Mat 20:29-34 Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg. (30) Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: "Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!" (31) Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: "Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!" (32) Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: "Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?" (33) Hulle sê toe vir Hom: "Here, dat ons oë oopgaan." (34) Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.
Hier het die Here Ja gesê! Ander kere sê U nee. Die resultaat is seker minder belangrik as die feit dat ons kan vra en gehoor word en 'n antwoord kry.
Hulle moes meer as een keer vra en amper desperaat om nie die geleentheid te mis nie. Dit bly vreemd dat 'n mens blykbaar Jesus se planne verander deur smeking. Of was dit van die begin af Sy plan in elk geval? Dalk moet mens net sê dat ons belewenis van ons nood en smeking (Paulus gee ook die opdrag aan die gemeentes om te smeek 1Tim 2:1, vir alle mense. In 1 Tim 5:5 is daar weer die weduwee wat elke dag in smeking haar hoop op God plaas, want sy het niemand anders nie, maar dit is nadat verantwoordelikheid teenoor familie verduidelik is en ook gesê word dat 'n weduwee wat uitspattig lewe dood is al lewe sy). Die opdrag vir smeking is smeking vir alle mense. Dus onselfsugtig. Daar is ook smeking vir eie nood, maar lyk asof dit net is wanneer dit werklik nodig is. In Fil 4:6 kom smeking ook soos in Tim as opdrag voor saam met voorbidding en danksegging. Dit lyk dus asof smeking sonder danksegging gevaarlik kan wees, maar werk saam met danksegging. Of smeking nou God se plan verander of nie, dit lyk my is deel van God se plan en deel van lewe.
Die teenwoordigheid van God was deur Jesus. Vandag is die teenwoordigheid van God deur Sy Gees en dit is oral en altyd. Oorheersende realiteit! Maak nie saak of dit in ons gevoel word of nie! Dikwels is daar geen gevoel nie. Elk geval nie by my nie.
Hulle vra vir ontferming. Medelye en dan versorging en hulp. Sien - Jammer kry - genees. Dit wat Jesus dikwels gedoen het.
Alhoewel Jesus weet, vra hy wat hulle wil hê Hy moet doen. Ons word dus aangemoedig om ons verstand te gebruik in ons verhouding met Hom alhoewel Hy alles weet. En om dit in woorde om te sit.
Jesus het hulle aangeraak. Dit is geweldig persoonlik en watter vreugde as Hy Ja sê. Jy weet Hy het gesien, jammer gekry en genees. Ek is vir Hom belangrik. As God soms nee sê, maak dit geen verskil aan Sy "innig jammer kry" nie. Ek moet my herinner dat die woord INNIG waar bly. Dit word bewys deur die kruis. Ons moet waak om nie verwar te raak as dinge nie loop soos ons gereken het nie. Dan kan ons altyd terug kom na hierdie realiteit.
Hulle reaksie was dat hulle Jesus gevolg het. Weereens is Sy liefde vir ons, nie net vir ons vertroosting nie, maar om vanuit dit 'n getuie te kan wees. Getuie wees en dien is altyd meer belangrik as enige iets hier op aarde. Weereens bevestig ons dat ons nie daartoe in staat is nie, maar dat dit Sy identiteit deur ons is, gemeng met ons gawes en persoonlikheid. My reaksie is dus 'n oorgawe met vertroue aan Hom en SY wil en soeke na Sy koninkryk en geregtigheid. Vir groei sal daar tyd hieraan spandeer moet word in stilte, maar ook tydens aardse dienswerk oral waar ons werk en beweeg en slaap en ontspan. Veral ook in lyding en dood, want daar is die getuienis nog sterker.
Om te hoor wat die Here hier sê deur die verse is dit dalk nodig om so 'n groot begeerte te hê na God se wil dat ek my wil ondergeskik maak. Ek moet weet dat Sy wil so goed en volmaak is en betroubaar. Hy wil die beste vir ons! vir ander! My wil is dikwels die struikelblok en rede tot jaloesie as 'n ander 'n ja kry en ek nie.
Dit is nogal belangrik om te leer wanneer om vir iets met elke krag en passie en beplanning te begeer en soek en wanneer om tevrede te wees met wat ek het. Dikwels dink ek dit is om eers tevrede te wees met wat ek is en het en dan passievol te begin baklei vir iets waar ek die vreugde ken om saam met God te weet wat Hy wil. Tog wil Hy ook hoor wat ek nodig het. In my hart is 'n nee antwoord goed, want Sy wil is beter as my eie. Dit is ter wille van myself ook nodig om vir Hom dit te sê. Here nogtans nie my wil nie, maar laat U wil geskied. Ek voel nie so nie, maar ek weet dit is beter. Dankie vir U nee antwoord vandag. Wees U my vreugde ten spyte van my begeertes. Ek wil uit U leef en nie uit tydelike aardse dinge nood en prestasies. Dankie dat U my daarin begelei en leer. My seerkry is saam met U en daar is geen rede hoekom ek minder moet ly as U, die profete en martelare voor my en vandag. Gebruik my aardse seerkry as U getuienis.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking