Volg die inskrywings van die blog

Woensdag 21 Junie 2023

Stiltetyd Matt 6:1-13 Moet nie aansien soek nie (Besig)

 Mat 6:1-13  "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.  (2)  As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.  (3)  Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,  (4)  sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.  (5)  Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.  (6)  Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.  (7)  Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.  (8)  Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.  (9)  So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;  (10)  laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.  (11)  Gee ons vandag ons daaglikse brood;  (12)  en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;  (13)  en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

1-5 Is daar 'n baie sterk aanspreek van die vermyding van "gesien te word". Gesien te word is tog om aanvaarbaar te wees tussen ander. Om nie die regte rede vir goeie dade te verstaan nie, maar goeie dade doen vir jouself. Die regte rede glo ek is liefde. Dit is ook nie gehoorsaamheid nie, want gehoorsaamheid kan ook vir jouself wees. Dit is werklik om deur die Gees gelei te word na die uitleef van God se liefde en wil, met God se doelwitte en plan. Hoe ken mens die plan van God? Dit gebeur met gedurige diep ontmoetings van aangesig tot aangesig met God. Die Vader wat skep, onderhou en red. Wie se wil is om almal te red. Die plek waar ek Hom ontmoet is op Golgota en 'n leë graf. Dit is tog waar enige kennis en ontmoeting met God begin. Daar is geen moontlikheid om dit op 'n ander manier te doen nie. Glo vergifnis en leef vergifnis. Glo liefde en leef liefde. Glo redding en leef redding. Hierdie glo is vertrou! Vat God op sy Woord. Met of sonder emosies. Onderwerp en leef so deur die Gees van God dat daar ons self nie meer plek daar het nie. "Ek leef nie meer nie, maar Christus in my". SOEK Hom. Nie jou eie voordeel nie. 

Laat U koninkryk kom. Dit gaan saam met SY wil. So besig met Sy wil dat ek my wil ondergeskik word met tyd. Wat wil God met my en jou en ons lewens doen? 

Nou word my lewe 'n soeke na God se wil vir ONS. Soek na wie die Here vir wie stuur!

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;  (10)  laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.  (11)  Gee ons vandag ons daaglikse brood;  (12)  en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;  (13)  en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.







Stiltetyd Matt 20:1-16 Dieselfde loon eerste en laaste

 Gelykenis van die werkers in die Wingerd. 

Wat die Here vir ons gee, is nie volgens wat ons verdien nie, maar slegs omdat ons in die wingerd is en werk. Dit is dus werk wat nie 'n verskil maak aan dit wat ons ontvang nie. Die enigste wat tel is of ons in die wingerd is en werk of nie. 

Mat 20:2  Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk.

Ons is aangestel met 'n doel. Daar is werk. Dit is ook nie 'n gekomparteerde werk nie, dit is ons hele lewe van 24/7. Ons lewens is ons werk.
Mat 20:4  en hy sê vir hulle: 'Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.'
So het die eienaar 'n paar keer gemaak. Op die ou end het hy iemand wat 1 uur gewerk het, 'n hele dag se loon gegee. Is dit billik? Billik beteken geregverdig kom van Griekse oorsprong van heilig. Die algemene bestaande ooreenkoms is 'n dagloon vir 'n dag se werk. 

Verwagtings in Christenskap en in ons verhouding met die Here is slegs gebou op Sy genade en dit is nie 'n transaksie van jy kry in verhouding van wat jy gee in die verhouding nie. Dit is hoekom 'n moordenaar aan die kruis dieselfde loon kry as 'n lewenslange toegewyde en hard werkende kind van die Here. 

Ons getuienis taak het geen verband met ons hemelse beloning nie. Die beloning is eers vas gemaak en toe begin die werk.

Wat ons werk op aarde betref, is dit dikwels dat hulle wat die getrouste is (volgens ons standaarde) die mense wat die swaarste kry en meeste seerkry en ly. Tog is daar niks op aarde wat jou vreugde van jou kan weg neem nie. Noem maar op!

Here dit is so moeilik om met 'n aardse manier van dink ons motivering om ALLES prys te gee nie te bou op wat ons gaan ontvang nie. Bou in ons 'n liefde vir die Koninkryk en vir die ALMAL op die aarde deur U Gees as vrug van die Gees en begelei ons op die pad om dit al meer ons motivering te maak. 

Kant opmerking: Ons liefde vir God is ingebed in ons liefde vir die wêreld. Dit is dieselfde ding?! Dit is geloof in die realiteit van die aarde. Dalk kan ons glad nie God lief hê sonder die aarde nie. Liefde sonder doen is nie moontlik nie. Liefde kom van God en vloei uit na die aarde en sy mense. Ek glo dit is 'n proses sonder verwagtinge, maar slegs 'n diep Goddelike begeerte wat deur ons gebeur. Sonder verwagting, maar diep vreugde van elke kleinste van kleinste reaksie van mense uit liefde vir die koninkryk. Onverdiende vervulde ewige lewe wat nou reeds begin. Vreugde is op grond van groei van ander! (Engele wat juig oor 'n sondaar wat hom bekeer). Juis omdat ons fokus op die koninkryk is en nie op ons self.

Ook goed om te sien dat dit in 'n aardse konteks gebeur. Werkers in wingerde is die konteks, dit is die leefwêreld van die mense vir wie dit vertel word. Om elke loot toegewy en korrek te snoei, elke onkruid uit te haal en 'n wingerd in liefde te ontwikkel. Wat hulle het is die grond, lug, gehoor, sig, gevoel, verstand, gesondheid, ens ens. Om dit alles so goed moontlik deur harde werk deel te maak van die diens aan die Eienaar. Ons vreugde word al meer die wingerd en nie wat ons ontvang.

Mat 20:15-16  Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?'  (16)  So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste."

Wat maak dat ons nie bly is as iemand anders, meer as ons, iets goeds ontvang nie? Laat dink my aan die verlore seun se terugkeer en die ouer broer.
Here laat U Gees in ons 'n gesindheid skep van voordeel soek vir ander en nie vir ons self. Dat ons vreugde vind in redding en voorspoed van ander ten spyte van my pyn en lyding. Dat ons hierdie vreugde in ons huwelike of intieme verhoudinge kan soek en laat groei. Vergewe ons ons afguns en oral waar ons ons eie belang belangriker maak as ander.

Die gesindheid dat ons kry wat ons nie verdien nie en die wete van my gebroke geaardheid wat niks verdien nie, dink ek moet die basis van ons lewens wees. Dit maak dat genade ALTYD hierdie ongelooflike beginpunt van alles is. Dat ons vreugde buite ons self is. Moderne denke en sielkunde lyk dit vir my wil dit andersom doen. Hulle wil mense help om vreugde in hulleself te vind en daarom moet mense altyd bewus gemaak word van al die goedheid in hulle en dan daarop bou. Dit is dan dat daar met alle mag nooit verwys mag word van die negatiewe in mense nie. Ons het egter nodig om bewus te wees van ons sondigheid om die vreugde van genade buite ons self te vind (alhoewel die Gees waardeur dit na ons kom wel binne ons is, maar nie in ons mens wees en ou natuur nie).

Here help ons om nie ons identiteit in ons self en eie prestasies te vind nie, maar altyd in U en vreeslik dankie vir die genade in Jesus Christus die gekruisigde wie se bloed ons skoon was van ons skuld en so die fondasie van ons lewe en werk word. Vergewe enige trots in ons al werk ons al die hele dag.

As ander se voordeel jou fokus is, maak dit nie sin om ander te oordeel nie. Oordeel is van 'n ingesteldheid van meer en bo iemand anders te wees, maar diens of hulp (wat ook soms blinde kolle of sonde uitwys) kom van onder. Dit is dan ook die gesindheid wat ons soek deur die Gees vir huwelike, en dan ook vir klein groepe en gesinne.

Een van die struikelblokke is die eie stryd. Ek reken dat daar nie 'n mens is sonder uitdagings nie. Daar is vir elke mense moeilike omstandighede, mense, skaamtes, of wat ook al om te hanteer. Dikwels dink ons dat myne groter is as anders sin. Daar is baie persepsies oor die stryd. Dit is goed om te besef dat almal dit het. Dit gaan dus nie of jy dit het nie, maar hoe jy daaroor dink en daarop reageer. Ons weet dit is nodig vir groei. In my eie lewe sien ek dat my stryd met Christus groei bring of my stryd vanuit aardse perspektief vernietiging bring. Christus maak dat ek my stryd omhels en dit my vennoot maak. Ek hou nie van die vennoot nie, maar saam bou ons 'n koninkryk wat nie ons eie is nie. Daar is aspekte van die stryd wat ek seker sal hê tot ek dood gaan, en in Jesus werk ek daaraan dat dit my nie vernietig nie, maar bou. Ek aanvaar wat die Here nie in my verander nie. Sy wil is beter as myne. Ek bly stry en maak dit nie my fokus nie, maar leer om Sy koninkryk die fokus te maak en dan kom die stryd ook in die perspektief waar dit moet wees. Dit help my werklik om te weet hoe afhanklik ek is van God. Dit help my om in myself te sterf. Dit help my om fokus op Sy geregtigheid te hou. Dit help my om fokus op die koninkryk te hou. Deur Sy Gees werk dit aan my trots en bring 'n nederige sagte gees in my veral teenoor ander. Soms gebeur daar wonderwerke en gedeeltes van die stryd word 'n oorwinning, veral as dit vir die mense om jou groei bring. (Oorwinnings waar dit net vir jouself bevoordeel, word asof dit nie meer oorwinnings is nie, jy verloor daardie vennoot). Nou bring dit 'n ander stryd en dit is volharding in wat ek geleer het toe daardie deel van die stryd nog bestaan het. So stadigaan word my laaste wees en ander se eerste wees vir my voordelig. As my eie natuur en begeertes en sondigheid en ander mense se skaamte seer en swaarkry en verlorenheid my opponent is dan stry ons vir fokus op Sy geregtigheid en koninkryk en die res is in Sy hande. As my opponent 'n ander mens is, dan is dit meestal beter om menslik gesproke te verloor as om te wen. Jy wen dus deur menslik gesproke te verloor. Soms in klein goedjies. Ek het soms in 'n gesprek 'n beter storie op te vertel as die storie wat vertel word. As ek reg kry om nou nie die beter storie te vertel nie, maar vreugde te vind in die ander se storie, dan het ek van die eer verloor wat ek kon hê, maar ek het die vreugde van oorwinning deur die ander se vreugde groter te maak. 

As ons die Here se vreugde soek, dink ek, is dit beter om dit nie te soek in wat Hy vir jou doen nie. Dit is baie beperk en tydelik. Ek wil amper so ver gaan om te sê dat dit vermy moet word om vreugde in jou eie voordele te soek. Dit moet al hoe minder word. Daardie vreugde kan op die langer duur negatief wees. As daardie omstandighede verdwyn, dan verdwyn die vreugde en ons sit dan nog met teleurstellings ook. Nee, soek jou vreugde eerder in die Here self. Sy goedheid en wysheid en wat Hy vir ander en vir jou vyande doen. Sy koninkryk en mag oor die bose en gebrokenheid in die wêreld. Sy genade en vergifnis van ander. In ons lofprysing, loof ons Hom in die eerste plek vir sy betrokkenheid in ander gebroke mense se lewens en die gevolg is dat ons vreugde vind in verlossing van ander en so ook in verlossing en bevryding van ons self. 

As ons dus laaste is en bewus is van ons onverdienste, dan is ons eerste. As ons iets probeer verdien, sal ons laaste wees in Sy koninkryk?
Daar is 'n onbeperktheid in wat die eienaar kan gee. Tog gee Hy volgens sy goedheid nie vir almal alles wat hulle reken hulle nodig het nie. Dit laat my dink aan hoeveel mense mens die goeie boodskap baie gebroke probeer oordra en hoe min daar werklik reageer en oop is. Hoeveel werklik soek. Die wat soek is gewoonlik in hoë spanning en op die einde van sy tou. Hoe om te soek vir hulle wat soek? Oop te wees vir die soekendes tussen die ander. Die persoon nie die skare. 

Maandag 12 Junie 2023

Stiltetyd Matt 19:16-30

 Mat 19:16-30  Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: "Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"  (17)  Hy het vir hom gesê: "Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie."  (18)  "Watter gebooie bedoel u?" het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: "Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,  (19)  eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself."  (20)  "Dit alles het ek nagekom," het die jongman gesê. "In watter opsig skiet ek nog te kort?"  (21)  Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."  (22)  Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.  (23)  Jesus het toe vir sy dissipels gesê: "Dit verseker Ek julle: 'n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom.  (24)  Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom."  (25)  Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: "Wie kan dan gered word?"  (26)  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik."  (27)  Toe sê Petrus vir Hom: "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?"  (28)  Jesus antwoord hulle: "Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.  (29)  En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.  (30)  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste."

16 Deur die eeue is dit die vraag vir Jesus. Wat moet ek doen. Hier selfs vereenvoudig tot een daad. NV sê watter goeie ding moet ek doen. 
(17)  Hy het vir hom gesê: "Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie."
Hier redigeer Jesus sy vraag en manier van dink. Dit is nie wat jy doen wat maak dat jy goed of sleg is nie. Jy gaan dit nie op die aarde so reg kry nie. Daar is net 'n een persoon wat goed is. Hy sê dus dat hy nie sal goed word deur 'n daad te doen nie. Daar is 'n goedheid wat die mens nie kan kry deur goeie dade nie. Dit kom slegs van God af. Ons neig soveel keer om aan dade en goed doen te dink. Ons wil die ewige lewe verdien. 
Die betekenis van MAAR, ek sal wel jou vraag antwoord as jy dit met doen wil doen. Nou word die een daad gebooie. Alhoewel jy nie dit gaan reg kry om die ewige lewe te kry deur die dade nie, sal ek vir jou sê wat jy moet doen as jy dit wil reg kry. Dit wil sê dat as jy dit reg kry om alles te onderhou, is dit moontlik. Daar is nou nog mense wat glo jy kan dit reg kry. Dit is nogal 'n groot skuif in menslike denke om van so 'n manier van dink te verander na goedheid wat in God is en nie in jouself nie. Jy ontvang goedheid van buite jouself en nie uit eie inspanning. "Daar is net een wat goed is" My sleg wees vat dan nie die goed wees wat ek gekry het weg nie. 
As ons dus strewe om goed te wees, maar uit vertroue op ons self, dan gaan ons dalk sekere goed reg kry, maar ek gaan verder van God beweeg en op die ou end boser invloed op ander hê as voorheen deur ons goeie dade, want nou word dit voorgee van goed wees uit ons self. Dit is soos die fariseërs en baie kerk mense val ook in die gat. Wanneer ek egter soek na God se goedheid, gaan daar wel outentieke goeie dade begin ontwikkel in my, maar ek sal nooit daarop kan staat maak nie. Ek maak nét staat op die enigste een wat goed is. Hierdie goedheid se grootste eienskap is dat dit goedheid wil bring vir ander. Dit wil sê ontvang goedheid met die uitsluitlike doel om dit uit te leef teenoor ander. Is goedheid dan moontlik? 
(26)  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik."
Hier word dit ook duidelik dat goedheid nie van mens kom nie, want vir die mens is dit onmoontlik. 
 (18)  "Watter gebooie bedoel u?" het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: "Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,  (19)  eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
As Jesus dan die gebooie opsom dan selekteer Hy van die 10 gebooie 'n paar gebooie. Vier goed wat jy nie mag doen nie en een uit die 10 gebooie wat jy moet doen nl eerbied aan Vader en Moeder en dan voeg Hy die liefdesgebod teenoor jou naaste by. Dit is volgens my interpretasie die gevolge van God se goedheid in ons wat ons soek en kry deur Jesus.
(20)  "Dit alles het ek nagekom," het die jongman gesê. "In watter opsig skiet ek nog te kort?"  (21)  Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."  (22)  Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 
Hier word gewys dat die implikasies van liefde vir jou naaste te groot word vir 'n goeie mens om dit uit te leef. Iewers gaan jy kom by die punt wat jy teleurgesteld omdraai, want maak nie saak hoe graag jy die ewige lewe wil hê nie, sal daar altyd 'n punt kom waar jy dit nie maak nie. Volmaaktheid kom nie uit die mens nie.
(26)  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." Die reguit aankyk of "Stip na hulle gekyk", wil vir my sê dat Jesus iets spesiaals wil sê. Ook dat hulle dit in Hom moet sien. Dit is asof die Here wil sê dat ons uit die menslik onmoontlike moet beweeg in 'n lewe van die moontlikhede wat God gee. Worstel met die Here oor wat Hy in jou begin. Maak seker dit is nie iets wat uit jou eie selfsug of wil kom nie. Worstel tot jy weet wat Hy wil. Doen dan dit wat menslik onmoontlik is, want Hy doen dit. Laat U wil geskied en laat U koninkryk kom!
(27)  Toe sê Petrus vir Hom: "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?"
Hier kom die soeke na die doel van alles vir die dissipels. Hulle wil darem iets kry uit hierdie verhouding en diens aan Jesus. Jesus bevestig dat hulle sal dit alles kry in 'n nuwe bedeling. Tog bly Sy fokus by die prys gee van self in hierdie bedeling:
(30)  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste."
In hierdie bedeling lê ons koningskap in laaste wees. Die prys gee van self. In dit doen ons die Wil van God. Iets wat ons persoonlik by Hom gehoor het vir ons gawes en omstandighede. Dit gaan altyd gepaard met opoffering van wat ek het en myself. As daar niks oor is nie, dan is ek vry en bestuur ek wat Hy onder my beheer geplaas het. Selfs al het jy baie gawes en baie aardse rykdom, is dit nie meer joune nie. Dit is dus self vernietigend en spanningsvol. 'n Spanning agv die liefde vir die wêreld. Tog vry en vreugdevol. 
Spanning daarvan om alle mense in God se liefde in te sluit en alle boosheid met goedheid en wysheid uit te werk. Dit vanuit 'n menslik onmoontlike verhouding, die verhouding van 'n sondaar mens met 'n heilige almagtige God dmv SY liefde. 

Dinsdag 06 Junie 2023

Stiltetyd Matt 19:12-15 Soos 'n kind. Jouself prysgee.

 Mat 19:13-15  Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas.  (14)  Maar Jesus het gesê: "Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle."  (15)  Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.

Kinders is NB. Ontwikkeling van menswees vind plaas by kinders. Wetenskaplik bewys -9maande tot 2 jaar die heel vinnigste. Dan van 2-5 en dan deur baie fases van implimentering. Dit is die vorming van nasies wat God dien. 
Die "koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle" Hierdie woorde lyk my sê ook dat mense wat met 'n kind se min wees posisie leef, juis hulle is aan wie die koninkryk behoort. 
As volwasse mens kan mens nie sonder identiteit leef nie. As identiteit is om iemand te wees, beteken dit mos ook om iewers te behoort. Baie vinnig begin mens 'n gedrag aankweek om juis te kan behoort. Soms godsdienstigheid of netheid in huis en kinders wat presteer, 'n huis en vervoermiddel en 'n glimlag in 'n huwelik ens, want ander moet sien dat die huwelik werk. Daar word 'n soort van status gebou waarop mens se menswees gebou word. Die trots kan dalk ook in 'n gedrag van nederigheid gebou word. Of op 'n gedrag van omgee vir bedelaars of diere, of enige ander goeie dade van gehoorsaamheid aan God of wette ens. 
Ek dink in die Bybelse konteks word kind wees gekoppel daaraan dat jy juis die soort van behoort en status aflê en die posisie van 'n kind in die samelewing aanvaar. Die geheim van weggee van jouself om God se grootheid juis daarin te vind, is vreemd in moderne kulture. Dit is juis hierin waarin God se heerlikheid sigbaar word en mens jouself weg gee. 
Iemand wat God se prysgee lewe, kry 'n nuwe identiteit wat nie uit jou as mens kom nie. Daardie identiteit word outomaties 'n leier in die gemeenskap en het 'n geweldige invloed op die mense naby aan hom/haar. Geen menslike offer of lyding (want dit is noodwendig dat jy nie inpas in die kultuur nie) word te groot nie. Daar is 'n totale strewe en soeke na die prysgee van self en leef in Godgegewe gawes vir die koninkryk. Koninkryk is vir God en die geringstes en vyande. Daar is 'n groot oorgawe element in die soeke, onderwerping aan God dat Hy die lewe sal lei met Sy gawes in jou as persoon. Dit is ook 'n oorgawe aan groter "ons" wees op verskillende vlakke. 
Mat 6:11-13  Gee ons vandag ons daaglikse brood;  (12)  en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;  (13)  en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Die ons wees, is ook deel van die aflê van die ek wees en soos 'n kind te wees. "mense soos hulle" In 'n groep, moet almal 'n stukkie prys gee om die ons visie groter te maak as die ek visie. 
Die gedeelte is in verband met die vorige opdrag om soos kinders te wees in Matt 15. Die byvoeging hier veral is die tyd wat met kinders gespandeer word. Hulle seën en vir hulle bid en interaksie met hulle te hê. Die moeilike woord van ons tyd. Tyd met kinders spandeer en dit intensioneel doen ter wille van hulle vorming. Die mees effektiewe manier om 'n gemeenskap te help groei met Christus waardes na Hom toe en so 'n voorspoed vreugde en bevrydende gemeenskap te vorm. 'n Nuwe ONS wees.
Wat is die verskil daarin om die waarheid of opdrag van aflê van jouself uit te voer aan die een kant en om jouself af te gee omdat jy Jesus ken en Hom volg en soos Hy word? Is daar 'n verskil? Die een dink ek kom van jouself en die ander kom van die Gees van God in jou. Die "omdat jy Jesus ken" is ook intensioneel, maar anders.
Jy raak in ieder geval iemand wat baie min waarde aan gemak gee. Jy beweeg baie maklik in seerkry en ongemak in ter wille van ander. Juis omdat jy Hom ken en mens word soos jou gelowige vriende in samewerking met 'n gesonde logiese verstand om te onderskei wat goed is en wat nie. Wanneer jy egter met jou naaste vriend te doen het, dan is die interaksie uit wie Hy is, altyd goed al het jou gedagtes redes om dit nie so te beleef nie. In die proses vorm Hy jou gedagtes. Hy spandeer tyd met kinders en seën hulle. 
Die behoort raak ook 'n behoort aan Hom en dus 'n punt word waar ander die geleentheid kry om ook aan Hom te behoort. Nuwe identiteit as leier in die gemeenskap. Almal moet behoort, maar nie aan kultuur nie, aan Hom. Dit is bevrydend vreugdevol, opofferend, vol botsing en seer en vol grootheid en behoort en vervulling. Vol avontuur en LEWE. Risikos trane en totale vry lag. Jy word regtig "crazy" anders. Jy kry die menslike status van 'n kind, wat ooreenstem met ons nuwe mens deur Christus en gelei deur die Gees van God. Die volwasse status word afgelê. Jy word volwasse slegs in Christus.
Here, ek is nog te veel besoedel met hierdie aarde, sonde, godsdiens en  kultuur giere. Soveel goed wat U beeld in my afbreek. Vergewe ons. Gee asb dat al die seerkry en hartseer en trane goed deur U gebruik sal word om dit af te lê, want ek wil graag 'n goeie getuie van U wees. Dankie dat U reeds Uself met ons gedeel het en van binne wel ten spyte van my besig is om die nuwe lewe in ons te implementeer. Gee asb dat die proses nie in 'n groef sal val nie, maar altyd verrassend sal bly groei. Nie ter wille van ons nie, maar ter wille van U getuie en soveel wat dit so nodig het. 




Mangalwadi about Charlie Kirk

  To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...