Volg die inskrywings van die blog

Dinsdag 30 Mei 2023

Stiltetyd Matt 19:1-12 Huwelik en een wees

Mat 19:1-12  Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy uit Galilea vertrek en in die gebied van Judea anderkant die Jordaan gekom.  (2)  Groot menigtes het agter Hom aan gegaan, en Hy het hulle daar gesond gemaak.  (3)  Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: "Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?"  (4)  Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?  (5)  Daarby het Hy gesê: 'Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.'  (6)  Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie."  (7)  Hulle vra Hom toe: "Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou 'n skeibrief gee, hy van haar kan skei?"  (8)  Hy antwoord hulle: "Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie.  (9)  Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk."  (10)  Sy dissipels sê toe vir Hom: "As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie."  (11)  Maar Hy sê vir hulle: "Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is.  (12)  Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. Wie dit kan doen, laat hy dit doen."

(3)  Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: "Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?"  Die Fariseërs tree hier op as teenstanders van Jesus. In hulle verstaan van godsdiens, is hulle steeds besig met die gehoorsaam en straf godsdiens en ook oor posisie en aanvaarding by God en kerk. D.w.s 'n vrees en spanning godsdiens. Hierdie Jesus is lastig met die omkrap van hulle sinagoge struktuur. Hy moet verkeerd bewys word en deel van die onaanvaarbares word. Vyande van die kerk moet teengestaan word om God te beskerm.

(4)  Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Hierdie is 'n duidelike uitbeelding van huwelik en God se skeppings bedoeling. Die huwelik as 'n goddelike instelling. Dit is dan ook die riglyn vir wat Gender is. 

 (5)  Daarby het Hy gesê: 'Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.'  Ek grawe nog in die betekenis van een liggaam word, groter as jou ouers se gesin verbintenis. Dit is fisies, maar ook in gees. Liefde word verbind met jou (soos 2020 vertaling met opsomming van wet) hart siel en verstand. Op ander plekke ook "met al jou kragte" Eenvoudig seker maar net hele wese. Jy is nie meer ek nie maar ons. Verbintenis wat herinner aan drie eenheid. Jy weet nie meer wie het wat gedoen het nie en steeds doen. Op die ou end raak dit God wat deur die "ons" doen alles wat julle doen. Elkeen het steeds 'n funksie, maar omdat die denke verander na ons, raak die verskillende gawes en funksies deel van 'n groter eenheid. Hoe groter die verskil, hoe groter die potensiaal van die eenheid. As jy baklei, baklei jy al meer vir jou ander persoon en al minder teen die ander persoon. Ek reken ek het die Here se stem hierin baie duidelik en direk gehoor. "Danie, hou op om teen jou vrou te baklei, baklei vir haar". Nogal 'n skokkende ervaring. Nou word hier bygevoeg, baklei vir die ons. Na regte behoort dit onmoontlik te wees om teen jou vrou te baklei, want jy baklei dan teen jouself ook. Dink net hoe radikaal anders dit is as die denkwyse van een wees in ons verstand se denkpatrone ingegraveer is deur die Heilige Gees. Dit teenoor hoe kulture daaroor dink. In menslike verstand is dit twee mense en hier moet God ons verstand verander (Rom 12) om die waarheid te kan word in ons gedagtes wat dan ons hele menswees bepaal. As jy dan ver van jou vrou is, is jy nog steeds een met haar. 

 (6)  Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie." Die een wat dit doen is God en nie die mens. God drie enig, voeg twee mense saam. Dit is dan net nie logies om weer "uit mekaar" te haal nie. Tog het die mens die vermoë of mag gekry om dit stukkend te breek. Daarom die opdrag uit God se liefde "mag die mens nie skei nie". 

 (8)  Hy antwoord hulle: "Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie.  Die opmerking "Harde harte" (2020 vertaling) beteken dus dat ons harte moes sag wees. Ek dink nie dit is 'n sentimentele sag wees nie. 'n Sagte hart is vasberade ook, maar nie volgens eie vlees, begeertes of voordeel nie. Dit is 'n sagte hart teenoor God en mekaar. Ek wonder of daar hardheid in jouself oorbly as jy jou eie voordeel prys gegee het. 

Here, my eie vlees oorweldig my nog soveel kere! Here, maak my vlees saggies dood! So deur Jesus aan die kruis! Ek glo dat U wil hê dat hierdie vlees ook U moet dien.

Hoekom moet my vlees noual dood gemaak word en nie net wag tot ek eendag daarvan bevry word nie? Ek dink dit is omdat die Here die vlees noual wil gebruik 

(9)  Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk."  Hierdie is die hartseer wat vergelyk kan word met God se liefde en redding van die mens ook. Hy het Homself een gemaak en dit is Sy manier van "dink en wees". Tog die mens weerstaan die liefde en een wees en kies om alleen te wees of met 'n ander verbind te word. Soos mense afgode begin dien ens. God gee alles. Deur Sy Gees maak Hy dit moontlik dat ons met ons besoedelde vertand kan groei in 'n verstand wat die eenheid kan verstaan en wees. Ons leer mekaar om dit te wees. As sommige die eenheid as offer beleef en die offer te groot word, gaan God jou nie dwing nie. Hy maak die eenheid moontlik, maar dwing jou nie om dit te vat nie. So ook nie met jou verhouding met Hom nie. Dit is om 'n harde hart te hê en nie die goeie van God te aanvaar nie.

Weens die uitverkiesing is hierdie steeds 'n onsekerheid, maar Here, ek staan op die feit dat U dit vir my moontlik gemaak het om U kind te wees en dat geen offer dus te groot is nie en U het dit ook moontlik gemaak om een te wees met Bonny en deur U Gees sê ek weer ja. Dit is radikaal anders. 

(10)  Sy dissipels sê toe vir Hom: "As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie."  Dit maak dit volgens die dissipels te moeilik om te trou. Mens kan dit seker dan ook sê oor 'n verhouding met God. Dit is te moeilik en vra te veel. Die huwelik is vir my die leerskool vir die lewe met God en mens. Hoe om die onmoontlike moontlik te maak. Hoe om dit wat in die pad staan, amper gewelddadig te verwyder ter wille van die Godgegewe dood. (tot lewe). 

(11)  Maar Hy sê vir hulle: "Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is.   Dit lyk asof die bedoeling om een te word met God en met mekaar in die huwelik, baie sterk in God se bedoeling is. Dit is 'n baie sterk leerskool en hulp in dood gaan en lewe. Vir sommige is die vermoë gegee om nie te trou nie. 

(12)  Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. Wie dit kan doen, laat hy dit doen." As jy een van hulle is wat reg kry om nie te trou nie, word jy hier aangemoedig om dit nie te doen nie. Die rede hiervoor is vir my nie duidelik nie. Dalk is mense soos hierdie (soos Paulus) gegee om al sy aandag aan die koninkryk te gee. Dit is duidelik dat Paulus die lesse iewers geleer het. (Dalk omdat hy alles wat hy doen so passievol en met alle krag en oortuiging doen). Al wat ek kan sê persoonlik is dat die huwelik vir my die lesse leer wat ek nie andersins sou leer nie. Ek moes dus trou. Dit kan ook wees dat seksualiteit ook hier 'n rol speel? 

Here, ook hier stap ek weg van die vers sonder om alles te verstaan. Tog het U genoegsaam bekend gemaak. U het bedoel dat ek trou en dat ek daardeur leer, dat ek in die ons U koninkryk beter dien. Dat U 'n ongelooflike verhouding gegee het vergelykbaar met U verhouding met ons. Here leer my om dit met my hele hart siel en verstand en al my kragte te vat uit dankbaarheid en my oorgee aan U raadsplan vir die wêreld wat hierdie huwelik insluit. Bou in my denke in elke interaksie dat ons hier besig is met 'n Goddelike gawe waarvan ons net die rentmeesters is. Die diep vreugde daarvan om in ons diepste begeertes tot eenheid aanvaarding vervulling en veral liefde, alles van U ontvang ten spyte van ons gebrokenheid. Bou verder aan die gebrokenheid vanuit die indikatief van wat U sin is: Hierdie verbintenis. Maar 'n skadu van U verbintenis met ons. Ons begeerte is om U verbintenis met ons al beter deur ons verbintenis, sigbaar te maak vir almal om te sien.

Nog 'n "crazy" gedagte. (Ds Goia van die SDA het gesê dat as dit "crazy" is, dan is dit dikwels 'n teken dat dit van God kom en as dit normaal is, 'n teken dat dit uit jouself kom). Wil nie sê dit kom van God nie, maar hier is dit: In die vergelyking tussen God se verhouding met ons en die huwelik, is daar die groot verskil dat God heilig en sonder sonde is en dat die kerk Hom dien. Terwyl in die huwelik mens mekaar dien en albei sondaars is. Wat het by die kruis gebeur. God het sonde op Homself gelaai ter wille van ons. Jesus het in diens gestalte na ons gekom. Hy het af gekom na ons toe. Hy het die mens kom dien. Dit is "crazy" dat God deur die sonde op Homself te neem, Sy grootheid juis bewys deur diens en om nie net om af te kom na ons nie, maar as dienskneg voor die mens kom staan het. Jou skuld is myne! Amper om te sê daar is nie meer jou skuld en my skuld nie, dit is ons skuld. Dit is ons sonde. Daar is betaal daarvoor en ons is vry gespreek deur die betaling en die verwydering daarvan. Albei is vry gespreek, maar albei gaan ook dood agv die sonde van Adam. Ons gaan saam met Christus dood. Ons sterf saam met Hom. Ons staan dus saam met Hom op. Hier is 'n diep assosiasie van God met ons. Een word. Bonny, Jou skuld en foute is myne soos myne joune is. Ek vat dit en ek dien jou! Nou is ons ons. 'n God gegewe gawe. Nou staan ons saam op in Christus, want dit wat ons geskei het is dood. Baie gevolge van die gedeelde skuld kan nou vanuit die nuwe werklikheid oor tyd en deur die krag werklikheid en teenwoordigheid van God en mekaar hanteer word. Here help ons om ook ons te word met ons sonde en skuld van die verlede en hede. Here gee dat die misterie van diep onverstaanbare eenheid as gegee deur U in 'n menslik onmoontlike verhouding moontlik geword het deur 'n kruis en bloed. Dat hierdie Godgegewe verhouding ook in ons huwelik sal manifesteer in dood en opstaan.



Dinsdag 23 Mei 2023

Stiltetyd Matt 18:21-35 Vergifnis dringende lewens visie

 21 en 35

Hier is die vraag oor hoeveel keer iemand jou broer moet vergewe. Die antwoord kom oneindig. Dit word verduidelik deur die verhaal en dan in 35 is die antwoord dat die vraag eintlik verkeerd is. Dit gaan nie oor hoeveel keer nie maar of jy dit van harte doen. Die van harte is dan ook nie 'n strewe nie, maar 'n vereiste. 

Here wat beteken "van harte"? Ek reken dit is meer as net vir die oortreding. Dit is 'n aanvaarding van die mens sonder voorbehoud. Jy is my broer ten spyte van wat jy gedoen het en nog gaan doen. Dit gaan nie oor net wat jy doen nie. Maak nie saak waar jy gaan en wat jy doen nie ek sal nooit hoop verloor op my broer nie, want nou is ek aan jou verbind soos ek aan myself verbind is. Vergifnis is die herstel van 'n verhouding. Selfs al moet ek jou hard hanteer en weg jaag is dit ook ter wille van jou, nie ter wille van myself nie. 

Ek dink aan die Britse sendeling paartjie wat heroïne verslaafdes in hulle huis in Manenberg inneem. Telke male besteel word, op hulle geskiet word in die strate, maar hulle kinders in daardie huis groot maak. Oor lang tydperk 'n ongelooflike plek van hoop en herstel word. Hulle wil nie eers 'n geskenk van 'n mediese fonds aanvaar nie, want hulle kan hulleself nie so verwyder van die mense vir wie hulle omgee nie. Dit is nie net vergewe vir wat jy vandag gesteel het en dit more weer doen nie. Jy is aanvaarbaar by my met al jou foute wat jy nog gaan doen ook. 

Ons stel hierdie standaard hoog, want dan verstaan ons beter wat die koning gemaak het teenoor ons.

23 In die Koninkryk word rekenskap geëis! Oordeel word gevel. 

24 10 000 talente is gelyk aan 60 000 000 denarius. 100 denarius is 4 maande se salaris vir 'n werker. 

Here, laat ek nooit vergeet hoe groot my skuld en ellende is nie! Dat dit totaal onmoontlik is om self iets daaraan te doen.

25 Ook die koning weet dat die skuld nie terug betaal kan word nie. Die wet vereis dit egter en daarom moet die gevolge wat die wet voorskryf nagekom word. Verkoop as slawe, nie net hy nie maar ook sy vrou en kinders. Gesinseenheid word hoog gestel en alle skuld en vreugde word gedeel. Westerse kultuur is baie individualisties, maar Joodse kultuur dink nie so nie. Ook nie Animistiese Afrika kultuur nie. Jy is mens tussen mense. As ek skuld maak, maak my hele gesin skuld. As ek gered word, word my hele gesin gered, soos ook in die verhaal gebeur. 

Nuwe reëls geld nou. In die begin was dit net die koning se wette en strawwe wat gegeld het. Nou is die slaaf en sy gesin vry gestel daarvan en kan hulle vry lewe. Daar is egter nou 'n ander vereiste wat nie in die wette staan nie. Nou moet ons ook so optree teenoor ons skuldenaars net soos ons vergewe is. Dit is 'n natuurlike proses en selfs die ander mede slawe kon beleef dat dit nou moet gebeur dat ons ander vergewe. In 'n wêreld waar vergifnis vervang is met menseregte, gaan kinders van God se koninkryk in teen hulle eie regte (teen die reëls) om hulle regte prys te gee en te vergewe. 

Here, ook hierdie nuwe reël is vir my te groot! "Soek allereers die koninkryk van God en Sy geregtigheid en al die ander dinge..." Die nuwe hart word gegee en nou maak ons dit 'n dringende saak om in Sy geregtigheid, daardie geregtigheid sigbaar te maak. Lewensvisie, maar nie uit die motivering dat ek bang is vir die oordeel nie. Nou soek ek dit met alles wat in my is. Emotief, Kognitief en funksioneel. Hart verstand en al jou kragte. Nie uit vrees, maar uit liefde. Dit sal deel word van jou lewe met so 'n ingesteldheid!! Dit is die voort vloei van God se liefde wat ons nie kan keer nie. Jy is of deel daarvan of jy is nie. Vrees is nie deel van die proses nie, maar geloof wel. Soos Paulus sê, vrees verwag straf. Ek bly worstel oor myself en of ek reg doen en of ek dit gaan maak. Geloof gerig op vergifnis reeds ontvang. Verhouding reeds herstel. Heilige Gees self is die deposito reeds gegee. Eendag as Hy weer kom, gaan die spanning finaal opgehef wees.

Here doen  met my soos U wil en bring my verstand, hart en dade werklik onder U beheer elke dag meer en meer. Laat die proses deurweek wees met U liefde en nie my vrees.

Donderdag 18 Mei 2023

Stiltetyd Matt 18:15-20 Tug en verantwoordelikheid teenoor ander

 

Mat 18:15-20  As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.  (16)  Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.  (17)  En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel.  (18)  Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.  (19)  Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,  (20)  want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle."

_________________________

Tug proses in die familie van Christus. Die woord gemeente is in die tyd van Matteus nie dieselfde verstaan as vandag nie. Gesag is ook anders beleef as wat ons dit vandag beleef. Ek vermoed daar was feitlik geen kerkreg en regulasies nie, maar eerder vrywillige assosiasie. Jesus was die passie en ek vermoed dat 'n sterk bewustheid van mense se sondigheid ook 'n sterk oorgawe en onderwerping aan Christus gegeld het. Dikwels gepaardgaande met die idee dat Jesus Messias is en as aardse koning gaan regeer. 

As mens dus praat oor wat maak die verskil tussen die "gemeente" en heiden en tollenaar, dan is dit seker die navolgers van Jesus en die Heidene. Dikwels is dit in daardie tyd verbind daaraan of jy 'n Jood was of nie. Vir Jesus glo ek gaan dit oor navolgers van Hom en hulle wat Hom verwerp. 

Vandag bring dit die verskil tussen denominasies en die ware kerk wees na vore. Op die ou end dink ek die ware kerk wees beginsels moet die basis wees vir hierdie beginsel van tug. Dit staan altyd bo enige kerk se kerkreg. Die kerkreg is 'n skadubeeld van die werklike realiteit. Die algemene Kerk se kerkreg is nie reëls en regulasies nie, maar dood eenvoudig hulle wat Jesus as verlosser het en hulle wat dit nie het nie. 

Dit is duidelik dat indien jy Jesus volg, dit 'n lewensverandering tot gevolg het. Indien nie, word iemand nie sommer net as Heiden verloor nie. Daar word alle pogings moontlik aangewend om so 'n persoon te help om weer deur Jesus self verander te word en te groei. Ek glo dat selfs deur 'n persoon as heiden te behandel, is ook ter wille van die persoon. Die persoon word dus seker nou 'n objek van evangelisasie en voorbidding. 

Dit lyk dus asof volgelinge van Jesus 'n verantwoordelikheid aanvaar vir mede gelowiges asook die hele wêreld. Dit is 'n menslik onmoontlike taak, maar vanuit Jesus en Sy Gees wat later uitgestort is, word dit 'n Goddelike proses wat deur gelowiges plaasvind. Dit word onselfsugtig gedryf deur liefde en dus ware medelye. Dit is die kenmerk van 'n kind van God. 

As ek self afdwaal sal ek verskriklik dankbaar wees vir mense wat my weer terug bring. Dalk nie in daardie oomblik nie, maar tog wel as ek weer in Jesus se genade en redding staan. 

Here skep in my gedryf deur U liefde, die afhanklikheid van genade en medelye vir my broers en ook vir hulle buite U koninkryk. 

18-20 Ek glo die gedeelte moet gesien word in die lig van die tug proses. As dit wyer gesien word raak dit moeiliker om te interpreteer. 

As ek iemand tereg wys omdat hy gesondig het (teenoor my vers 15) en hy nie luister nie, nie vir jou of jou broers of die groter gemeenskap van gelowiges nie, dan hanteer jy hom as heiden en tollenaar. Dan sluit jy hom uit. Daar word dus 'n gesag aan die gemeenskap van gelowiges gegee wat in die Hemel geldig is om in te sluit of uit te sluit. 

Baie apostels en Jesus self word deur die Joodse sinagoge uitgewerp omdat hulle "God met Jesus vervang" Tog was die wetsgehoorsame sinagoge gemeenskap verkeerd in hulle oordeel. Daarom, wanneer hier van gemeente gepraat word, glo ek is dit die Jesus navolgers. Dit is dus belangrik om hier baie duidelik te kan onderskei tussen sinagoge en gemeente. Daar is verskeie verskille waarvan Jesus die kern is, maar ook dinge soos hiërargie, klem skuiwe, maak deel uit van verskil. Jode se klem op die onderhouding van die wette, reëls en regulasies en die klem by die gemeente om mekaar te dien en so baie streng met tug ook mekaar te help. Dalk strenger as die Jode, maar heeltemal vanuit 'n liefde en diensbaarheid as  motivering. Jesus en die fokus op hom maak die gemeente heeltemal anders as die sinagoge. 

Binne hierdie gemeente is daar nou die geweldige verantwoordelikheid oor insluit en uitsluit gelê. Ons as mense is gebroke sondaars en daarom is 'n paar beginsels hier belangrik. Onderwerping aan God en Sy wil. Verhouding en kommunikasie tussen gelowiges en God is ook krities belangrik. (Die klem hier ook dat daar nie onderskeid gemaak word tussen wat die Here vir kleintjies en leiers sê nie. Hy praat met almal en daarom is konsensus besluite tussen hulle dus moontlik. Dit is nie so duidelik nie, maar klink vir my asof mens nie stem oor iets nie, maar praat tot almal God se wil ontdek het en die wat anders voel, bereid is om ondergeskik te wees aan die gemeente en dus ook aan God se wil.) As iemand dus afdwaal, sal die res van die gemeente daardie persoon nooit los waar hy/sy is nie. Hulle sal eerder hulle lewe as losprys wil gee om daardie een terug te bring. Ons help mekaar deur die werking van die Heilige Gees om by hierdie beginsels te bly. Daar is seker heelwat ander, soos vrygewigheid ens. Die eerste gemeentes en wat daar gebeur wys ons duidelik daarop.

In 'n gemeente soos die, word dit moontlik om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar. Die eerste gemeentes het in die tyd na die uitstorting van die Heilige Gees wel hierdie beginsels geleef. 

Here, vergewe my dat ek mense se foute uitwys sonder die bereidheid om myself as losprys te gee en dus hulle skuld op my te vat. Op die manier dien ek nie, maar veroordeel ek direk teen U bevel in om nie te oordeel nie. Vergewe my. 

Ek wil U Heilige Gees vra om in my hart die vrug van die Gees te gee en dus 'n ware aanspreek van my naaste moontlik maak. Dat U onveroordeeld ander dien met wat heling en genesing bring ten spyte van seer prosesse. Totaal ter wille van die kerk. U het reeds in my 'n begeerte geplaas om te kan help. Ek kan nie net toekyk dat ander weg dwaal van U Jesus die gekruisigde nie. My pogings is baie besoedel met my eie belange en begeertes, daarom wil ek weer myself oorgee aan U proses. Here hoe wil U my gebroke mens gebruik hierin? Hier is ek as U my wil stuur na Brackenfell gemeente. Ek kan nie, maar U ken.  U gesag lewe in ons as gebroke gelowiges, want U hart en medelye is die basis daarvan. Dankie Here. U is saam in die gebed al is ons soms net 2-3. 

20 Die gemeenskap van gelowiges kan dus slegs 2 of 3 mense wees. Die vraag is egter: Is Hy nie in elk geval by jou nie? As ek iewers met my Pa in die Hemel wil gesels kan ek mos enige tyd en ek weet Hy woon dan in my.

Die vraag kan ek nie heeltemal antwoord nie, maar daar is wel 'n baie belangrike aspek wat na vore kom en dit is dat in ons konneksie met mekaar sien ons God en kan ons amper sê raak ons aan mekaar. As mense mekaar in die oë kyk dan is daar 'n spesiale sien voel en beleef van God in ons midde wat mens nie kan hê as jy alleen is nie. Ek dink nie noodwendig sentimenteel of in die sin van romanties nie. Intimiteit wel en dink net daaraan. Ons vreeslik ingewikkelde en bo menslike verstaan, breine kan dikwels een rigting ontwikkel as mens alleen is, maar gekonfronteer met ander se denke en mens wees word dit verander. Dit gebeur met God alleen, maar baie effektiewer as mens dit bots en deel met ander. Dit klink vir my dat mens so gemaak is om in die harde wêreld van koinonia te ontwikkel en gevorm word. God verander nooit, dit is ons wat verander. Dit deel 'n ander mens of mense met jou. Studies op jou eie kan jou baie laat lees en leer, maar dit voel betekenisloos as dit nie gedeel word en ander ook ontdekkings te deel. 

Dit gebeur net as die byeenkoms in Sy naam is. Mens kan in baie ander name saam kom, maar as daar nie 'n groter naam agter daardie naam is nie, dan is die fokus nie waar dit sinvol is nie. Sonder Sy naam is enige byeenkoms nie lewe gewend nie. Jesus is die weg die waarheid en die LEWE. 

Here, ek het nie genoeg fokus op mense by wie ek verhouding aanpassing en groei deel nie. Ek praat maklik dissipelskap, maar leef dit nie genoeg in die praktyk nie. 

Ek moet meer dink aan die klein groepe waaraan ek behoort. Hoe leer ons mekaar om belang te stel in die ander. Kan ons een vir een af gaan in die lys en vertel waarmee daardie persoon nou besig is en wat die Here nou in Sy lewe doen. Wat is sy uitdagings en mislukkings en wat wil hy bereik en waaraan  werk hy/of sy nou aan. ens. Dalk elkeen uitdaag om vir 2 maande by 'n ander persoon uit te kom, te bid vir daardie persoon hom/haar leer ken in alles wat daardie persoon bereid is om te deel en teen die einde van die 2 maande kyk of daar verbintenisse is om te maak teenoor daardie persoon of nie. Dit sal my ook help om dit te doen. Hopelik 'n fokus op ander se lewe sodat minder oor myself en hoe ek oor kom na ander te fokus. Ook om te oefen om soms in ongemak in te gaan as iemand my besoek. Die soort van oefening is volgens wat ek lees baie belangrik vir groei. Die Bybel is vol verhoudings woorde baie dieper betekenis het as wat mens uit die betekenis wat jou kultuur vir jou gee aan daardie woorde. Ons Westerse kultuur is baie individualisties as mens dit met ander kulture vergelyk. Ook in vergelyking met die Joodse kultuur in die Bybel.

Dinsdag 16 Mei 2023

Stiltetyd Matt 18:10-14

 10- Moenie neersien op een van die kleintjies nie. Kleintjies word dikwels bedoel, dissipels. Dikwels selfs onbewus kyk mens af na ander gelowiges. Jy kan dus nie van hulle leer nie, want jy respekteer hulle nie. Jou waardestelsel is nie soos Jesus se waardestelsel nie. Jy meet anders. Weet dalk meer as 'n ander gelowige of jy is reg en die ander verkeerd. (Selfs as jy op 'n punt reg is dat jy reg is en die ander verkeerd, gebruik jy dit om te meet en kyk jy neer). 

Die manier waarop Jesus na ongelowiges kyk en ons manier van kyk na ongelowiges, is nie dieselfde nie. Deur na ongelowiges te kyk as mense vir wie God lief het en na Sy beeld geskape het, maak dat jy 'n verhouding met hulle kan bou. As hulle vir jou lief word, kan hulle vir Jesus ook lief kry. Een van die groot herlewings predikers het mos na 'n vuil straat bewoner gekyk en gesê: Dit is ek, was dit nie vir God nie. Dit beteken dus ek is nie beter as enige iemand anders nie. Ek het geen rede om op enige mens neer te kyk nie. Wat nog te sê mede gelowiges en jou naaste. 

Die dissipels, ingesluit Judas, het engele voor die God die Vader om hulle te dien. Vandag na die kruisiging en die uitstorting van die Heilige Gees seker nog steeds, maar die groot betrokkenheid van God by ons is nou dat Hy deur Sy Gees in ons kom woon. Dus baie meer betrokke as wat ons kan droom of dink. Ongelooflik.

12 - Hierdie waarde en blydskap en betrokkenheid word gewys veral vir hom wat afgedwaal het. Hoe dikwels is ons kwaad en kyk ons neer op die wat afdwaal.

14 - Dit is wel onseker hoe Judas verlore geraak het (dalk het hy voor sy dood weer terug gekom? Die aanduidings wat ons het is egter nie so nie.) teen die wil van God in. Die verlore skaap wys egter vir ons God se hart ook oor Judas. So is daar Petrus wat Jesus verloën en 'n Thomas wat nie meer geglo het nie ens. Dink ook aan die verlore seun. 

Jesus self kyk nie neer op my nie. Hoe kan ek nou neerkyk op enige iemand anders? Jesus kom as dienskneg of slaaf van die mens na die aarde. (Fil 2). En Hy sê dat in ons dieselfde gesindheid moet wees. Verder verheug Hy hom oor die terugkeer van die verlore skaap. Hy verheug Homself oor ons. "Dit is my geliefde Seun, oor Hom verheug ek my" Ons is nou die Seun se broers en susters. Wat 'n gedagte. 

Deur verheug te wees oor iemand, voeg jy geweldig baie waarde by tot sy lewe. Ek wil dit graag oefen en begin by my eie vrou. 

Maandag 15 Mei 2023

Stiltetyd Matt 18:6-9

Erns van ons invloed. Maak Hemel en Hel verskil.

Het wel 'n groot invloed. Wees dus versigtig en bewus.

Ons moet rentmeesterskap oor ons liggame uitoefen om dit te versorg en beskerm. Dit word as voorbeeld genoem as gesê word dat ons ons naaste lief het soos ons self. Tog is die erns van oortredings so groot dat dit beter is om jouself te vermink as om te val in sonde. Dit is in lyn met hoë standaard wat gestel word in berg predikasie.

Persoonlik maak dit my bang en onseker. Verseker sou ek dan al blind en sonder hande moes wees en dus seker dood, want ek struikel dikwels. As ons struikel word ons in die ewige vuur gewerp. 

Die hand en oog is baie kosbaar vir die mens. Die kosbaarste is nie die moeite werd om te behou as ons in die ewige vuur gewerp word nie. Is beter om dit af te staan. 

In my analise van wat in my lewe die moeilikste goed is om af te staan en wat my negatiewe gevolge het, dan is dit goed wat bitter moeilik is om af te sny. Een voorbeeld is ongedissiplineerdheid met tyd wat nie bewys dat ek my roeping voluit en effektief uitleef nie. Baie begeertes wat maak dat ek dit nie reg kry nie. 

Dit is sleg, maar wel goed om tyd te spandeer aan die vers en nie te vinnig spring na die feit dat ons reeds verloste mense is nie.

Ons begin met verlossing in Jesus en sekerheid van ons ewigheid wat by God gaan wees en nie in die ewige vuur nie. Vanuit hierdie wete benader ons die vers. Ons reaksie (groei en getuie wees) is dus uit dankbaarheid en ter wille van ons getuienis. Die grootste dryfkrag vir die groei is natuurlik onselfsugtige liefde. Ons strewe daarna omdat ons omgee en medelye het.

Ons reageer uit liefde na die wêreld en hierdie wet van Liefde is baie hard en vra 'n self weggee van onsself baie groter was wat die wet dit doen. Vanuit hierdie wet van liefde spreek hierdie vers ons ten diepste aan. Liefde dring ons om meer af te staan van onsself as wat die wet dit doen.  Dit is nie die straf wat ons motiveer om dit te vermy nie, maar die liefde. Vir ons wat in Christus se liefde leef, spreek die vers ons meer aan as hulle wat dit as wet lees. DUS: Maak baie erns met dit wat ons wil afstaan. Doen moeite om te analiseer wat dit is in ons lewens. As dit maar 'n fisiese hand of oog was om af te staan, sou dit makliker gewees het. Fisiese mutilasie verander dikwels ongelukkig nie ons hart en begeertes nie. 

Die benadering los nog nie al die vrae op nie en dit bly 'n interpretasie, maar ek dink tog dat die oplossing in die rigting lê. Met oplossing bedoel ek om te verstaan wat Jesus se bedoeling ten diepste was toe Hy die woorde geuiter het en hoekom Hy dit in Sy woord ingesluit het vir ons vandag.

Woensdag 03 Mei 2023

Stiltetyd Matt 18:1-5 Ag jouself so gering soos 'n kind

 (4) Op die vraag van die dissipels oor wie is die belangrikste, is dit duidelik hoe hulle nog oor God se koninkryk dink. Hulle sien Jesus in Dawid se plek dat Hy met geweld sy vyande gaan onderwerp en self koning word. Hulle wil dan ook posisies bepaal in hierdie koninkryk. 

2020 vertaling sê dat Jode dikwels die term "Koninkryk van die Hemele" gebruik het omdat hulle versigtig was om die naam God te gebruik. Die bedoeling is dus ook dieselfde as koninkryk van God. Dit kom van die 10 gebooie af waar hulle nie die naam van God ydellik mag gebruik nie.

Jesus begin egter om 'n eienskap van die ware koninkryk van God te verduidelik. Die koninkryk wat so ongelooflike betekenis het dat ons dit eerste moet stel in ons lewens. Soveel dat Jesus homself as God se koninkryk voorstel. As Hy wonderwerke doen sê Hy dat die koninkryk van God naby mense gekom het. 

Die beginsel is lyk my dat. hoe geringer jy jouself ag, hoe belangriker is jy in God se koninkryk. Dit voel vir my in kontras met godsdienstige mense wat al meer klem lê op eie waarde en liefde vir jouself. Daar is mense wat verkondig dat jy vir jouself moet vertel hoeveel werd jy is en hoeveel potensiaal jy het en so voorts. Dit is anders as om te sê dat ek 'n gebroke kleipot is met 'n skat in my wat ek nie verdien nie. 

Ek dink nie dit gaan oor die onskuldigheid van 'n kind en goed gelowigheid van 'n kind nie. Goed gelowigheid sonder onderskeiding kan jou heeltemal op die verkeerde pad bring. Dit lyk dit gaan hier oor die manier waarop Joodse kinders 'n geringe posisie in die samelewing gehad het. Hulle het geweet dat hulle nie 'n sê gehad het nie en ouers en ander moes respekteer. Wie is die mens as ons voor God staan? (Jawe). Jesus wat 'n slaaf van mense word. 

Dit is 'n waarde wat heeltemal dwars is met diep menslike begeerte na erkenning. Om teen eie natuur in te gaan en in plaas van erkenning te soek, erkenning te gee. Eers aan God en dan aan almal rondom jou. Ook hulle wat weens kultuur waardes minder geag word of weens die wet as oortreders geklassifiseer word. Om alle mense as geskape na die beeld van God te sien. Anders as diere. 

Here, ek ken my begeertes van erkenning en begeerte aan liefde van ander. Ek wil so graag belangrik wees of net iemand wees. Bewaar my van die bose en om nie dit my fokus te maak nie. Ek bid dat U gees my weer na die kruis sal vat. Dat my aardse koninkryk sal verander in 'n ware hemelse koninkryk. Dat alles op aarde die instrument sal word om lig en sout te wees. 

Die kontras spreek my egter deesdae baie aan. Jesus wat homself as slaaf geposisioneer het, was die Koning van alle konings. God wat ons konings en priesters maak is in ons en ons het Sy heerlikheid ten spyte van ons sondigheid, maar ons stel onsself in die posisie van diens en as geringste. As ek nie 'n koning was nie, sou ek nie kon dien nie. Ek kry dit nog nie klein genoeg gekry dat ek dit verstaan nie, maar ek weet dat dit die plek is van die grootste transformasie.

 Matt 17:21. Jesus kondig aan dat hy aan mense oorgelewer gaan word. Mense sal Hom doodmaak. 

Dit laat my dink aan die aard van mense. Mense is so erg oor hulle tradisies (dalk is daar baie vrese daaragter) dat hulle onreg teen Jesus pleeg. Die aard van menswees na die sondeval is om onreg te pleeg en keuses word ter wille van self geneem ten spyte van onreg oor ander. Alhoewel die Here soms die wonderlikste uitvindsels en liefde laat gebeur, is dit lyk my altyd teen die korrupte aard van die mens in. 

Die spanning van die menslike lewe en roeping is juis hierin geleë om teen ons aard 'n nuwe lewe te lewe.

vers 22 Die dissipels  het bedroef geword. Doodgaan verloor en seer kry was nie deel van die dissipels se idee van God se koninkryk nie. Tog is dit in God se plan vir sy koninkryk ook vir die lewens van sy kinders. God se koninkryk is baie sleg vir ons menslike aard en geneigdheid. God se koninkryk maak ons aard en menswees seer en dood. Vernietig dit, maar vir 'n rede, sodat die nuwe lewe kan grond vat. Dit is meer as ons eie aard wat dood gaan ook die van ander rondom ons en selfs ver van ons. Die onmenslikheid self vernietiging en verlorenheid mag en kan nie verdra word nie en ons kan nie fatalisties daarna kyk nie!  Ons kan nie meer onaangeraak bly nie.  Jesus het gesien, medelye gehad (jammer gekry) en genees. Dit word ons wese.

Ons is onlosmaaklik as gelowiges self in die proses. Aan die een kant hou ons fees, want ons is verlos en vry en aan die ander kant huil ons oor ons eie bose natuur en die bose natuur rondom ons. Aan die een kant is ons vol blydskap en is ons vry en bemoedig ons mekaar as gelowiges deur ons blydskap en lofprysing. Aan die ander kant maak dit ons vry om te kan huil en ons hele wese siel en liggaam in te gooi in 'n proses om lig en sout te wees vir ander en daarom werk ons ook aan ons eie sondes en swakheid. Die Bybel gebruik baie keer die woord swakheid. (Bv Heb 4:15).

Om lofprysing te doen en om in die ongemak te baklei vir genesing is ons wese tot Jesus kom en dan word ons finaal bevry!!

(27) Eintlik is die Leiers verkeerd en hoef die Jode nie belasting te betaal nie. Daar is lyk my egter al 'n tradisie om dat hulle wat Jesus volg moet betaal. Jesus oordeel om nie aanstoot te gee nie, laat ons betaal. Dit bring die vraag oor wanneer is daar reëls wat die menslike heersers afdwing wat mens nie kan gehoorsaam nie en wanneer pas mens maar aan. Dit lyk tog asof dit 'n verhouding is met leiers. Hulle het 'n plek. Alhoewel Jesus ons koning is en nie aardse konings nie, staan ons wel in verhouding ook met aardse konings en is dit nie goed om hulle te ignoreer nie. As ek voor die aardse leiers staan doen ek sover dit moontlik is wat hulle vra, selfs al is hulle onregverdig teenoor my. Hulle sal egter weet dat op die ou end staan ek onder God en nie onder hulle nie. Ons staan nooit onder aardse konings nie. Aardse konings bring dood as hulle nie hulle taak reg doen nie. Hulle taak is om God se waardes uit te leef en mense te dien met dit. In 'n groot mate het hierdie waardes begin verdwyn (nie heeltemal nie). Omdat ons onder 'n ander koning staan moet ons ook hierdie verhouding gebruik om hulle te herinner aan die basiese skeppings waardes van God en hulle bly aanmoedig deur voorbeeld om dit meer en meer waardig te ag en te volg. Al die wette, strukture van opvoeding en skole en so voorts, daarvolgens te bestuur.

Mangalwadi about Charlie Kirk

  To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...