Volg die inskrywings van die blog

Dinsdag 17 Oktober 2023

Stiltetyd Matt 21:28-32 Geloof is werk

Mat 21:28-32  "Wat sê julle hiervan? Daar was 'n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: 'Seun, gaan werk vandag in die wingerd.'  (29)  'Ek wil nie!' antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.  (30)  Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: 'Goed, Pa,' maar hy het nie gegaan nie.  (31)  Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?" Hulle sê: "Die eerste." Toe sê Jesus vir hulle: "Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in.  (32)  Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie."

Jesus praat met leiers in die Tempel.

Hier is albei seuns van die man. God kom bied sy Vaderskap aan aan almal. Jesus is die persoon om wie dit draai. As jy hom glo en aanvaar, aanvaar jy Hom en as jy nie vir Jesus glo en aanvaar nie, aanvaar jy nie vir die Vader nie. Dit is 'n baie sterk tema in die evangelies.

Laat ons antwoord vir God eerder dade wees as woorde!! 

(Belangrikste werk is om self intensioneel te ontwikkel en groei. Dit vra groot erkentlikheid. Identifisering van waar ek moet ontwikkel. Dit doen en nie net dink nie. Ens. Jy mis iets krities en vervullend indien jy nie groei nie. Beginpunt.) 

God gee ons die gawe daarvan deur ons te stuur om te gaan werk. Werk in Sy koninkryk. 

In vergelyking. Die kerk leiers het die boodskap gehoor en "ja" gesê. Toe kom Johannes en toe Jesus en hulle het Hom nie geglo nie. Dit wat hulle gedoen het, was nie wat God wou hê hulle moes doen nie. Hulle het die wet probeer doen en alle regulasies probeer nakom. Feeste en Sabatte gehou ens. Die opdrag uit die gedeelte was egter om Jesus te glo. Dit is vreemd, want geloof kom nie van 'n mens nie, dit kom uit God. So dalk moet mens dieper kyk. Die opdrag was om die verhouding met God te aanvaar deur Jesus sodat die Gees van God deur die mens kan werk. Aan die ander kant is die tollenaars en prostitute die mense wat eers "nee" gesê het en toe Jesus kom en die verhouding met Hom aangebied word, toe glo hulle Hom. Deur te glo in Jesus, het hulle God se opdrag om te gaan werk vervul. Daar word nie gesê wat hulle verder gedoen het as om te glo nie. Dit word dalk veronderstel dat omdat hulle in Jesus geglo het, het God hulle in Sy span gebruik om in die Koninkryk te werk. 

As mens na die twee spanne kyk, wonder mens waarna streef ons werklik? Die een span probeer alles reg doen en gehoorsaam wees en so op die ou end word hulle volgens hulle self beter as die tollenaars en prostitute. Hulle het sterk goddelike tradisies en tempeldiens wat soveel moontlik opdragte uitvoer. Hulle strewe na die lees en ken van die geskrifte en strewe na geleerdheid en kennis oor hoe om God te gehoorsaam. - Die ander span word meer geken as die sondaars en oortreders. Hulle is soekend na verlossing vergifnis en genade. Hierdie stewe bly waar vir hulle hele aardse lewe. Hulle glo Jesus en vind in Hom en Sy kruis dood wat hulle soek. Hulle leef in berou en gebrokenheid omdat hulle weet dat hulle hier op aarde altyd tekort sal skiet. Hulle hoop is in Jesus nou en in die Ewige lewe eendag. In hulle groei daar 'n liefde wat van God kom en binne hulle kom woon wat maak dat hulle die onderdrukkers begin sien, jammer kry en bedien met Jesus. Hulle lewe is dus 'n "ja" vir Jesus, die Alfa en die Omega, die begin en die einde. 

Die kern vraag is dus nie wat jy doen nie, maar vir watter span jy "ja" sê. Die span wat "ja" sê en toe "nee" vir Jesus, hulle heers en vervolg die span wat "nee" gesê het. Prostitute en Tollenaars moet mos volgens hulle verwerp word, want hulle is teen God en sy gebod. Hulle sal mos nie God se mense wees nie. Aan die ander kant die span wat "nee" gesê het en wel geglo het, is hulle wat die die heersers en onderdrukkers dien met die evangelie van Jesus. Dit doen hulle met lyding en blydskap. Dit is dan die werk in die wingerd waarvoor hulle gestuur is.

Die werk in Sy koninkryk gaan noodwendig saam met werk in jouself. Jy is in alles betrokke as mens, want jy verander so dat jy lig en sout word. Dit is 'n innerlike verandering deur die Gees wat gevolge het van opoffering, lyding, vreugde en vervulling, lig en sout wees, gehoorsaamheid en nuwe lewe. Dan kan dit wees dat Hy jou ook 'n spesifieke roeping gee, soos om in Mosambiek te gaan dien of jou werk 'n bediening te maak. Dit alles gebeur omdat daar iets in jou gebeur het. 

Hoekom gaan sondaars eerder die koninkryk in as hulle wat alles reg probeer doen? Juis omdat hulle Johannes geglo het. Johannes het van Jesus getuig en het 'n verhouding met Hom verkondig. "Die stem wat roep in die woestyn, maak gelyk die pad" Dit is die pad van die een wat na my gaan kom. Hulle het as sondaars daarop reageer met hulle lewens. Hulle het begin groei, verhouding bou as sondaars, want die iets wat in hulle gebeur het het te doen met geloof in die man wat Johannes verkondig het. Hulle het sy woorde aanvaar en dit het iets aan hulle gedoen.

Christenskap gaan oor 'n reaksie op God se boodskap wat Jesus is. Wat maak jy met Jesus? Dit gaan nie oor die mondelingse antwoord nie, maar oor die verandering wat dit in jou bring. Dit kan seker bekering genoem word, alhoewel dit twee seuns was. Ons kom daagliks tot bekering. Die belangrike ding dit het 'n reaksie in ons tot gevolg. 

Weer kom Jesus met 'n klaarblyklike totaal ander godsdiens en mense glo dit nie. Toe bewys Jesus dat Hy is wie Hy sê Hy is. Tog het hulle nie spyt gekry en geglo nie. Dit gaan dus nie oor die uiterlike rituele en maniere van doen nie, dit gaan oor die verhouding met God en dan spesifiek deur Jesus as die teenswoordige God self tussen mense. Die een wat die weg en die waarheid is en dus die een wat wreed aan 'n kruishout sy bloed moes giet vir mense. Geen ander vertroue bring die ommekeer nie, behalwe die geloof in Jesus. Sondaars het dit aanvaar. Hoekom is dit so moeilik vir kerk mense wat God probeer dien met al hulle rituele en regulasies. 

Dalk lê die moeilike ding in die woord "berou kry". As daar soveel is waarop ek trots geword het in wat ek reg doen en later sien dat dit nie die basis is nie. Wat nou nodig is om berou te kry dat ek nie by Jesus gebly het nie. Dat ek weer moet erken ek is verkeerd en ek moet geloof terug trek van soveel dinge af na Hom toe. 

Dit is seker juis wat Johannes se bekerings boodskap beteken. Bekering is nie die aflê van sonde en die nakoming van wette en regulasies nie. Sy bekering is 'n bekering van vertroue en geloof op ander goed wat moet terug keer na 'n geloof in Jesus alleen. Die pad van geregtigheid van Johannes is volgens my Jesus self. Daar is nie 'n ander geregtigheid hier op aarde nie. Nuwe regulasies en lewens veranderinge sal wel daaruit weer volg, maar dit moet altyd die verhouding geloof en vertroue in Jesus dien. Die wonderlike daarvan is dat tollenaars en prostitute dit eerste doen. Dit is vir ons sondaars bedoel! Die wat laaste is sal eerste wees. - Weet ek nog dat ek 'n sondaar is? Dan is Jesus die enigste bron van Lewe.

 (31)  Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?"

As mens kyk na die vraag, dan word veronderstel dat iemand ten minste gehoor het wat God wil hê. Daar is dus mense wat die stem van God gehoor het. Dit wat God wil hê, glo ek, was in die verlede die wet van God. Mense kon dit egter nie reg kry nie en daarom het Hy Jesus gestuur. Nou wat God wil hê dink ek lyk soos volg. Eerste, aanvaar die liefde wat God vir jou het en aanvaar die verlossing wat Hy vir jou bied. Dit is wanneer jy "ja" sê is wanneer jy die verlossing aanvaar. Hierdie aanvaarding kom uit 'n diep bewustheid van jou sonde en ellende. Omdat dit uit so 'n diep bewustheid kom(deur Sy Gees), word die bevryding 'n diep transformasie in ons. Dit het dus gevolge en bring groei in ons ellende. Dit is nie 'n aparte beweging nie, maar dit is 'n noodwendige gevolg. Dit gebeur wanneer daar 'n wil in jou wakker word om te wil groei(deur die Gees van God). As ons groei deur ons hele lewe gemeet word, dan sal dit met ons dood nog steeds baie ver tekort skiet en bring dit ons geen groter regverdigheid as wat ons reeds gekry het met verlossing nie. Tog sal dit vrugte dra, want dit is wat God belowe sal gebeur deur die werking van Sy Gees in ons. 

Wat is die iets wat in ons gebeur. Dit is iets van 'n oorgee aan God se Gees sodat Hy kan doen deur jou wat Hy wil doen teenoor jou boosheid ellende en geneigdheid tot die kwaad. D.w.s, in die proses bloei jy, want dit wat Hy wil is teenoor jou wil en behoeftes en begeertes. Tog is dit wat in jou gebeur groter as jyself. Dit is God se werk, maar jy is as mens totaal betrokke daarin. Geen geduld, liefde ens. kom as jy nie daaraan werk nie. Eerste moet jy sien wat Sy wil is en wat in jou verander moet word. Dan moet jy besluit wat jy Hom wil toelaat om te verander. Dalk geduld, of deursetting vermoë, dissipline of wat ook al. Dan begin jy daaraan werk. Jy doen dit ook saam met ander sodat daar verantwoordbaarheid is. Mede gelowiges word jou mede reisigers op die pad. Hierdie is harde werk in God se wingerd. Noudat dit in jou begin groei, is jy weer die bron van groei vir ander. Alles deur die Gees van God. 

Geloofsbelydenis sonder hierdie transformasie en werk, maak van my 'n doen lose Christen. Sondaars is beter hiermee as mense wat dink hulle het 'n goeie lewe. Dit is dus nodig om te weet jy skiet te kort en nie net 'n bietjie nie, maar baie. 



1 opmerking:

  1. Danie, so baie insig. Mens sien jouself in albei skoene. Bybel lees, om Jesus te leerken, skiet my baie tekort… en dalk sien ek dit verkeerdelik ( of reg) as n moet…

    AntwoordVee uit

Mangalwadi about Charlie Kirk

  To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...