgemaak en 'n ander een gestenig.  (36)  Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak.  (37)  Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien.  (38)  Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: 'Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.'  (39)  Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.  (40)  As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?"  (41)  Hulle antwoord Hom: "Hy sal daardie slegte mense 'n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee."  (42)  Toe sê Jesus vir hulle: "Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë.  (43)  Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan 'n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.  (44)  Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel."  (45)  Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel.  (46)  Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as 'n profeet beskou het.

Duidelik is daar lyne tussen die gelykenis en die vorige.
Hierdie is 'n baie ongemaklike storie wat verwys na die priesters en fariseërs. Kerk hanteer wingerd asof dit aan hulle behoort en daar is soveel soeke na eie belang en selfs rykdom. Die land regering en besighede hanteer die land en besittings asof dit aan hulle behoort en hulle dit wil hê. Die begeerte is vir tydelike rykdom, mag en aansien. Vryheid om self te besluit wat om wanneer te doen. Dit is ver van 'n lewe wat produseer en groei vir diens aan ander soos God dit wil. Die ergste is wanneer ek dit in myself ook sien. As ek my moet plaas in die storie, is dit ook my storie. In talle besluite is dieselfde soort van denke ook die motivering.
Hoe ongemak is daar in my lewe teenoor Jesus. Die weg gee van wat ons wil en wat ons wil hê.  Is Sy lewe aanvaarbaar deur hoe ons lewe? Lewer die koninkryk wat gebou word die vrugte of word dit so bestuur asof dit aan ons behoort vir wie dien dit? Lewe ons om so baie dinge vir ons self te vat.
Hoekom het die eienaar nie die boere vernietig nadat hulle die diensknegte aangeval en vermoor het nie? Hulle het dit verdien, maar Hy het besluit om homself te gee. Hy het Homself breekbaar gemaak deur Sy seun te stuur op so 'n manier dat die huurders hom kon seer maak. Die wreedheid van die mens was egter nog steeds deur gierigheid oorheers en sien nie eers raak wat gebeur nie. Die keerpunt tussen oordeel en genade kom in Jesus. As Hy aanvaar word, dan is daar redding, maar as Hy verwerp word is daar vernietiging. Wat met Jesus gedoen word is die laaste en ware keerpunt. 
Gelowiges kan erken dat ons waarlik 'n gemors maak van ons samelewings land en wêreld.  Toe die seun gestuur is, het ons as gelowiges Hom egter uit genade aanvaar en voor Hom gebuig. Die enigste weg het ons aanvaar. Die aanvaarding en geloof in Jesus verander alles. 
Dit kon vir die huurders 'n ware draaipunt van hulle lewens gewees het. Hulle sou moes vergifnis vra oor die moord en wreedheid op die ander slawe, tog in die seun was daar die hart van God en Sy genade. Die draaipunt in ons lewens was vir ons 'n BAIE besonderse gebeurtenis, waar alles nuut geword het. Ten spyte van ons natuur ellende en verkeerde besluite en gesindhede. 
Wat oorbly is dat ons moet begin groei om alles vir Hom te hanteer en vrugte te begin lewer. Daarin het ons 'n gemors gemaak. Nou is dit die tyd van groei! Ons wil en kan. Die parskuip is daar, die wingerd is daar en die son skyn en die reën val en die grond is vrugbaar. Al is ons nie daar nie, moet ek my gedagtes verander sodat daar vrugte gelewer kan word. Onkruid moet uitgehaal word, wilde diere moet in toom gehou word (wagtoring) en daar moet nat gelei word en hard gewerk word sonder om die vrugte vir ons self te vat. Dit is alle in reaksie op die seun wat ons aanvaar het. Kom ons gee alles wat ons het vir Hom!
Die vorige diensknegte voor die seun was seker mense soos profete in die Ou Testament. Elia Elisa Jeremia ens. Hulle was werklik dood gemaak, wreed vervolg en vermoor. 
Die koninkryk word gegee aan die wat weet dat die aarde aan die Here behoort en baie hard werk dat dit vrugte lewer. Ons skiet tekort, maar omdat ons Jesus aanvaar het, het ons die Heilige Gees om oor te begin.
Dankie vir hulle wat ons voor is en reeds soveel voorbeelde gee as tekens van die nuwe koninkryk.
Dit kry nuwe betekenis om die koninkryk as die doel te sien. Die wingerd wat vrugte lewer. Vreugde, blydskap, geduld, selfbeheersing, vriendelikheid, mekaar se laste dra, eenheid en samewerking, korrigeer en reg help, vrygewigheid, harde werk, lyding en groei, pleit en trane, aanmoediging, om nie te oordeel, medelydend wees, sensitief en sien medemens se onuitgesproke nood en hoor Sy stem in die proses, ens. As ons wil hoor, dan ontdek ons dat die wêreld vol is van Sy stem. 
Ons gaan voort in die aardse ongemaklike lewe van baie faal en soms oorwin. Kom ons kyk reg, want dan word die begeerte en strewe vir groei net al hoe sterker. Beleef en aanvaar al meer 'n God wat lief is vir ons, dit help baie. 'n God wat Sy seun gestuur het en die genade dat ons Hom aanvaar het. Dit is die keerpunt. Tipping point. 
Die Kerk was die wingerd van God. Dit lyk vir my dat alles wat in Sy koninkryk geproduseer word gebruik word in diens van die wêreld. Alles is om hoop en nuwe lewe te bring. Soos dit ander dien, dien dit God, want God het dit nie self nodig nie. 





Dinsdag 17 Oktober 2023

Stiltetyd Matt 21:28-32 Geloof is werk

Mat 21:28-32  "Wat sê julle hiervan? Daar was 'n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: 'Seun, gaan werk vandag in die wingerd.'  (29)  'Ek wil nie!' antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.  (30)  Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: 'Goed, Pa,' maar hy het nie gegaan nie.  (31)  Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?" Hulle sê: "Die eerste." Toe sê Jesus vir hulle: "Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in.  (32)  Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie."

Jesus praat met leiers in die Tempel.

Hier is albei seuns van die man. God kom bied sy Vaderskap aan aan almal. Jesus is die persoon om wie dit draai. As jy hom glo en aanvaar, aanvaar jy Hom en as jy nie vir Jesus glo en aanvaar nie, aanvaar jy nie vir die Vader nie. Dit is 'n baie sterk tema in die evangelies.

Laat ons antwoord vir God eerder dade wees as woorde!! 

(Belangrikste werk is om self intensioneel te ontwikkel en groei. Dit vra groot erkentlikheid. Identifisering van waar ek moet ontwikkel. Dit doen en nie net dink nie. Ens. Jy mis iets krities en vervullend indien jy nie groei nie. Beginpunt.) 

God gee ons die gawe daarvan deur ons te stuur om te gaan werk. Werk in Sy koninkryk. 

In vergelyking. Die kerk leiers het die boodskap gehoor en "ja" gesê. Toe kom Johannes en toe Jesus en hulle het Hom nie geglo nie. Dit wat hulle gedoen het, was nie wat God wou hê hulle moes doen nie. Hulle het die wet probeer doen en alle regulasies probeer nakom. Feeste en Sabatte gehou ens. Die opdrag uit die gedeelte was egter om Jesus te glo. Dit is vreemd, want geloof kom nie van 'n mens nie, dit kom uit God. So dalk moet mens dieper kyk. Die opdrag was om die verhouding met God te aanvaar deur Jesus sodat die Gees van God deur die mens kan werk. Aan die ander kant is die tollenaars en prostitute die mense wat eers "nee" gesê het en toe Jesus kom en die verhouding met Hom aangebied word, toe glo hulle Hom. Deur te glo in Jesus, het hulle God se opdrag om te gaan werk vervul. Daar word nie gesê wat hulle verder gedoen het as om te glo nie. Dit word dalk veronderstel dat omdat hulle in Jesus geglo het, het God hulle in Sy span gebruik om in die Koninkryk te werk. 

As mens na die twee spanne kyk, wonder mens waarna streef ons werklik? Die een span probeer alles reg doen en gehoorsaam wees en so op die ou end word hulle volgens hulle self beter as die tollenaars en prostitute. Hulle het sterk goddelike tradisies en tempeldiens wat soveel moontlik opdragte uitvoer. Hulle strewe na die lees en ken van die geskrifte en strewe na geleerdheid en kennis oor hoe om God te gehoorsaam. - Die ander span word meer geken as die sondaars en oortreders. Hulle is soekend na verlossing vergifnis en genade. Hierdie stewe bly waar vir hulle hele aardse lewe. Hulle glo Jesus en vind in Hom en Sy kruis dood wat hulle soek. Hulle leef in berou en gebrokenheid omdat hulle weet dat hulle hier op aarde altyd tekort sal skiet. Hulle hoop is in Jesus nou en in die Ewige lewe eendag. In hulle groei daar 'n liefde wat van God kom en binne hulle kom woon wat maak dat hulle die onderdrukkers begin sien, jammer kry en bedien met Jesus. Hulle lewe is dus 'n "ja" vir Jesus, die Alfa en die Omega, die begin en die einde. 

Die kern vraag is dus nie wat jy doen nie, maar vir watter span jy "ja" sê. Die span wat "ja" sê en toe "nee" vir Jesus, hulle heers en vervolg die span wat "nee" gesê het. Prostitute en Tollenaars moet mos volgens hulle verwerp word, want hulle is teen God en sy gebod. Hulle sal mos nie God se mense wees nie. Aan die ander kant die span wat "nee" gesê het en wel geglo het, is hulle wat die die heersers en onderdrukkers dien met die evangelie van Jesus. Dit doen hulle met lyding en blydskap. Dit is dan die werk in die wingerd waarvoor hulle gestuur is.

Die werk in Sy koninkryk gaan noodwendig saam met werk in jouself. Jy is in alles betrokke as mens, want jy verander so dat jy lig en sout word. Dit is 'n innerlike verandering deur die Gees wat gevolge het van opoffering, lyding, vreugde en vervulling, lig en sout wees, gehoorsaamheid en nuwe lewe. Dan kan dit wees dat Hy jou ook 'n spesifieke roeping gee, soos om in Mosambiek te gaan dien of jou werk 'n bediening te maak. Dit alles gebeur omdat daar iets in jou gebeur het. 

Hoekom gaan sondaars eerder die koninkryk in as hulle wat alles reg probeer doen? Juis omdat hulle Johannes geglo het. Johannes het van Jesus getuig en het 'n verhouding met Hom verkondig. "Die stem wat roep in die woestyn, maak gelyk die pad" Dit is die pad van die een wat na my gaan kom. Hulle het as sondaars daarop reageer met hulle lewens. Hulle het begin groei, verhouding bou as sondaars, want die iets wat in hulle gebeur het het te doen met geloof in die man wat Johannes verkondig het. Hulle het sy woorde aanvaar en dit het iets aan hulle gedoen.

Christenskap gaan oor 'n reaksie op God se boodskap wat Jesus is. Wat maak jy met Jesus? Dit gaan nie oor die mondelingse antwoord nie, maar oor die verandering wat dit in jou bring. Dit kan seker bekering genoem word, alhoewel dit twee seuns was. Ons kom daagliks tot bekering. Die belangrike ding dit het 'n reaksie in ons tot gevolg. 

Weer kom Jesus met 'n klaarblyklike totaal ander godsdiens en mense glo dit nie. Toe bewys Jesus dat Hy is wie Hy sê Hy is. Tog het hulle nie spyt gekry en geglo nie. Dit gaan dus nie oor die uiterlike rituele en maniere van doen nie, dit gaan oor die verhouding met God en dan spesifiek deur Jesus as die teenswoordige God self tussen mense. Die een wat die weg en die waarheid is en dus die een wat wreed aan 'n kruishout sy bloed moes giet vir mense. Geen ander vertroue bring die ommekeer nie, behalwe die geloof in Jesus. Sondaars het dit aanvaar. Hoekom is dit so moeilik vir kerk mense wat God probeer dien met al hulle rituele en regulasies. 

Dalk lê die moeilike ding in die woord "berou kry". As daar soveel is waarop ek trots geword het in wat ek reg doen en later sien dat dit nie die basis is nie. Wat nou nodig is om berou te kry dat ek nie by Jesus gebly het nie. Dat ek weer moet erken ek is verkeerd en ek moet geloof terug trek van soveel dinge af na Hom toe. 

Dit is seker juis wat Johannes se bekerings boodskap beteken. Bekering is nie die aflê van sonde en die nakoming van wette en regulasies nie. Sy bekering is 'n bekering van vertroue en geloof op ander goed wat moet terug keer na 'n geloof in Jesus alleen. Die pad van geregtigheid van Johannes is volgens my Jesus self. Daar is nie 'n ander geregtigheid hier op aarde nie. Nuwe regulasies en lewens veranderinge sal wel daaruit weer volg, maar dit moet altyd die verhouding geloof en vertroue in Jesus dien. Die wonderlike daarvan is dat tollenaars en prostitute dit eerste doen. Dit is vir ons sondaars bedoel! Die wat laaste is sal eerste wees. - Weet ek nog dat ek 'n sondaar is? Dan is Jesus die enigste bron van Lewe.

 (31)  Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?"

As mens kyk na die vraag, dan word veronderstel dat iemand ten minste gehoor het wat God wil hê. Daar is dus mense wat die stem van God gehoor het. Dit wat God wil hê, glo ek, was in die verlede die wet van God. Mense kon dit egter nie reg kry nie en daarom het Hy Jesus gestuur. Nou wat God wil hê dink ek lyk soos volg. Eerste, aanvaar die liefde wat God vir jou het en aanvaar die verlossing wat Hy vir jou bied. Dit is wanneer jy "ja" sê is wanneer jy die verlossing aanvaar. Hierdie aanvaarding kom uit 'n diep bewustheid van jou sonde en ellende. Omdat dit uit so 'n diep bewustheid kom(deur Sy Gees), word die bevryding 'n diep transformasie in ons. Dit het dus gevolge en bring groei in ons ellende. Dit is nie 'n aparte beweging nie, maar dit is 'n noodwendige gevolg. Dit gebeur wanneer daar 'n wil in jou wakker word om te wil groei(deur die Gees van God). As ons groei deur ons hele lewe gemeet word, dan sal dit met ons dood nog steeds baie ver tekort skiet en bring dit ons geen groter regverdigheid as wat ons reeds gekry het met verlossing nie. Tog sal dit vrugte dra, want dit is wat God belowe sal gebeur deur die werking van Sy Gees in ons. 

Wat is die iets wat in ons gebeur. Dit is iets van 'n oorgee aan God se Gees sodat Hy kan doen deur jou wat Hy wil doen teenoor jou boosheid ellende en geneigdheid tot die kwaad. D.w.s, in die proses bloei jy, want dit wat Hy wil is teenoor jou wil en behoeftes en begeertes. Tog is dit wat in jou gebeur groter as jyself. Dit is God se werk, maar jy is as mens totaal betrokke daarin. Geen geduld, liefde ens. kom as jy nie daaraan werk nie. Eerste moet jy sien wat Sy wil is en wat in jou verander moet word. Dan moet jy besluit wat jy Hom wil toelaat om te verander. Dalk geduld, of deursetting vermoë, dissipline of wat ook al. Dan begin jy daaraan werk. Jy doen dit ook saam met ander sodat daar verantwoordbaarheid is. Mede gelowiges word jou mede reisigers op die pad. Hierdie is harde werk in God se wingerd. Noudat dit in jou begin groei, is jy weer die bron van groei vir ander. Alles deur die Gees van God. 

Geloofsbelydenis sonder hierdie transformasie en werk, maak van my 'n doen lose Christen. Sondaars is beter hiermee as mense wat dink hulle het 'n goeie lewe. Dit is dus nodig om te weet jy skiet te kort en nie net 'n bietjie nie, maar baie. 



Vrydag 06 Oktober 2023

Stiltetyd Matt 21: 23-27 Gesag en verhouding

 Mat 21:23-27  Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: "Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?"  (24)  Toe antwoord Jesus hulle: "Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen.  (25)  Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?" Hulle redeneer toe onder mekaar: "As ons sê: 'Van God af,' sal hy vir ons sê: 'Waarom het julle hom dan nie geglo nie?'  (26)  Maar as ons sê: 'Van mense af,' kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as 'n profeet."  (27)  Toe antwoord hulle vir Jesus: "Ons weet nie." En Hy sê vir hulle: "Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie."

Leiers werk met 'n gesagstruktuur wat hulle aan God en kerk koppel, waarin Jesus nie inpas nie. Moeilike probleem.
Jesus ontbloot die basis van die gesag wat oor die leiers regeer. Dit is die mense se mening en aanvaarding asook tradisie waarin Johannes se doop nie ingepas nie. Die tradisie sluit gesag in wat deur familie lyne kom. Verder ook die geskrifte waarin die wette en profete op 'n tradisionele manier verstaan is. Wat 'n diep wortel wat vreeslik moeilik gesny word! Dit is werklik net deur die werking van die Gees wat dit kan verander. Mens is nie daartoe in staat nie. 
Reëls en regulasies word sterk toegepas en strukture word sterk in stand gehou. Tog ontbloot die vraag dat daar nie 'n diep oortuiging is verder as dit nie. Vergelyk dit met die apostels soos Petrus en Johannes na die uitstorting van die Heilige Gees. Vreemde en anderse dinge het gebeur en almal was teen hulle, maar wat dit gedra het was 'n diep oortuiging. Die strukture reëls en rituele was nie meer die basis nie.
Tog wys die vraag van die kerk leiers, dat daar 'n behoefte aan verstaan is en dit aan Jesus gestel word.
Ek wonder daaroor of mens nie kan sê dat in Jesus daar 'n nuwe verbond gekom het nie. Dit is nie meer wet en straf en offers nie, maar in Jesus. Jesus is besig om mense voor te berei vir die verandering wat 'n vreeslike kruis bring. Verwoesting en dood wat verlossing en vryheid bring. Al die ander pogings van mense om die ewige lewe te kry kan dit nie bereik nie. 
Alles wat mense soek het in Christus gekom, maar dit vra 'n verandering in denke en prys gee van vertroue op wet en goeie dade. Werklik 'n ingrype van God deur die Heilige Gees. Ook die dissipels het nog nie die geloof gehad nie. Het nog getwyfel. 
Die stelsel tot dusver het gewerk op mag wat saam met gesag gekom het. 
Die Tempel wat 'n goddelike instelling is, het 'n menslike instelling geword. Vertroue op God wat in die gebou na mense kom, verander nou na God wat in Jesus na mense kom meer dikwels buite die gebou as binne die gebou. Gebou raak nou net menslik funksioneel maar sal met die kruis posisie verloor om God se huis te wees. Nou het heiligheid vanaf die gebou na buite verbreed, binne die boosheid van die wêreld in. Juis seker omdat daar nou toegang is vir sondaars.
Die skuif na Jesus is vir mense baie moeilik net so seker die skuif na die Heilige Gees as teenwoordigheid van God. Tog het dit vrylik beskikbaar geword uit genade. Nou vra dit die skuif van vertroue na dieselfde God maar deur Jesus en later deur die Heilige Gees. 
Here gee dat ons die boodskap altyd duidelik sal kan uitdra met ons lewens dat 'n diep vertroue op U in 'n (soms sukkelende) verhouding met U die basis van ons lewens sal bly. Dat geen reëls regulasies rituele en tradisies ooit die plek daarvan mag inneem nie. Dat ons altyd meer en meer sal groei daarin dat rituele en gewoontes altyd meer en meer sal buig voor die verhouding en die verhouding sal dien. Jesus is die diep oortuiging en deur geloof wil ons loop waar Hy lei. Selfs as die verhouding groei en verander, dat ons dit altyd eerste sal stel. 
Met Jesus en die kruis het die uiterlike dinge vreeslik drasties verander, maar die verhouding met 'n drie enige God het die basis gebly. 
Dink oor die stelling: Voor die reformasie het die kerk die verhouding probeer dien, maar die reformasie het weer gemaak dat elke gelowige se verhouding nou weer die kerk begin dien.
Die volgende gedeelte lyk my sluit hierby aan. 


Woensdag 04 Oktober 2023

Stiltetyd Matt 21: 18-22 Gebed en geloof

 Die boodskap is dat gelowige gebed, 'n realiteit is en geweldige gevolge het. Weet en vertrou en God sal antwoord. Hierdie is in die kern van ons verhouding met die Here.

Tog beleef ek dit nie so nie. Moet ek nou tot die gevolgtrekking kom dat ek nie geloof het nie? Die woorde "alles wat julle in gebed vra sal julle ontvang as julle glo" is baie radikaal. 

Nog 'n vraag is, hoekom dit gebeur op eie behoefte bevrediging. Jesus was honger.

Verder ook hoekom die boom gestraf moes word toe die tyd vir dra nie daar was nie. Dit was blykbaar in April en die boom sal eers in Junie begin dra.

Dalk kan die woord gebed baie meer voor veronderstel as wat mens dink vanuit eie ervaring en verstaan. Hier is so paar gedagtes oor wat Gebed ook kan beteken:

  • Gebed is deur die Heilige Gees geïnspireer. Dit beteken
    • Dit vind plaas binne 'n verhouding van Heilige God en SY wil waaraan ek my onderwerp.
    • Gebed is dus meer gefokus daarop om God se wil te hoor. Sonder die luister na God se wil, raak gebed heeltemal gebroke en is dit nie meer gebed soos die woord dit bedoel nie. 
    • In hierdie verhouding word my wil God se wil. Die eenheid wat deur die Gees kom agv die soendood van Christus.
    • Ek sal dus vra wat Hy wil en nie my eie behoeftes soek nie. Jy raak so oorgegee aan God dat eie swaarkry seer en teleurstellings geen invloed op jou gebed het nie. Jy leef in die vreugde van God se wil.
  • Dit gaan oor God se tyd en nie my of ons tyd nie.
  • Geloof as gawe van God maak dat ek nie uit my eie kan glo nie. 
  • Gebed is amper 'n ander woord vir verhouding met God. Dit is die kontakpunt en dit is waar kommunikasie plaasvind in woorde en sonder woorde. Dit is die een word met God. 
As hierdie soort van verhouding veronderstel word met die woord "gebed" dan sluit dit 'n potensiaal oop waar geen aardse teenstand of vyandskap of marteling in die pad kan staan van 'n gelowige wat bid. Jou gebeds versoeke kom dus deur die Gees en sluit net jou behoeftes en omstandighede in wanneer God dit wil.
Dit lyk tog asof God ook in die soort van gebed, jou eie nood en omstandighede insluit in Sy wil. Dit kom dan van Sy kant af en selfs klein dingetjies word dan deel daarvan.  
Ten diepste gaan dit hier oor geloof. Hierdie woord se betekenis is ook groter dink ek as wat ons op die oppervlak hoor vanuit ons ervarings. Ek dink ons weet iets daarvan, maar dat die volle betekenis van vaste vertroue en ware weet, nog ervaringskennis moet word. Dit is 'n realiteit van 'n kanaal waardeur gebed en verhouding en meer as dit een wording met God plaasvind. As dit vir ons werklikheid word, dan word dit waarlik 'n onbeperkte verhouding, gebou op God se almag en liefde. Niks op aarde bring dan meer vrees nie. Soos ek dikwels nog bang word en kragteloos en moedeloos word asof ek 'n slagoffer is, weet ek dat dit hier is waar ek moet kom stil word en en hierdie realiteit elke keer meer inneem. In 'n sin kan mens dalk wel sê dat ek nog nie die geloof het wat nodig is daarvoor nie. Geloof is dalk hier op aarde nie so wit en swart saak nie, maar eerder 'n proses van groei. Die doel bly ware geloof waarvan ons nog baie moet leer en beleef. 
Here laat U Gees ons begelei in 'n proses van groei in gebed en geloof!
Dit is werklik groter as die aardse werklikheid as mens die stories van gelowiges wat bid in die Bybel hoor en ook vanuit stories van mense wat deur God gebruik word. Ons word soms verras deur God sodat die wêreld hierdie geweldige groot werklikheid en God self kan leer ken, Daar is nog soveel om te ontdek.  

Saterdag 23 September 2023

Stiltetyd Matt 21:12-17 besigheid en teenwoordigheid van God

Matt 21:12-17

Jesus wys wat moet gebeur waar God werk. Verlamdes word gesond gemaak. Kinders roep hossana, verlos ons tog! Vir Jesus. 

Tempel was plek vir ontmoeting en verhouding met God. Het nie ander plek gehad nie. Mense het van ver gekom om in God se teenwoordigheid te kom. Nou het die wêreld ook dit oorgeneem met besigheid. 

Besigheid nie noodwendig sleg. Kan ook gedoen word as diens, maar dit het nie altyd so gebeur nie. Rowersnes beteken dat daar baie winsbejag en eie voordeel gesoek is. Dit in die plek waar jy juis fokus om eie belang prys te gee en God te dien. 

Die teenwoordigheid van God is die plek waar 'n persoon kan gaan wat nie geld het om te koop nie. Die plek waar 'n oortreder en sondaar gaan om dood te gaan in eie belang. Besigheid het dikwels die plek geword waar jy juis effektiewer word om wins te maak. Minder effektief daarin om ander se nood te dien. 

In die teenwoordigheid is dié wat arm van gees en fisies arm is welkom. By God kry hulle vertroosting en rigting. Iemand sonder geld gaan egter nie na 'n mark nie! Op 'n mark is die wat koop die wat goed voel. 'n persoon wat sleg voel om te begin sal dan of deur te koop goed wil voel en dit lei jou juis weg van 'n vertroue op God. Of jy kan nie koop nie en dan dryf die goed wat wat jy nie kan kry nie jou of tot diefstal en die gevolge daarvan of verder in depressie.

In God se teenwoordigheid word die persoon die fokus en word 'n verhouding gevestig tussen God deur Sy kerk na soekende mense. In 'n besigheid is fokus op produkte, geld, advertensie, oortuigings vermoë, en dus manipulasie vir moontlike verkope. In baie gevalle is die omstandighede en nood van mense nie die fokus. By Jesus is dit die verlamdes waarop gefokus word. 

Besigheid kan ook as diens van mense bedryf word, maar dikwels suig die oortuiging aan die agter speen. 

Jesus se doel om mense uit te jaag dink ek was om die belang daarvan om huis van die Here te skep met die waardes te beklemtoon. Ook in ons huise en besighede in 'n tyd waar die Here alom teenwoordig is en nie net in die kerk nie. Dit laat my dink aan hoe 'n oortuigde Christen se hele houding en wees ook mense help om op vertroue en ware God te fokus selfs sonder om 'n woord te sê. So mens of sy gesin of sy besigheid is 'n lekker plek om te wees selfs al wil of kan ek nie iets koop nie. 

Nogal gewonder of Proteahoogte Kersmark en Wintermark nie deur manier van uitstalling en fokus op vrugte van die Gees in elke werker nog meer in die rigting kan beweeg nie?


Dinsdag 29 Augustus 2023

Stiltetyd Matt 21:1-11 Andersoortige Koninkryk

 Mat 21:1-11  Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur  (2)  en vir hulle gesê: "Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.  (3)  En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur."  (4)  Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:  (5)  "Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op die vul van 'n pakdier."  (6)  Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het.  (7)  Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim.  (8)  Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi.  (9)  Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: "Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!"  (10)  Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: "Wie is hierdie man?"  (11)  Die skare het geantwoord: "Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!"

Voel amper na ironie, as dit wat die mense verwag en voor sing 'n aardse koninkryk is en hier is Jesus wat 'n geheel anderse koninkryk verteenwoordig. Die donkie en die nederige houding word lyk my nie raak gesien nie. 
Mense verwag dat Jesus hulle behoeftes en nood gaan verlig en van onderdrukking sal bevry. Hulle kyk dus na wat Jesus met hulle beeld van Sy koningskap vir hulle gaan kom doen. Die bevryding en vrede van wat 'n aardse koning kan doen is nie uitgesluit nie, maar hulle verstaan nie dat dit die gevolg is van die ware andersoortige koninkryk wat in harte begin nie. Dit lyk my het vir hulle op daardie stadium (soos later bevestig is deur dissipels se verwagting) gegaan oor die uiterlike koningskap soos met Dawid. Dit in vergelyking met wat Dawid gedoen het. Jesus staan egter vir die prysgee van self en sy volgelinge loop dieselfde pad sodat God verheerlik mag word in SY reddende handelinge met die wêreld. 
Voor jou bekering, moet jy die lewe ontvang (ewige lewe) en na jou bekering gee jy jouself daarvoor en haat jy jou eie lewe in 'n sekere sin. Jou eie lewe staan so in die pad van die heerlikheid. Die weg gee van jouself word die gevolg van die nuwe lewe. Ek dink dat die verskil in mense se verwagtinge en God se koninkryk lê juis daarin dat hulle dit verwag vir hulle aardse lewe en Jesus kom om die aardse lewe met 'n ander beter lewe te vervang. Dit het dan die gevolg dat die aardse lewe en natuur ook bevry word. 
Dit lyk soms dat baie kerk mense nog steeds soek na gemaklike goeie lewens waar Jesus aardse behoeftes kom vervul. Daarvoor lê hulle hul klere op die donkie en gaan pluk hulle takke en gooi dit voor hom in hulle lofliedere ens. Die woord Hossana is nie lofprysing maar noodroep "verlos ons tog". Dit is erg om te dink dat verlossing gesoek word, maar nie ware innerlike verlossing van jouself nie, maar slegs van verdrukkers van buite. Die probleem is dat die wat hierdie lewe soek, dit gaan verloor, terwyl die wat hierdie lewe haat en dit aflê juis hulle is wat die lewe kry. Nou is die lewe Christus en jou vreugde God se wil om die wêreld te red en jy soek nie daardie voordele nie, maar in die weg gee van self begin die ware lewe in jou vorm aanneem. Die ware realiteit is dat dit dan die enigste lewe is, die res ly tot die dood.
Die belangrike ding is die vraag  "Wie is hierdie man?" As ek hierdie Jesus net 'n klein bietjie reg kan identifiseer, dan sien ek 'n donkie, en sien ek 'n dienaar of slaaf en en sien ek prys gee van self en dan sien ek die ware heerlikheid van 'n God as Vader. Dan word my eie behoeftes my vyand. (Dit is  die duiwel wat my mislei na myself.) Dan wil ek nie meer lewe nie, maar leef Christus in my 'n ander lewe.
Die antwoord dat Jesus 'n profeet is, wys dat hulle Hom net sien as 'n mens. Dit skep dadelik afstand tussen God en mens. Hulle sien nie God by hulle nie, maar sien net die potensiaal van 'n Dawid tipe aardse koning. Die man wat hulle kan vertrou om vir hulle as volk weer aansien rykdom en aardse vrede te bring. Nou kan ons as volk weer iemand wees hier op aarde. Dit is 'n diep menslike behoefte wat dan bevredig word. Om raak gesien en geëer te word. 
Interessant dat dit is hoe liefde dikwels gesien word. Om vir mense aansien aandag en eer te gee en hulle aardse behoeftes te bevredig. Die besef kom egter by jou op dat dit nie die ware behoefte van mense nie. Die ware behoefte is meer in die lyn van verlossing vrede vergifnis wat maak dat deur harde werk en martelaarskap (getuie wees, in Grieks beteken martelaar wees) weg te beweeg van eie begeertes en drange na 'n nuwe vervullende weg gee lewe van getuienis. Nie as individu nie, maar 'n kerk wat dit dit bely en lewe. Die volle ontvang van God se genade en identifiseer daarmee en dan die vervulling in die lewe daarvan uit dankbaarheid. Soveel anders as die menslike behoefte en verwagting.

Dit moes 'n wrede ontnugtering gewees het toe hierdie verwagting van 'n aardse koning vernietig is met Jesus wat sterf aan 'n vloekhout as veroordeelde. As ek dink hoe sy naaste vriende, familie en dissipels hierdie belewenis moes deurgaan. Tog laat dit my dink daaraan dat ons dit ook dikwels moet deurgaan, want ons neig ook na aardse verwagtinge en het dikwels 'n gemaklike christenskap as prentjie in ons kop. Dit is 'n moeilike prysgee verandering van denke wat gebeur met voortdurende bekering. Oorgee van my wil na SY wil wat my as offer gebruik om groter bevryding te doen in my en ander. Groter bevryding as aardse vryheid. Jesus se storie van donkie, verwerping deur mense, valse veroordeling (in ons geval soms ware veroordeling) dood en lyding wat 'n opstanding en heerlikheid voorafgaan. Dit wat in ons daaglikse bekering besig is om deur die werking van SY gees in ons gebeur. Ons storie word in daardie storie ingebed. Deur 'n verhouding met God, gebeur die storie in ons. Swaarkry en lyding word ons vriende in die storie soos ons deel aan sy lyding. Soos Hy ons begelei in 'n proses van myself op die altaar plaas. Ook so word vreugde vervulling en heerlikheid ook deel van ons soos ons in Sy opstanding deel. Alles deur die werking van Sy Gees. Die leemte wat die aardse dood bring word gevul met 'n baie groter heerlikheid en bevryding. 

In die lig hiervan maak dit die goeie nuus ook 'n menslik moeilike boodskap om aan ander oor te dra. Menslik wil mens nie die Getsemane pad loop nie. Tog is die lyding glad nie in vergelyking aan die heerlikheid wat ook ons deel word nie. Kan ons dit glo, terwyl ons soms deur dood skaduwees gaan. Of is ons verwagting die verlossing van aardse lyding en ongemak?

Here help ons onthou as ons nou weer deur aardse uitdagings gaan. Die swaarkry gebeur dikwels juis omdat hierdie koninkryk so anders is as die aardse verwagtinge en koninkryk. Dan groei dankbaarheid en blydskap meer in ons.





Donderdag 24 Augustus 2023

Stiltetyd Matt 20:29-34 God se reaksie op behoeftes - rede vir nood

 Mat 20:29-34  Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg.  (30)  Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: "Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!"  (31)  Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: "Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!"  (32)  Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: "Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?"  (33)  Hulle sê toe vir Hom: "Here, dat ons oë oopgaan."  (34)  Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.

Hier het die Here Ja gesê! Ander kere sê U nee. Die resultaat is seker minder belangrik as die feit dat ons kan vra en gehoor word en 'n antwoord kry.

Hulle moes meer as een keer vra en amper desperaat om nie die geleentheid te mis nie. Dit bly vreemd dat 'n mens blykbaar Jesus se planne verander deur smeking. Of was dit van die begin af Sy plan in elk geval? Dalk moet mens net sê dat ons belewenis van ons nood en smeking (Paulus gee ook die opdrag aan die gemeentes om te smeek 1Tim 2:1, vir alle mense. In 1 Tim 5:5 is daar weer die weduwee wat elke dag in smeking haar hoop op God plaas, want sy het niemand anders nie, maar dit is nadat verantwoordelikheid teenoor familie verduidelik is en ook gesê word dat 'n weduwee wat uitspattig lewe dood is al lewe sy). Die opdrag vir smeking is smeking vir alle mense. Dus onselfsugtig. Daar is ook smeking vir eie nood, maar lyk asof dit net is wanneer dit werklik nodig is. In Fil 4:6 kom smeking ook soos in Tim as opdrag voor saam met voorbidding en danksegging. Dit lyk dus asof smeking sonder danksegging gevaarlik kan wees, maar werk saam met danksegging. Of smeking nou God se plan verander of nie, dit lyk my is deel van God se plan en deel van lewe. 

Die teenwoordigheid van God was deur Jesus. Vandag is die teenwoordigheid van God deur Sy Gees en dit is oral en altyd. Oorheersende realiteit! Maak nie saak of dit in ons gevoel word of nie! Dikwels is daar geen gevoel nie. Elk geval nie by my nie.

Hulle vra vir ontferming. Medelye en dan versorging en hulp. Sien - Jammer kry - genees. Dit wat Jesus dikwels gedoen het.

Alhoewel Jesus weet, vra hy wat hulle wil hê Hy moet doen. Ons word dus aangemoedig om ons verstand te gebruik in ons verhouding met Hom alhoewel Hy alles weet. En om dit in woorde om te sit.

Jesus het hulle aangeraak. Dit is geweldig persoonlik en watter vreugde as Hy Ja sê. Jy weet Hy het gesien, jammer gekry en genees. Ek is vir Hom belangrik. As God soms nee sê, maak dit geen verskil aan Sy "innig jammer kry" nie. Ek moet my herinner dat die woord INNIG waar bly. Dit word bewys deur die kruis. Ons moet waak om nie verwar te raak as dinge nie loop soos ons gereken het nie. Dan kan ons altyd terug kom na hierdie realiteit. 

Hulle reaksie was dat hulle Jesus gevolg het. Weereens is Sy liefde vir ons, nie net vir ons vertroosting nie, maar om vanuit dit 'n getuie te kan wees. Getuie wees en dien is altyd meer belangrik as enige iets hier op aarde. Weereens bevestig ons dat ons nie daartoe in staat is nie, maar dat dit Sy identiteit deur ons is, gemeng met ons gawes en persoonlikheid. My reaksie is dus 'n oorgawe met vertroue aan Hom en SY wil en soeke na Sy koninkryk en geregtigheid. Vir groei sal daar tyd hieraan spandeer moet word in stilte, maar ook tydens aardse dienswerk oral waar ons werk en beweeg en slaap en ontspan. Veral ook in lyding en dood, want daar is die getuienis nog sterker.

Om te hoor wat die Here hier sê deur die verse is dit dalk nodig om so 'n groot begeerte te hê na God se wil dat ek my wil ondergeskik maak. Ek moet weet dat Sy wil so goed en volmaak is en betroubaar. Hy wil die beste vir ons! vir ander! My wil is dikwels die struikelblok en rede tot jaloesie as 'n ander 'n ja kry en ek nie. 

Dit is nogal belangrik om te leer wanneer om vir iets met elke krag en passie en beplanning te begeer en soek en wanneer om tevrede te wees met wat ek het. Dikwels dink ek dit is om eers tevrede te wees met wat ek is en het en dan passievol te begin baklei vir iets waar ek die vreugde ken om saam met God te weet wat Hy wil. Tog wil Hy ook hoor wat ek nodig het. In my hart is 'n nee antwoord goed, want Sy wil is beter as my eie. Dit is ter wille van myself ook nodig om vir Hom dit te sê. Here nogtans nie my wil nie, maar laat U wil geskied. Ek voel nie so nie, maar ek weet dit is beter. Dankie vir U nee antwoord vandag. Wees U my vreugde ten spyte van my begeertes. Ek wil uit U leef en nie uit tydelike aardse dinge nood en prestasies. Dankie dat U my daarin begelei en leer. My seerkry is saam met U en daar is geen rede hoekom ek minder moet ly as U, die profete en martelare voor my en vandag. Gebruik my aardse seerkry as U getuienis.





Woensdag 23 Augustus 2023

Stiltetyd Matt 20:20-28 Heerser na slaaf

 Mat 20:20-28  Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra.  (21)  "Wat kan Ek vir u doen?" vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: "Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand."  (22)  Toe antwoord Jesus: "Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?" "Ons kan," antwoord hulle.  (23)  Jesus sê toe vir hulle: "Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het."  (24)  Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.  (25)  Jesus roep hulle toe nader en sê: "Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik.  (26)  Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees;  (27)  en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.  (28)  So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense."

Hierdie is een van die belangrikste kenmerke van die transformasie wat God in Sy kinders bring. Eerstens Verlore na gered. Slaaf na kind. Van buite inkom in God se gesin. Hierdie eerste onderlê alle ander transformasie. Nou in Sy koninkryk kom hierdie transformasie weg vanaf my eie goeie dade en heerskappy na onderwerping en slaaf word, maar nie onder die wet soos in die verlede nie, maar nou onder God die Vader se wil wat noodwendig uitgeleef word teenoor ander mense. Hierdie slaaf wees verander ons om eie belang en begeertes nie net ondergeskik word nie, maar heeltemal doodgemaak word. Sodat ons in 'n ander koninkryk Konings en Priesters kan wees. Dit is die proses waarin ons is en wat ons intensioneel soek.

Daar is 'n verskil om Jesus as aardse Koning oor die Jode te respekteer. (Sy het hom respekteer want het eers gewag dat Hy haar vra - volgens tradisie met respek betoon aan leiers - wat sy wil hê) en om Jesus te respekteer as God, wie Hy is in 'n heel andersoortige koninkryk. 
Alhoewel ons maar baie min van God se koninkryk verstaan, lyk dit tog dat Jesus en God op 'n ander manier kies. (arbeiders in die wingerd). Alhoewel die twaalf saam met Hom op trone sal sit (19:28) is daar nie onderskeid tussen mense in die koninkryk nie. God maak selfs mense een met Hom. Ek dink dan is daar nie meer 'n begeerte om te heers nie. Veiligheid en beskerming lê in God self, Sy teenwoordigheid in ons. Nou het ons nie meer mag nodig om veilig te wees soos 'n aardse koninkryk nie. Ons het ook nie mag nodig om iemand te wees nie. Ons soek om hierdie waarheid te kan leef. Dan kan ons al meer ander dien in vryheid.
As ek in die oggende gaan draf, leer ek die ingesteldheid aan om dit te doen ter wille van Mosambiekers, om hulle vir nog lank te kan dien. Ek is geroep deur God om ander te dien en glo dit is spesifiek Mosambiek. Ek glo Hy gebruik my daar en ek wil sover moontlik van my kant af gesond en beskikbaar wees.

As Hy sê dat hulle die lydensbeker gaan drink. Dan beteken dit seker dat, ja die fisiese lyding sal hulle kan verduur. Hulle verstaan egter nie dat dit 'n prysgee van hierdie aardse tydelike belange en heerskappy beteken nie. Hierdie "prys gee" is natuurlik gebou op die heerlikheid wat reeds in Christus aan Sy uitverkorenes gegee is. Dit vervang die afhanklikheid van dinge soos mag aansien ens.

Wat beteken slaaf wees of dienaar. Met God is ons kinders nie slawe. Dws. Die plaas behoort aan ons en ons werk nie vir 'n salaris, ons is deel van God se familie. Nou is ons steeds slawe, maar nou dien ons nie meer ons self of dinge wat die wêreld kan bied nie. Nou is ons wese nuut - alles het nuut geword - 

 (24)  Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.  
Hier kom die ou natuur na vore. Dit blyk dat die rede waarom die ander dissipels kwaad was, was omdat hulle ook graag daardie posisie naby Jesus wou inneem. Dit bring dus dadelik konflik en doelwitte vanuit menslike natuur na vore wat God se wil en doel skade aan doen. 




Dinsdag 15 Augustus 2023

Stiltetyd Matt 20:17-19 Lyding en dood en opstanding

 Mat 20:17-19  Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle:  (18)  "Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel.  (19)  Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word."

Derde lydens aankondiging. Vir die eerste keer word bygevoeg dat Hy weer sal opstaan. 
Hierdie is nie 'n boodskap wat die dissipels graag wou hoor nie. Dit is radikaal teenoor hulle eie verstaan en verwagting in. Hulle verwag 'n koninkryk waar hulle saam in mags-posisies gaan regeer en die vyande vernietig. Ek weet nie of dit weens die ingesteldheid om dit nie te wil hoor nie, maar hulle het dit ook nie gehoor nie. Tog het Jesus dit gesê. Later toe almal deur die realiteit hiervan plat geslaan was, kon Jesus hulle weer herinner en kon hulle verstaan dat dit deel van God se plan was en is. 
Baie dinge in die Bybel wil ons nie hoor nie. So wil ons nie hoor van ons sondigheid en gebrokenheid nie, maar as ons dit nie hoor nie, dan kan ons nie oorweldig word met die genade deur die kruis nie. Ons wil nie hoor van die wreedheid van die kruis en alles daar rondom nie, maar dan is ons soms sprakeloos en plat geslaan deur die wreedheid wat mense hier op aarde soms moet deurgaan. 
Op die ou end wil ek trots wees op my eie vinnige oplossings en planne, juis omdat ek nie wil hoor hoe beperk ek self is nie.
Gemeentes het dikwels baie duidelike verwagtinge en eie visie en dit kan baie keer die hoor van God se plan belemmer. Dikwels word die dood gaan in God se plan dus nie gehoor nie! Dit is dus so belangrik om God se plan af te bid en te hoor en dit ons visie en strategie te maak ten spyte van die dele wat ons nie graag wil hoor nie. Dink net wat kon gebeur het as die dissipels kon hoor, verstaan, aanvaar en daarvolgens begin lewe het.
Een van die gevare van die tyd is dat ons godsdiens vir ons begin sê dat ons goed en vol potensiaal is. Dit maak dat ons ons eie planne maak en nie heeltemal oorgee aan God nie. Sy stem hoor, Sy planne hoor en myself geheel en al onderwerp daaraan en prys gee daarvoor en eenvoudig gehoorsaam. Vreugde en vrede word gevind in God se wil en nie my eie. Die radikaliteit van God bring lewe. Iets gedoen uit myself bring dood.
Here, help ons om te hoor as U ons ook vat na die wreedhede van die kruis en in die wêreld asook in ons self. Die teleurstellings en afsterwe van die koringkorrel, in ons self is deel van U plan vir groei vreugde en vrede.

In 'n sin is hierdie ook 'n opsomming van 'n Christen se lewe. Onthou dat die groot gevolg van die werking van God is dat ons getuies sal wees en die woord beteken ook martelaar wees. Die opstanding word voorafgegaan deur 'n kruis. 

Sondag 13 Augustus 2023

Stiltetyd Matt 16:1-12

Mat 16:1-12  Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen.  (2)  Maar Hy antwoord hulle: "In die aand sê julle: 'Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;'  (3)  in die môre sê julle: 'Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.' Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie.  (4)  'n Slegte en afvallige geslag wil 'n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona." Hy het hulle daar gelaat en weggegaan.  (5)  Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem.  (6)  Jesus het vir hulle gesê: "Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs."  (7)  Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: "Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie."  (8)  Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: "Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie?  (9)  Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie?  (10)  En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie?  (11)  Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs."  (12)  Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs.

 'n Teken word gevra en nie gegee, behalwe Jona. Die verduideliking is lyk my, dat die tekens daar is, maar hulle kyk verkeerd. Ek dink hulle is onseker en wil weet of Jesus is wie hy sê Hy is. Ek het dikwels ook vir tekens gesoek en deurbrake probeer af bid en dan gewoonlik gebeur dit nie. In 'n groot mate moet ek dan ook erken dat ek verkeerd kyk. "'n bose geslag vra tekens". Miskien is 'n persoon wat deur die Gees lewe, iemand wat lewe binne 'n nuwe lewe waar alles tekens is en negatiewe gebeurtenisse nie onsekerheid bring nie, maar geleenthede. Om af te gee is reeds gedoen. As jy jou lewe afgegee het is mens nie veronderstel om dit weer te doen nie. Jou lewe is reeds weg gegee. 
Vir my is dit iets om in te groei. 
Oppas vir die suurdeeg (invloed) van Fariseërs en Sadduseërs.
Mense, veral omdat hulle deur baie gerespekteer word, kan maklik deur hulle beïnvloed word. 
Na wie kyk ons? Vang myself om belangrike en slim mense se idees makliker te vat en met hulle graagte assosieer. Dit beïnvloed my meer as wat gesond is. "wees versigtig vir die suurdeeg.
Kyk na kenmerke van Fariseërs en Sadduseërs en dan na Jesus. 
Leiers hou al die reëls so goed moontlik. Dit is 'n fokuspunt. Sal tegnies baie wette verder interpreteer

Woensdag 21 Junie 2023

Stiltetyd Matt 6:1-13 Moet nie aansien soek nie (Besig)

 Mat 6:1-13  "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.  (2)  As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.  (3)  Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,  (4)  sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.  (5)  Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.  (6)  Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.  (7)  Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.  (8)  Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.  (9)  So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;  (10)  laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.  (11)  Gee ons vandag ons daaglikse brood;  (12)  en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;  (13)  en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

1-5 Is daar 'n baie sterk aanspreek van die vermyding van "gesien te word". Gesien te word is tog om aanvaarbaar te wees tussen ander. Om nie die regte rede vir goeie dade te verstaan nie, maar goeie dade doen vir jouself. Die regte rede glo ek is liefde. Dit is ook nie gehoorsaamheid nie, want gehoorsaamheid kan ook vir jouself wees. Dit is werklik om deur die Gees gelei te word na die uitleef van God se liefde en wil, met God se doelwitte en plan. Hoe ken mens die plan van God? Dit gebeur met gedurige diep ontmoetings van aangesig tot aangesig met God. Die Vader wat skep, onderhou en red. Wie se wil is om almal te red. Die plek waar ek Hom ontmoet is op Golgota en 'n leë graf. Dit is tog waar enige kennis en ontmoeting met God begin. Daar is geen moontlikheid om dit op 'n ander manier te doen nie. Glo vergifnis en leef vergifnis. Glo liefde en leef liefde. Glo redding en leef redding. Hierdie glo is vertrou! Vat God op sy Woord. Met of sonder emosies. Onderwerp en leef so deur die Gees van God dat daar ons self nie meer plek daar het nie. "Ek leef nie meer nie, maar Christus in my". SOEK Hom. Nie jou eie voordeel nie. 

Laat U koninkryk kom. Dit gaan saam met SY wil. So besig met Sy wil dat ek my wil ondergeskik word met tyd. Wat wil God met my en jou en ons lewens doen? 

Nou word my lewe 'n soeke na God se wil vir ONS. Soek na wie die Here vir wie stuur!

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;  (10)  laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.  (11)  Gee ons vandag ons daaglikse brood;  (12)  en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;  (13)  en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.







Stiltetyd Matt 20:1-16 Dieselfde loon eerste en laaste

 Gelykenis van die werkers in die Wingerd. 

Wat die Here vir ons gee, is nie volgens wat ons verdien nie, maar slegs omdat ons in die wingerd is en werk. Dit is dus werk wat nie 'n verskil maak aan dit wat ons ontvang nie. Die enigste wat tel is of ons in die wingerd is en werk of nie. 

Mat 20:2  Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk.

Ons is aangestel met 'n doel. Daar is werk. Dit is ook nie 'n gekomparteerde werk nie, dit is ons hele lewe van 24/7. Ons lewens is ons werk.
Mat 20:4  en hy sê vir hulle: 'Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.'
So het die eienaar 'n paar keer gemaak. Op die ou end het hy iemand wat 1 uur gewerk het, 'n hele dag se loon gegee. Is dit billik? Billik beteken geregverdig kom van Griekse oorsprong van heilig. Die algemene bestaande ooreenkoms is 'n dagloon vir 'n dag se werk. 

Verwagtings in Christenskap en in ons verhouding met die Here is slegs gebou op Sy genade en dit is nie 'n transaksie van jy kry in verhouding van wat jy gee in die verhouding nie. Dit is hoekom 'n moordenaar aan die kruis dieselfde loon kry as 'n lewenslange toegewyde en hard werkende kind van die Here. 

Ons getuienis taak het geen verband met ons hemelse beloning nie. Die beloning is eers vas gemaak en toe begin die werk.

Wat ons werk op aarde betref, is dit dikwels dat hulle wat die getrouste is (volgens ons standaarde) die mense wat die swaarste kry en meeste seerkry en ly. Tog is daar niks op aarde wat jou vreugde van jou kan weg neem nie. Noem maar op!

Here dit is so moeilik om met 'n aardse manier van dink ons motivering om ALLES prys te gee nie te bou op wat ons gaan ontvang nie. Bou in ons 'n liefde vir die Koninkryk en vir die ALMAL op die aarde deur U Gees as vrug van die Gees en begelei ons op die pad om dit al meer ons motivering te maak. 

Kant opmerking: Ons liefde vir God is ingebed in ons liefde vir die wêreld. Dit is dieselfde ding?! Dit is geloof in die realiteit van die aarde. Dalk kan ons glad nie God lief hê sonder die aarde nie. Liefde sonder doen is nie moontlik nie. Liefde kom van God en vloei uit na die aarde en sy mense. Ek glo dit is 'n proses sonder verwagtinge, maar slegs 'n diep Goddelike begeerte wat deur ons gebeur. Sonder verwagting, maar diep vreugde van elke kleinste van kleinste reaksie van mense uit liefde vir die koninkryk. Onverdiende vervulde ewige lewe wat nou reeds begin. Vreugde is op grond van groei van ander! (Engele wat juig oor 'n sondaar wat hom bekeer). Juis omdat ons fokus op die koninkryk is en nie op ons self.

Ook goed om te sien dat dit in 'n aardse konteks gebeur. Werkers in wingerde is die konteks, dit is die leefwêreld van die mense vir wie dit vertel word. Om elke loot toegewy en korrek te snoei, elke onkruid uit te haal en 'n wingerd in liefde te ontwikkel. Wat hulle het is die grond, lug, gehoor, sig, gevoel, verstand, gesondheid, ens ens. Om dit alles so goed moontlik deur harde werk deel te maak van die diens aan die Eienaar. Ons vreugde word al meer die wingerd en nie wat ons ontvang.

Mat 20:15-16  Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?'  (16)  So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste."

Wat maak dat ons nie bly is as iemand anders, meer as ons, iets goeds ontvang nie? Laat dink my aan die verlore seun se terugkeer en die ouer broer.
Here laat U Gees in ons 'n gesindheid skep van voordeel soek vir ander en nie vir ons self. Dat ons vreugde vind in redding en voorspoed van ander ten spyte van my pyn en lyding. Dat ons hierdie vreugde in ons huwelike of intieme verhoudinge kan soek en laat groei. Vergewe ons ons afguns en oral waar ons ons eie belang belangriker maak as ander.

Die gesindheid dat ons kry wat ons nie verdien nie en die wete van my gebroke geaardheid wat niks verdien nie, dink ek moet die basis van ons lewens wees. Dit maak dat genade ALTYD hierdie ongelooflike beginpunt van alles is. Dat ons vreugde buite ons self is. Moderne denke en sielkunde lyk dit vir my wil dit andersom doen. Hulle wil mense help om vreugde in hulleself te vind en daarom moet mense altyd bewus gemaak word van al die goedheid in hulle en dan daarop bou. Dit is dan dat daar met alle mag nooit verwys mag word van die negatiewe in mense nie. Ons het egter nodig om bewus te wees van ons sondigheid om die vreugde van genade buite ons self te vind (alhoewel die Gees waardeur dit na ons kom wel binne ons is, maar nie in ons mens wees en ou natuur nie).

Here help ons om nie ons identiteit in ons self en eie prestasies te vind nie, maar altyd in U en vreeslik dankie vir die genade in Jesus Christus die gekruisigde wie se bloed ons skoon was van ons skuld en so die fondasie van ons lewe en werk word. Vergewe enige trots in ons al werk ons al die hele dag.

As ander se voordeel jou fokus is, maak dit nie sin om ander te oordeel nie. Oordeel is van 'n ingesteldheid van meer en bo iemand anders te wees, maar diens of hulp (wat ook soms blinde kolle of sonde uitwys) kom van onder. Dit is dan ook die gesindheid wat ons soek deur die Gees vir huwelike, en dan ook vir klein groepe en gesinne.

Een van die struikelblokke is die eie stryd. Ek reken dat daar nie 'n mens is sonder uitdagings nie. Daar is vir elke mense moeilike omstandighede, mense, skaamtes, of wat ook al om te hanteer. Dikwels dink ons dat myne groter is as anders sin. Daar is baie persepsies oor die stryd. Dit is goed om te besef dat almal dit het. Dit gaan dus nie of jy dit het nie, maar hoe jy daaroor dink en daarop reageer. Ons weet dit is nodig vir groei. In my eie lewe sien ek dat my stryd met Christus groei bring of my stryd vanuit aardse perspektief vernietiging bring. Christus maak dat ek my stryd omhels en dit my vennoot maak. Ek hou nie van die vennoot nie, maar saam bou ons 'n koninkryk wat nie ons eie is nie. Daar is aspekte van die stryd wat ek seker sal hê tot ek dood gaan, en in Jesus werk ek daaraan dat dit my nie vernietig nie, maar bou. Ek aanvaar wat die Here nie in my verander nie. Sy wil is beter as myne. Ek bly stry en maak dit nie my fokus nie, maar leer om Sy koninkryk die fokus te maak en dan kom die stryd ook in die perspektief waar dit moet wees. Dit help my werklik om te weet hoe afhanklik ek is van God. Dit help my om in myself te sterf. Dit help my om fokus op Sy geregtigheid te hou. Dit help my om fokus op die koninkryk te hou. Deur Sy Gees werk dit aan my trots en bring 'n nederige sagte gees in my veral teenoor ander. Soms gebeur daar wonderwerke en gedeeltes van die stryd word 'n oorwinning, veral as dit vir die mense om jou groei bring. (Oorwinnings waar dit net vir jouself bevoordeel, word asof dit nie meer oorwinnings is nie, jy verloor daardie vennoot). Nou bring dit 'n ander stryd en dit is volharding in wat ek geleer het toe daardie deel van die stryd nog bestaan het. So stadigaan word my laaste wees en ander se eerste wees vir my voordelig. As my eie natuur en begeertes en sondigheid en ander mense se skaamte seer en swaarkry en verlorenheid my opponent is dan stry ons vir fokus op Sy geregtigheid en koninkryk en die res is in Sy hande. As my opponent 'n ander mens is, dan is dit meestal beter om menslik gesproke te verloor as om te wen. Jy wen dus deur menslik gesproke te verloor. Soms in klein goedjies. Ek het soms in 'n gesprek 'n beter storie op te vertel as die storie wat vertel word. As ek reg kry om nou nie die beter storie te vertel nie, maar vreugde te vind in die ander se storie, dan het ek van die eer verloor wat ek kon hê, maar ek het die vreugde van oorwinning deur die ander se vreugde groter te maak. 

As ons die Here se vreugde soek, dink ek, is dit beter om dit nie te soek in wat Hy vir jou doen nie. Dit is baie beperk en tydelik. Ek wil amper so ver gaan om te sê dat dit vermy moet word om vreugde in jou eie voordele te soek. Dit moet al hoe minder word. Daardie vreugde kan op die langer duur negatief wees. As daardie omstandighede verdwyn, dan verdwyn die vreugde en ons sit dan nog met teleurstellings ook. Nee, soek jou vreugde eerder in die Here self. Sy goedheid en wysheid en wat Hy vir ander en vir jou vyande doen. Sy koninkryk en mag oor die bose en gebrokenheid in die wêreld. Sy genade en vergifnis van ander. In ons lofprysing, loof ons Hom in die eerste plek vir sy betrokkenheid in ander gebroke mense se lewens en die gevolg is dat ons vreugde vind in verlossing van ander en so ook in verlossing en bevryding van ons self. 

As ons dus laaste is en bewus is van ons onverdienste, dan is ons eerste. As ons iets probeer verdien, sal ons laaste wees in Sy koninkryk?
Daar is 'n onbeperktheid in wat die eienaar kan gee. Tog gee Hy volgens sy goedheid nie vir almal alles wat hulle reken hulle nodig het nie. Dit laat my dink aan hoeveel mense mens die goeie boodskap baie gebroke probeer oordra en hoe min daar werklik reageer en oop is. Hoeveel werklik soek. Die wat soek is gewoonlik in hoë spanning en op die einde van sy tou. Hoe om te soek vir hulle wat soek? Oop te wees vir die soekendes tussen die ander. Die persoon nie die skare. 

Maandag 12 Junie 2023

Stiltetyd Matt 19:16-30

 Mat 19:16-30  Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: "Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"  (17)  Hy het vir hom gesê: "Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie."  (18)  "Watter gebooie bedoel u?" het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: "Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,  (19)  eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself."  (20)  "Dit alles het ek nagekom," het die jongman gesê. "In watter opsig skiet ek nog te kort?"  (21)  Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."  (22)  Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.  (23)  Jesus het toe vir sy dissipels gesê: "Dit verseker Ek julle: 'n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom.  (24)  Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom."  (25)  Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: "Wie kan dan gered word?"  (26)  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik."  (27)  Toe sê Petrus vir Hom: "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?"  (28)  Jesus antwoord hulle: "Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.  (29)  En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.  (30)  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste."

16 Deur die eeue is dit die vraag vir Jesus. Wat moet ek doen. Hier selfs vereenvoudig tot een daad. NV sê watter goeie ding moet ek doen. 
(17)  Hy het vir hom gesê: "Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie."
Hier redigeer Jesus sy vraag en manier van dink. Dit is nie wat jy doen wat maak dat jy goed of sleg is nie. Jy gaan dit nie op die aarde so reg kry nie. Daar is net 'n een persoon wat goed is. Hy sê dus dat hy nie sal goed word deur 'n daad te doen nie. Daar is 'n goedheid wat die mens nie kan kry deur goeie dade nie. Dit kom slegs van God af. Ons neig soveel keer om aan dade en goed doen te dink. Ons wil die ewige lewe verdien. 
Die betekenis van MAAR, ek sal wel jou vraag antwoord as jy dit met doen wil doen. Nou word die een daad gebooie. Alhoewel jy nie dit gaan reg kry om die ewige lewe te kry deur die dade nie, sal ek vir jou sê wat jy moet doen as jy dit wil reg kry. Dit wil sê dat as jy dit reg kry om alles te onderhou, is dit moontlik. Daar is nou nog mense wat glo jy kan dit reg kry. Dit is nogal 'n groot skuif in menslike denke om van so 'n manier van dink te verander na goedheid wat in God is en nie in jouself nie. Jy ontvang goedheid van buite jouself en nie uit eie inspanning. "Daar is net een wat goed is" My sleg wees vat dan nie die goed wees wat ek gekry het weg nie. 
As ons dus strewe om goed te wees, maar uit vertroue op ons self, dan gaan ons dalk sekere goed reg kry, maar ek gaan verder van God beweeg en op die ou end boser invloed op ander hê as voorheen deur ons goeie dade, want nou word dit voorgee van goed wees uit ons self. Dit is soos die fariseërs en baie kerk mense val ook in die gat. Wanneer ek egter soek na God se goedheid, gaan daar wel outentieke goeie dade begin ontwikkel in my, maar ek sal nooit daarop kan staat maak nie. Ek maak nét staat op die enigste een wat goed is. Hierdie goedheid se grootste eienskap is dat dit goedheid wil bring vir ander. Dit wil sê ontvang goedheid met die uitsluitlike doel om dit uit te leef teenoor ander. Is goedheid dan moontlik? 
(26)  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik."
Hier word dit ook duidelik dat goedheid nie van mens kom nie, want vir die mens is dit onmoontlik. 
 (18)  "Watter gebooie bedoel u?" het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: "Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,  (19)  eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
As Jesus dan die gebooie opsom dan selekteer Hy van die 10 gebooie 'n paar gebooie. Vier goed wat jy nie mag doen nie en een uit die 10 gebooie wat jy moet doen nl eerbied aan Vader en Moeder en dan voeg Hy die liefdesgebod teenoor jou naaste by. Dit is volgens my interpretasie die gevolge van God se goedheid in ons wat ons soek en kry deur Jesus.
(20)  "Dit alles het ek nagekom," het die jongman gesê. "In watter opsig skiet ek nog te kort?"  (21)  Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."  (22)  Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 
Hier word gewys dat die implikasies van liefde vir jou naaste te groot word vir 'n goeie mens om dit uit te leef. Iewers gaan jy kom by die punt wat jy teleurgesteld omdraai, want maak nie saak hoe graag jy die ewige lewe wil hê nie, sal daar altyd 'n punt kom waar jy dit nie maak nie. Volmaaktheid kom nie uit die mens nie.
(26)  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." Die reguit aankyk of "Stip na hulle gekyk", wil vir my sê dat Jesus iets spesiaals wil sê. Ook dat hulle dit in Hom moet sien. Dit is asof die Here wil sê dat ons uit die menslik onmoontlike moet beweeg in 'n lewe van die moontlikhede wat God gee. Worstel met die Here oor wat Hy in jou begin. Maak seker dit is nie iets wat uit jou eie selfsug of wil kom nie. Worstel tot jy weet wat Hy wil. Doen dan dit wat menslik onmoontlik is, want Hy doen dit. Laat U wil geskied en laat U koninkryk kom!
(27)  Toe sê Petrus vir Hom: "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?"
Hier kom die soeke na die doel van alles vir die dissipels. Hulle wil darem iets kry uit hierdie verhouding en diens aan Jesus. Jesus bevestig dat hulle sal dit alles kry in 'n nuwe bedeling. Tog bly Sy fokus by die prys gee van self in hierdie bedeling:
(30)  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste."
In hierdie bedeling lê ons koningskap in laaste wees. Die prys gee van self. In dit doen ons die Wil van God. Iets wat ons persoonlik by Hom gehoor het vir ons gawes en omstandighede. Dit gaan altyd gepaard met opoffering van wat ek het en myself. As daar niks oor is nie, dan is ek vry en bestuur ek wat Hy onder my beheer geplaas het. Selfs al het jy baie gawes en baie aardse rykdom, is dit nie meer joune nie. Dit is dus self vernietigend en spanningsvol. 'n Spanning agv die liefde vir die wêreld. Tog vry en vreugdevol. 
Spanning daarvan om alle mense in God se liefde in te sluit en alle boosheid met goedheid en wysheid uit te werk. Dit vanuit 'n menslik onmoontlike verhouding, die verhouding van 'n sondaar mens met 'n heilige almagtige God dmv SY liefde. 

Dinsdag 06 Junie 2023

Stiltetyd Matt 19:12-15 Soos 'n kind. Jouself prysgee.

 Mat 19:13-15  Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas.  (14)  Maar Jesus het gesê: "Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle."  (15)  Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.

Kinders is NB. Ontwikkeling van menswees vind plaas by kinders. Wetenskaplik bewys -9maande tot 2 jaar die heel vinnigste. Dan van 2-5 en dan deur baie fases van implimentering. Dit is die vorming van nasies wat God dien. 
Die "koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle" Hierdie woorde lyk my sê ook dat mense wat met 'n kind se min wees posisie leef, juis hulle is aan wie die koninkryk behoort. 
As volwasse mens kan mens nie sonder identiteit leef nie. As identiteit is om iemand te wees, beteken dit mos ook om iewers te behoort. Baie vinnig begin mens 'n gedrag aankweek om juis te kan behoort. Soms godsdienstigheid of netheid in huis en kinders wat presteer, 'n huis en vervoermiddel en 'n glimlag in 'n huwelik ens, want ander moet sien dat die huwelik werk. Daar word 'n soort van status gebou waarop mens se menswees gebou word. Die trots kan dalk ook in 'n gedrag van nederigheid gebou word. Of op 'n gedrag van omgee vir bedelaars of diere, of enige ander goeie dade van gehoorsaamheid aan God of wette ens. 
Ek dink in die Bybelse konteks word kind wees gekoppel daaraan dat jy juis die soort van behoort en status aflê en die posisie van 'n kind in die samelewing aanvaar. Die geheim van weggee van jouself om God se grootheid juis daarin te vind, is vreemd in moderne kulture. Dit is juis hierin waarin God se heerlikheid sigbaar word en mens jouself weg gee. 
Iemand wat God se prysgee lewe, kry 'n nuwe identiteit wat nie uit jou as mens kom nie. Daardie identiteit word outomaties 'n leier in die gemeenskap en het 'n geweldige invloed op die mense naby aan hom/haar. Geen menslike offer of lyding (want dit is noodwendig dat jy nie inpas in die kultuur nie) word te groot nie. Daar is 'n totale strewe en soeke na die prysgee van self en leef in Godgegewe gawes vir die koninkryk. Koninkryk is vir God en die geringstes en vyande. Daar is 'n groot oorgawe element in die soeke, onderwerping aan God dat Hy die lewe sal lei met Sy gawes in jou as persoon. Dit is ook 'n oorgawe aan groter "ons" wees op verskillende vlakke. 
Mat 6:11-13  Gee ons vandag ons daaglikse brood;  (12)  en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;  (13)  en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Die ons wees, is ook deel van die aflê van die ek wees en soos 'n kind te wees. "mense soos hulle" In 'n groep, moet almal 'n stukkie prys gee om die ons visie groter te maak as die ek visie. 
Die gedeelte is in verband met die vorige opdrag om soos kinders te wees in Matt 15. Die byvoeging hier veral is die tyd wat met kinders gespandeer word. Hulle seën en vir hulle bid en interaksie met hulle te hê. Die moeilike woord van ons tyd. Tyd met kinders spandeer en dit intensioneel doen ter wille van hulle vorming. Die mees effektiewe manier om 'n gemeenskap te help groei met Christus waardes na Hom toe en so 'n voorspoed vreugde en bevrydende gemeenskap te vorm. 'n Nuwe ONS wees.
Wat is die verskil daarin om die waarheid of opdrag van aflê van jouself uit te voer aan die een kant en om jouself af te gee omdat jy Jesus ken en Hom volg en soos Hy word? Is daar 'n verskil? Die een dink ek kom van jouself en die ander kom van die Gees van God in jou. Die "omdat jy Jesus ken" is ook intensioneel, maar anders.
Jy raak in ieder geval iemand wat baie min waarde aan gemak gee. Jy beweeg baie maklik in seerkry en ongemak in ter wille van ander. Juis omdat jy Hom ken en mens word soos jou gelowige vriende in samewerking met 'n gesonde logiese verstand om te onderskei wat goed is en wat nie. Wanneer jy egter met jou naaste vriend te doen het, dan is die interaksie uit wie Hy is, altyd goed al het jou gedagtes redes om dit nie so te beleef nie. In die proses vorm Hy jou gedagtes. Hy spandeer tyd met kinders en seën hulle. 
Die behoort raak ook 'n behoort aan Hom en dus 'n punt word waar ander die geleentheid kry om ook aan Hom te behoort. Nuwe identiteit as leier in die gemeenskap. Almal moet behoort, maar nie aan kultuur nie, aan Hom. Dit is bevrydend vreugdevol, opofferend, vol botsing en seer en vol grootheid en behoort en vervulling. Vol avontuur en LEWE. Risikos trane en totale vry lag. Jy word regtig "crazy" anders. Jy kry die menslike status van 'n kind, wat ooreenstem met ons nuwe mens deur Christus en gelei deur die Gees van God. Die volwasse status word afgelê. Jy word volwasse slegs in Christus.
Here, ek is nog te veel besoedel met hierdie aarde, sonde, godsdiens en  kultuur giere. Soveel goed wat U beeld in my afbreek. Vergewe ons. Gee asb dat al die seerkry en hartseer en trane goed deur U gebruik sal word om dit af te lê, want ek wil graag 'n goeie getuie van U wees. Dankie dat U reeds Uself met ons gedeel het en van binne wel ten spyte van my besig is om die nuwe lewe in ons te implementeer. Gee asb dat die proses nie in 'n groef sal val nie, maar altyd verrassend sal bly groei. Nie ter wille van ons nie, maar ter wille van U getuie en soveel wat dit so nodig het. 




Mangalwadi about Charlie Kirk

  To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...