Volg die inskrywings van die blog

Woensdag 21 Junie 2023

Stiltetyd Matt 20:1-16 Dieselfde loon eerste en laaste

 Gelykenis van die werkers in die Wingerd. 

Wat die Here vir ons gee, is nie volgens wat ons verdien nie, maar slegs omdat ons in die wingerd is en werk. Dit is dus werk wat nie 'n verskil maak aan dit wat ons ontvang nie. Die enigste wat tel is of ons in die wingerd is en werk of nie. 

Mat 20:2  Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk.

Ons is aangestel met 'n doel. Daar is werk. Dit is ook nie 'n gekomparteerde werk nie, dit is ons hele lewe van 24/7. Ons lewens is ons werk.
Mat 20:4  en hy sê vir hulle: 'Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.'
So het die eienaar 'n paar keer gemaak. Op die ou end het hy iemand wat 1 uur gewerk het, 'n hele dag se loon gegee. Is dit billik? Billik beteken geregverdig kom van Griekse oorsprong van heilig. Die algemene bestaande ooreenkoms is 'n dagloon vir 'n dag se werk. 

Verwagtings in Christenskap en in ons verhouding met die Here is slegs gebou op Sy genade en dit is nie 'n transaksie van jy kry in verhouding van wat jy gee in die verhouding nie. Dit is hoekom 'n moordenaar aan die kruis dieselfde loon kry as 'n lewenslange toegewyde en hard werkende kind van die Here. 

Ons getuienis taak het geen verband met ons hemelse beloning nie. Die beloning is eers vas gemaak en toe begin die werk.

Wat ons werk op aarde betref, is dit dikwels dat hulle wat die getrouste is (volgens ons standaarde) die mense wat die swaarste kry en meeste seerkry en ly. Tog is daar niks op aarde wat jou vreugde van jou kan weg neem nie. Noem maar op!

Here dit is so moeilik om met 'n aardse manier van dink ons motivering om ALLES prys te gee nie te bou op wat ons gaan ontvang nie. Bou in ons 'n liefde vir die Koninkryk en vir die ALMAL op die aarde deur U Gees as vrug van die Gees en begelei ons op die pad om dit al meer ons motivering te maak. 

Kant opmerking: Ons liefde vir God is ingebed in ons liefde vir die wêreld. Dit is dieselfde ding?! Dit is geloof in die realiteit van die aarde. Dalk kan ons glad nie God lief hê sonder die aarde nie. Liefde sonder doen is nie moontlik nie. Liefde kom van God en vloei uit na die aarde en sy mense. Ek glo dit is 'n proses sonder verwagtinge, maar slegs 'n diep Goddelike begeerte wat deur ons gebeur. Sonder verwagting, maar diep vreugde van elke kleinste van kleinste reaksie van mense uit liefde vir die koninkryk. Onverdiende vervulde ewige lewe wat nou reeds begin. Vreugde is op grond van groei van ander! (Engele wat juig oor 'n sondaar wat hom bekeer). Juis omdat ons fokus op die koninkryk is en nie op ons self.

Ook goed om te sien dat dit in 'n aardse konteks gebeur. Werkers in wingerde is die konteks, dit is die leefwêreld van die mense vir wie dit vertel word. Om elke loot toegewy en korrek te snoei, elke onkruid uit te haal en 'n wingerd in liefde te ontwikkel. Wat hulle het is die grond, lug, gehoor, sig, gevoel, verstand, gesondheid, ens ens. Om dit alles so goed moontlik deur harde werk deel te maak van die diens aan die Eienaar. Ons vreugde word al meer die wingerd en nie wat ons ontvang.

Mat 20:15-16  Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?'  (16)  So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste."

Wat maak dat ons nie bly is as iemand anders, meer as ons, iets goeds ontvang nie? Laat dink my aan die verlore seun se terugkeer en die ouer broer.
Here laat U Gees in ons 'n gesindheid skep van voordeel soek vir ander en nie vir ons self. Dat ons vreugde vind in redding en voorspoed van ander ten spyte van my pyn en lyding. Dat ons hierdie vreugde in ons huwelike of intieme verhoudinge kan soek en laat groei. Vergewe ons ons afguns en oral waar ons ons eie belang belangriker maak as ander.

Die gesindheid dat ons kry wat ons nie verdien nie en die wete van my gebroke geaardheid wat niks verdien nie, dink ek moet die basis van ons lewens wees. Dit maak dat genade ALTYD hierdie ongelooflike beginpunt van alles is. Dat ons vreugde buite ons self is. Moderne denke en sielkunde lyk dit vir my wil dit andersom doen. Hulle wil mense help om vreugde in hulleself te vind en daarom moet mense altyd bewus gemaak word van al die goedheid in hulle en dan daarop bou. Dit is dan dat daar met alle mag nooit verwys mag word van die negatiewe in mense nie. Ons het egter nodig om bewus te wees van ons sondigheid om die vreugde van genade buite ons self te vind (alhoewel die Gees waardeur dit na ons kom wel binne ons is, maar nie in ons mens wees en ou natuur nie).

Here help ons om nie ons identiteit in ons self en eie prestasies te vind nie, maar altyd in U en vreeslik dankie vir die genade in Jesus Christus die gekruisigde wie se bloed ons skoon was van ons skuld en so die fondasie van ons lewe en werk word. Vergewe enige trots in ons al werk ons al die hele dag.

As ander se voordeel jou fokus is, maak dit nie sin om ander te oordeel nie. Oordeel is van 'n ingesteldheid van meer en bo iemand anders te wees, maar diens of hulp (wat ook soms blinde kolle of sonde uitwys) kom van onder. Dit is dan ook die gesindheid wat ons soek deur die Gees vir huwelike, en dan ook vir klein groepe en gesinne.

Een van die struikelblokke is die eie stryd. Ek reken dat daar nie 'n mens is sonder uitdagings nie. Daar is vir elke mense moeilike omstandighede, mense, skaamtes, of wat ook al om te hanteer. Dikwels dink ons dat myne groter is as anders sin. Daar is baie persepsies oor die stryd. Dit is goed om te besef dat almal dit het. Dit gaan dus nie of jy dit het nie, maar hoe jy daaroor dink en daarop reageer. Ons weet dit is nodig vir groei. In my eie lewe sien ek dat my stryd met Christus groei bring of my stryd vanuit aardse perspektief vernietiging bring. Christus maak dat ek my stryd omhels en dit my vennoot maak. Ek hou nie van die vennoot nie, maar saam bou ons 'n koninkryk wat nie ons eie is nie. Daar is aspekte van die stryd wat ek seker sal hê tot ek dood gaan, en in Jesus werk ek daaraan dat dit my nie vernietig nie, maar bou. Ek aanvaar wat die Here nie in my verander nie. Sy wil is beter as myne. Ek bly stry en maak dit nie my fokus nie, maar leer om Sy koninkryk die fokus te maak en dan kom die stryd ook in die perspektief waar dit moet wees. Dit help my werklik om te weet hoe afhanklik ek is van God. Dit help my om in myself te sterf. Dit help my om fokus op Sy geregtigheid te hou. Dit help my om fokus op die koninkryk te hou. Deur Sy Gees werk dit aan my trots en bring 'n nederige sagte gees in my veral teenoor ander. Soms gebeur daar wonderwerke en gedeeltes van die stryd word 'n oorwinning, veral as dit vir die mense om jou groei bring. (Oorwinnings waar dit net vir jouself bevoordeel, word asof dit nie meer oorwinnings is nie, jy verloor daardie vennoot). Nou bring dit 'n ander stryd en dit is volharding in wat ek geleer het toe daardie deel van die stryd nog bestaan het. So stadigaan word my laaste wees en ander se eerste wees vir my voordelig. As my eie natuur en begeertes en sondigheid en ander mense se skaamte seer en swaarkry en verlorenheid my opponent is dan stry ons vir fokus op Sy geregtigheid en koninkryk en die res is in Sy hande. As my opponent 'n ander mens is, dan is dit meestal beter om menslik gesproke te verloor as om te wen. Jy wen dus deur menslik gesproke te verloor. Soms in klein goedjies. Ek het soms in 'n gesprek 'n beter storie op te vertel as die storie wat vertel word. As ek reg kry om nou nie die beter storie te vertel nie, maar vreugde te vind in die ander se storie, dan het ek van die eer verloor wat ek kon hê, maar ek het die vreugde van oorwinning deur die ander se vreugde groter te maak. 

As ons die Here se vreugde soek, dink ek, is dit beter om dit nie te soek in wat Hy vir jou doen nie. Dit is baie beperk en tydelik. Ek wil amper so ver gaan om te sê dat dit vermy moet word om vreugde in jou eie voordele te soek. Dit moet al hoe minder word. Daardie vreugde kan op die langer duur negatief wees. As daardie omstandighede verdwyn, dan verdwyn die vreugde en ons sit dan nog met teleurstellings ook. Nee, soek jou vreugde eerder in die Here self. Sy goedheid en wysheid en wat Hy vir ander en vir jou vyande doen. Sy koninkryk en mag oor die bose en gebrokenheid in die wêreld. Sy genade en vergifnis van ander. In ons lofprysing, loof ons Hom in die eerste plek vir sy betrokkenheid in ander gebroke mense se lewens en die gevolg is dat ons vreugde vind in verlossing van ander en so ook in verlossing en bevryding van ons self. 

As ons dus laaste is en bewus is van ons onverdienste, dan is ons eerste. As ons iets probeer verdien, sal ons laaste wees in Sy koninkryk?
Daar is 'n onbeperktheid in wat die eienaar kan gee. Tog gee Hy volgens sy goedheid nie vir almal alles wat hulle reken hulle nodig het nie. Dit laat my dink aan hoeveel mense mens die goeie boodskap baie gebroke probeer oordra en hoe min daar werklik reageer en oop is. Hoeveel werklik soek. Die wat soek is gewoonlik in hoë spanning en op die einde van sy tou. Hoe om te soek vir hulle wat soek? Oop te wees vir die soekendes tussen die ander. Die persoon nie die skare. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Mangalwadi about Charlie Kirk

  To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...