Volg die inskrywings van die blog

Dinsdag 29 Augustus 2023

Stiltetyd Matt 21:1-11 Andersoortige Koninkryk

 Mat 21:1-11  Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur  (2)  en vir hulle gesê: "Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.  (3)  En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur."  (4)  Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:  (5)  "Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op die vul van 'n pakdier."  (6)  Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het.  (7)  Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim.  (8)  Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi.  (9)  Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: "Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!"  (10)  Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: "Wie is hierdie man?"  (11)  Die skare het geantwoord: "Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!"

Voel amper na ironie, as dit wat die mense verwag en voor sing 'n aardse koninkryk is en hier is Jesus wat 'n geheel anderse koninkryk verteenwoordig. Die donkie en die nederige houding word lyk my nie raak gesien nie. 
Mense verwag dat Jesus hulle behoeftes en nood gaan verlig en van onderdrukking sal bevry. Hulle kyk dus na wat Jesus met hulle beeld van Sy koningskap vir hulle gaan kom doen. Die bevryding en vrede van wat 'n aardse koning kan doen is nie uitgesluit nie, maar hulle verstaan nie dat dit die gevolg is van die ware andersoortige koninkryk wat in harte begin nie. Dit lyk my het vir hulle op daardie stadium (soos later bevestig is deur dissipels se verwagting) gegaan oor die uiterlike koningskap soos met Dawid. Dit in vergelyking met wat Dawid gedoen het. Jesus staan egter vir die prysgee van self en sy volgelinge loop dieselfde pad sodat God verheerlik mag word in SY reddende handelinge met die wêreld. 
Voor jou bekering, moet jy die lewe ontvang (ewige lewe) en na jou bekering gee jy jouself daarvoor en haat jy jou eie lewe in 'n sekere sin. Jou eie lewe staan so in die pad van die heerlikheid. Die weg gee van jouself word die gevolg van die nuwe lewe. Ek dink dat die verskil in mense se verwagtinge en God se koninkryk lê juis daarin dat hulle dit verwag vir hulle aardse lewe en Jesus kom om die aardse lewe met 'n ander beter lewe te vervang. Dit het dan die gevolg dat die aardse lewe en natuur ook bevry word. 
Dit lyk soms dat baie kerk mense nog steeds soek na gemaklike goeie lewens waar Jesus aardse behoeftes kom vervul. Daarvoor lê hulle hul klere op die donkie en gaan pluk hulle takke en gooi dit voor hom in hulle lofliedere ens. Die woord Hossana is nie lofprysing maar noodroep "verlos ons tog". Dit is erg om te dink dat verlossing gesoek word, maar nie ware innerlike verlossing van jouself nie, maar slegs van verdrukkers van buite. Die probleem is dat die wat hierdie lewe soek, dit gaan verloor, terwyl die wat hierdie lewe haat en dit aflê juis hulle is wat die lewe kry. Nou is die lewe Christus en jou vreugde God se wil om die wêreld te red en jy soek nie daardie voordele nie, maar in die weg gee van self begin die ware lewe in jou vorm aanneem. Die ware realiteit is dat dit dan die enigste lewe is, die res ly tot die dood.
Die belangrike ding is die vraag  "Wie is hierdie man?" As ek hierdie Jesus net 'n klein bietjie reg kan identifiseer, dan sien ek 'n donkie, en sien ek 'n dienaar of slaaf en en sien ek prys gee van self en dan sien ek die ware heerlikheid van 'n God as Vader. Dan word my eie behoeftes my vyand. (Dit is  die duiwel wat my mislei na myself.) Dan wil ek nie meer lewe nie, maar leef Christus in my 'n ander lewe.
Die antwoord dat Jesus 'n profeet is, wys dat hulle Hom net sien as 'n mens. Dit skep dadelik afstand tussen God en mens. Hulle sien nie God by hulle nie, maar sien net die potensiaal van 'n Dawid tipe aardse koning. Die man wat hulle kan vertrou om vir hulle as volk weer aansien rykdom en aardse vrede te bring. Nou kan ons as volk weer iemand wees hier op aarde. Dit is 'n diep menslike behoefte wat dan bevredig word. Om raak gesien en geëer te word. 
Interessant dat dit is hoe liefde dikwels gesien word. Om vir mense aansien aandag en eer te gee en hulle aardse behoeftes te bevredig. Die besef kom egter by jou op dat dit nie die ware behoefte van mense nie. Die ware behoefte is meer in die lyn van verlossing vrede vergifnis wat maak dat deur harde werk en martelaarskap (getuie wees, in Grieks beteken martelaar wees) weg te beweeg van eie begeertes en drange na 'n nuwe vervullende weg gee lewe van getuienis. Nie as individu nie, maar 'n kerk wat dit dit bely en lewe. Die volle ontvang van God se genade en identifiseer daarmee en dan die vervulling in die lewe daarvan uit dankbaarheid. Soveel anders as die menslike behoefte en verwagting.

Dit moes 'n wrede ontnugtering gewees het toe hierdie verwagting van 'n aardse koning vernietig is met Jesus wat sterf aan 'n vloekhout as veroordeelde. As ek dink hoe sy naaste vriende, familie en dissipels hierdie belewenis moes deurgaan. Tog laat dit my dink daaraan dat ons dit ook dikwels moet deurgaan, want ons neig ook na aardse verwagtinge en het dikwels 'n gemaklike christenskap as prentjie in ons kop. Dit is 'n moeilike prysgee verandering van denke wat gebeur met voortdurende bekering. Oorgee van my wil na SY wil wat my as offer gebruik om groter bevryding te doen in my en ander. Groter bevryding as aardse vryheid. Jesus se storie van donkie, verwerping deur mense, valse veroordeling (in ons geval soms ware veroordeling) dood en lyding wat 'n opstanding en heerlikheid voorafgaan. Dit wat in ons daaglikse bekering besig is om deur die werking van SY gees in ons gebeur. Ons storie word in daardie storie ingebed. Deur 'n verhouding met God, gebeur die storie in ons. Swaarkry en lyding word ons vriende in die storie soos ons deel aan sy lyding. Soos Hy ons begelei in 'n proses van myself op die altaar plaas. Ook so word vreugde vervulling en heerlikheid ook deel van ons soos ons in Sy opstanding deel. Alles deur die werking van Sy Gees. Die leemte wat die aardse dood bring word gevul met 'n baie groter heerlikheid en bevryding. 

In die lig hiervan maak dit die goeie nuus ook 'n menslik moeilike boodskap om aan ander oor te dra. Menslik wil mens nie die Getsemane pad loop nie. Tog is die lyding glad nie in vergelyking aan die heerlikheid wat ook ons deel word nie. Kan ons dit glo, terwyl ons soms deur dood skaduwees gaan. Of is ons verwagting die verlossing van aardse lyding en ongemak?

Here help ons onthou as ons nou weer deur aardse uitdagings gaan. Die swaarkry gebeur dikwels juis omdat hierdie koninkryk so anders is as die aardse verwagtinge en koninkryk. Dan groei dankbaarheid en blydskap meer in ons.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Mangalwadi about Charlie Kirk

  To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...