Mat 18:15-20 As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. (16) Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. (17) En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel. (18) Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. (19) Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, (20) want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle."
As mens dus praat oor wat maak die verskil tussen die "gemeente" en heiden en tollenaar, dan is dit seker die navolgers van Jesus en die Heidene. Dikwels is dit in daardie tyd verbind daaraan of jy 'n Jood was of nie. Vir Jesus glo ek gaan dit oor navolgers van Hom en hulle wat Hom verwerp.
Vandag bring dit die verskil tussen denominasies en die ware kerk wees na vore. Op die ou end dink ek die ware kerk wees beginsels moet die basis wees vir hierdie beginsel van tug. Dit staan altyd bo enige kerk se kerkreg. Die kerkreg is 'n skadubeeld van die werklike realiteit. Die algemene Kerk se kerkreg is nie reëls en regulasies nie, maar dood eenvoudig hulle wat Jesus as verlosser het en hulle wat dit nie het nie.
Dit is duidelik dat indien jy Jesus volg, dit 'n lewensverandering tot gevolg het. Indien nie, word iemand nie sommer net as Heiden verloor nie. Daar word alle pogings moontlik aangewend om so 'n persoon te help om weer deur Jesus self verander te word en te groei. Ek glo dat selfs deur 'n persoon as heiden te behandel, is ook ter wille van die persoon. Die persoon word dus seker nou 'n objek van evangelisasie en voorbidding.
Dit lyk dus asof volgelinge van Jesus 'n verantwoordelikheid aanvaar vir mede gelowiges asook die hele wêreld. Dit is 'n menslik onmoontlike taak, maar vanuit Jesus en Sy Gees wat later uitgestort is, word dit 'n Goddelike proses wat deur gelowiges plaasvind. Dit word onselfsugtig gedryf deur liefde en dus ware medelye. Dit is die kenmerk van 'n kind van God.
As ek self afdwaal sal ek verskriklik dankbaar wees vir mense wat my weer terug bring. Dalk nie in daardie oomblik nie, maar tog wel as ek weer in Jesus se genade en redding staan.
Here skep in my gedryf deur U liefde, die afhanklikheid van genade en medelye vir my broers en ook vir hulle buite U koninkryk.
18-20 Ek glo die gedeelte moet gesien word in die lig van die tug proses. As dit wyer gesien word raak dit moeiliker om te interpreteer.
As ek iemand tereg wys omdat hy gesondig het (teenoor my vers 15) en hy nie luister nie, nie vir jou of jou broers of die groter gemeenskap van gelowiges nie, dan hanteer jy hom as heiden en tollenaar. Dan sluit jy hom uit. Daar word dus 'n gesag aan die gemeenskap van gelowiges gegee wat in die Hemel geldig is om in te sluit of uit te sluit.
Baie apostels en Jesus self word deur die Joodse sinagoge uitgewerp omdat hulle "God met Jesus vervang" Tog was die wetsgehoorsame sinagoge gemeenskap verkeerd in hulle oordeel. Daarom, wanneer hier van gemeente gepraat word, glo ek is dit die Jesus navolgers. Dit is dus belangrik om hier baie duidelik te kan onderskei tussen sinagoge en gemeente. Daar is verskeie verskille waarvan Jesus die kern is, maar ook dinge soos hiërargie, klem skuiwe, maak deel uit van verskil. Jode se klem op die onderhouding van die wette, reëls en regulasies en die klem by die gemeente om mekaar te dien en so baie streng met tug ook mekaar te help. Dalk strenger as die Jode, maar heeltemal vanuit 'n liefde en diensbaarheid as motivering. Jesus en die fokus op hom maak die gemeente heeltemal anders as die sinagoge.
Binne hierdie gemeente is daar nou die geweldige verantwoordelikheid oor insluit en uitsluit gelê. Ons as mense is gebroke sondaars en daarom is 'n paar beginsels hier belangrik. Onderwerping aan God en Sy wil. Verhouding en kommunikasie tussen gelowiges en God is ook krities belangrik. (Die klem hier ook dat daar nie onderskeid gemaak word tussen wat die Here vir kleintjies en leiers sê nie. Hy praat met almal en daarom is konsensus besluite tussen hulle dus moontlik. Dit is nie so duidelik nie, maar klink vir my asof mens nie stem oor iets nie, maar praat tot almal God se wil ontdek het en die wat anders voel, bereid is om ondergeskik te wees aan die gemeente en dus ook aan God se wil.) As iemand dus afdwaal, sal die res van die gemeente daardie persoon nooit los waar hy/sy is nie. Hulle sal eerder hulle lewe as losprys wil gee om daardie een terug te bring. Ons help mekaar deur die werking van die Heilige Gees om by hierdie beginsels te bly. Daar is seker heelwat ander, soos vrygewigheid ens. Die eerste gemeentes en wat daar gebeur wys ons duidelik daarop.
In 'n gemeente soos die, word dit moontlik om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar. Die eerste gemeentes het in die tyd na die uitstorting van die Heilige Gees wel hierdie beginsels geleef.
Here, vergewe my dat ek mense se foute uitwys sonder die bereidheid om myself as losprys te gee en dus hulle skuld op my te vat. Op die manier dien ek nie, maar veroordeel ek direk teen U bevel in om nie te oordeel nie. Vergewe my.
Ek wil U Heilige Gees vra om in my hart die vrug van die Gees te gee en dus 'n ware aanspreek van my naaste moontlik maak. Dat U onveroordeeld ander dien met wat heling en genesing bring ten spyte van seer prosesse. Totaal ter wille van die kerk. U het reeds in my 'n begeerte geplaas om te kan help. Ek kan nie net toekyk dat ander weg dwaal van U Jesus die gekruisigde nie. My pogings is baie besoedel met my eie belange en begeertes, daarom wil ek weer myself oorgee aan U proses. Here hoe wil U my gebroke mens gebruik hierin? Hier is ek as U my wil stuur na Brackenfell gemeente. Ek kan nie, maar U ken. U gesag lewe in ons as gebroke gelowiges, want U hart en medelye is die basis daarvan. Dankie Here. U is saam in die gebed al is ons soms net 2-3.
20 Die gemeenskap van gelowiges kan dus slegs 2 of 3 mense wees. Die vraag is egter: Is Hy nie in elk geval by jou nie? As ek iewers met my Pa in die Hemel wil gesels kan ek mos enige tyd en ek weet Hy woon dan in my.
Die vraag kan ek nie heeltemal antwoord nie, maar daar is wel 'n baie belangrike aspek wat na vore kom en dit is dat in ons konneksie met mekaar sien ons God en kan ons amper sê raak ons aan mekaar. As mense mekaar in die oë kyk dan is daar 'n spesiale sien voel en beleef van God in ons midde wat mens nie kan hê as jy alleen is nie. Ek dink nie noodwendig sentimenteel of in die sin van romanties nie. Intimiteit wel en dink net daaraan. Ons vreeslik ingewikkelde en bo menslike verstaan, breine kan dikwels een rigting ontwikkel as mens alleen is, maar gekonfronteer met ander se denke en mens wees word dit verander. Dit gebeur met God alleen, maar baie effektiewer as mens dit bots en deel met ander. Dit klink vir my dat mens so gemaak is om in die harde wêreld van koinonia te ontwikkel en gevorm word. God verander nooit, dit is ons wat verander. Dit deel 'n ander mens of mense met jou. Studies op jou eie kan jou baie laat lees en leer, maar dit voel betekenisloos as dit nie gedeel word en ander ook ontdekkings te deel.
Dit gebeur net as die byeenkoms in Sy naam is. Mens kan in baie ander name saam kom, maar as daar nie 'n groter naam agter daardie naam is nie, dan is die fokus nie waar dit sinvol is nie. Sonder Sy naam is enige byeenkoms nie lewe gewend nie. Jesus is die weg die waarheid en die LEWE.
Here, ek het nie genoeg fokus op mense by wie ek verhouding aanpassing en groei deel nie. Ek praat maklik dissipelskap, maar leef dit nie genoeg in die praktyk nie.
Ek moet meer dink aan die klein groepe waaraan ek behoort. Hoe leer ons mekaar om belang te stel in die ander. Kan ons een vir een af gaan in die lys en vertel waarmee daardie persoon nou besig is en wat die Here nou in Sy lewe doen. Wat is sy uitdagings en mislukkings en wat wil hy bereik en waaraan werk hy/of sy nou aan. ens. Dalk elkeen uitdaag om vir 2 maande by 'n ander persoon uit te kom, te bid vir daardie persoon hom/haar leer ken in alles wat daardie persoon bereid is om te deel en teen die einde van die 2 maande kyk of daar verbintenisse is om te maak teenoor daardie persoon of nie. Dit sal my ook help om dit te doen. Hopelik 'n fokus op ander se lewe sodat minder oor myself en hoe ek oor kom na ander te fokus. Ook om te oefen om soms in ongemak in te gaan as iemand my besoek. Die soort van oefening is volgens wat ek lees baie belangrik vir groei. Die Bybel is vol verhoudings woorde baie dieper betekenis het as wat mens uit die betekenis wat jou kultuur vir jou gee aan daardie woorde. Ons Westerse kultuur is baie individualisties as mens dit met ander kulture vergelyk. Ook in vergelyking met die Joodse kultuur in die Bybel.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking