Volg die inskrywings van die blog

Dinsdag 15 Augustus 2023

Stiltetyd Matt 20:17-19 Lyding en dood en opstanding

 Mat 20:17-19  Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle:  (18)  "Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel.  (19)  Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word."

Derde lydens aankondiging. Vir die eerste keer word bygevoeg dat Hy weer sal opstaan. 
Hierdie is nie 'n boodskap wat die dissipels graag wou hoor nie. Dit is radikaal teenoor hulle eie verstaan en verwagting in. Hulle verwag 'n koninkryk waar hulle saam in mags-posisies gaan regeer en die vyande vernietig. Ek weet nie of dit weens die ingesteldheid om dit nie te wil hoor nie, maar hulle het dit ook nie gehoor nie. Tog het Jesus dit gesê. Later toe almal deur die realiteit hiervan plat geslaan was, kon Jesus hulle weer herinner en kon hulle verstaan dat dit deel van God se plan was en is. 
Baie dinge in die Bybel wil ons nie hoor nie. So wil ons nie hoor van ons sondigheid en gebrokenheid nie, maar as ons dit nie hoor nie, dan kan ons nie oorweldig word met die genade deur die kruis nie. Ons wil nie hoor van die wreedheid van die kruis en alles daar rondom nie, maar dan is ons soms sprakeloos en plat geslaan deur die wreedheid wat mense hier op aarde soms moet deurgaan. 
Op die ou end wil ek trots wees op my eie vinnige oplossings en planne, juis omdat ek nie wil hoor hoe beperk ek self is nie.
Gemeentes het dikwels baie duidelike verwagtinge en eie visie en dit kan baie keer die hoor van God se plan belemmer. Dikwels word die dood gaan in God se plan dus nie gehoor nie! Dit is dus so belangrik om God se plan af te bid en te hoor en dit ons visie en strategie te maak ten spyte van die dele wat ons nie graag wil hoor nie. Dink net wat kon gebeur het as die dissipels kon hoor, verstaan, aanvaar en daarvolgens begin lewe het.
Een van die gevare van die tyd is dat ons godsdiens vir ons begin sê dat ons goed en vol potensiaal is. Dit maak dat ons ons eie planne maak en nie heeltemal oorgee aan God nie. Sy stem hoor, Sy planne hoor en myself geheel en al onderwerp daaraan en prys gee daarvoor en eenvoudig gehoorsaam. Vreugde en vrede word gevind in God se wil en nie my eie. Die radikaliteit van God bring lewe. Iets gedoen uit myself bring dood.
Here, help ons om te hoor as U ons ook vat na die wreedhede van die kruis en in die wêreld asook in ons self. Die teleurstellings en afsterwe van die koringkorrel, in ons self is deel van U plan vir groei vreugde en vrede.

In 'n sin is hierdie ook 'n opsomming van 'n Christen se lewe. Onthou dat die groot gevolg van die werking van God is dat ons getuies sal wees en die woord beteken ook martelaar wees. Die opstanding word voorafgegaan deur 'n kruis. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Mangalwadi about Charlie Kirk

  To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...