Mat 19:16-30 Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: "Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?" (17) Hy het vir hom gesê: "Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie." (18) "Watter gebooie bedoel u?" het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: "Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, (19) eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (20) "Dit alles het ek nagekom," het die jongman gesê. "In watter opsig skiet ek nog te kort?" (21) Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My." (22) Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. (23) Jesus het toe vir sy dissipels gesê: "Dit verseker Ek julle: 'n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. (24) Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom." (25) Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: "Wie kan dan gered word?" (26) Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." (27) Toe sê Petrus vir Hom: "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?" (28) Jesus antwoord hulle: "Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. (29) En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry. (30) Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste."
Volg die inskrywings van die blog
Maandag 12 Junie 2023
Stiltetyd Matt 19:16-30
16 Deur die eeue is dit die vraag vir Jesus. Wat moet ek doen. Hier selfs vereenvoudig tot een daad. NV sê watter goeie ding moet ek doen.
(17) Hy het vir hom gesê: "Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie."
Hier redigeer Jesus sy vraag en manier van dink. Dit is nie wat jy doen wat maak dat jy goed of sleg is nie. Jy gaan dit nie op die aarde so reg kry nie. Daar is net 'n een persoon wat goed is. Hy sê dus dat hy nie sal goed word deur 'n daad te doen nie. Daar is 'n goedheid wat die mens nie kan kry deur goeie dade nie. Dit kom slegs van God af. Ons neig soveel keer om aan dade en goed doen te dink. Ons wil die ewige lewe verdien.
Die betekenis van MAAR, ek sal wel jou vraag antwoord as jy dit met doen wil doen. Nou word die een daad gebooie. Alhoewel jy nie dit gaan reg kry om die ewige lewe te kry deur die dade nie, sal ek vir jou sê wat jy moet doen as jy dit wil reg kry. Dit wil sê dat as jy dit reg kry om alles te onderhou, is dit moontlik. Daar is nou nog mense wat glo jy kan dit reg kry. Dit is nogal 'n groot skuif in menslike denke om van so 'n manier van dink te verander na goedheid wat in God is en nie in jouself nie. Jy ontvang goedheid van buite jouself en nie uit eie inspanning. "Daar is net een wat goed is" My sleg wees vat dan nie die goed wees wat ek gekry het weg nie.
As ons dus strewe om goed te wees, maar uit vertroue op ons self, dan gaan ons dalk sekere goed reg kry, maar ek gaan verder van God beweeg en op die ou end boser invloed op ander hê as voorheen deur ons goeie dade, want nou word dit voorgee van goed wees uit ons self. Dit is soos die fariseërs en baie kerk mense val ook in die gat. Wanneer ek egter soek na God se goedheid, gaan daar wel outentieke goeie dade begin ontwikkel in my, maar ek sal nooit daarop kan staat maak nie. Ek maak nét staat op die enigste een wat goed is. Hierdie goedheid se grootste eienskap is dat dit goedheid wil bring vir ander. Dit wil sê ontvang goedheid met die uitsluitlike doel om dit uit te leef teenoor ander. Is goedheid dan moontlik?
(26) Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik."
Hier word dit ook duidelik dat goedheid nie van mens kom nie, want vir die mens is dit onmoontlik.
(18) "Watter gebooie bedoel u?" het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: "Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, (19) eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
As Jesus dan die gebooie opsom dan selekteer Hy van die 10 gebooie 'n paar gebooie. Vier goed wat jy nie mag doen nie en een uit die 10 gebooie wat jy moet doen nl eerbied aan Vader en Moeder en dan voeg Hy die liefdesgebod teenoor jou naaste by. Dit is volgens my interpretasie die gevolge van God se goedheid in ons wat ons soek en kry deur Jesus.
(20) "Dit alles het ek nagekom," het die jongman gesê. "In watter opsig skiet ek nog te kort?" (21) Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My." (22) Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
Hier word gewys dat die implikasies van liefde vir jou naaste te groot word vir 'n goeie mens om dit uit te leef. Iewers gaan jy kom by die punt wat jy teleurgesteld omdraai, want maak nie saak hoe graag jy die ewige lewe wil hê nie, sal daar altyd 'n punt kom waar jy dit nie maak nie. Volmaaktheid kom nie uit die mens nie.
(26) Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." Die reguit aankyk of "Stip na hulle gekyk", wil vir my sê dat Jesus iets spesiaals wil sê. Ook dat hulle dit in Hom moet sien. Dit is asof die Here wil sê dat ons uit die menslik onmoontlike moet beweeg in 'n lewe van die moontlikhede wat God gee. Worstel met die Here oor wat Hy in jou begin. Maak seker dit is nie iets wat uit jou eie selfsug of wil kom nie. Worstel tot jy weet wat Hy wil. Doen dan dit wat menslik onmoontlik is, want Hy doen dit. Laat U wil geskied en laat U koninkryk kom!
(27) Toe sê Petrus vir Hom: "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?"
Hier kom die soeke na die doel van alles vir die dissipels. Hulle wil darem iets kry uit hierdie verhouding en diens aan Jesus. Jesus bevestig dat hulle sal dit alles kry in 'n nuwe bedeling. Tog bly Sy fokus by die prys gee van self in hierdie bedeling:
(30) Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste."
In hierdie bedeling lê ons koningskap in laaste wees. Die prys gee van self. In dit doen ons die Wil van God. Iets wat ons persoonlik by Hom gehoor het vir ons gawes en omstandighede. Dit gaan altyd gepaard met opoffering van wat ek het en myself. As daar niks oor is nie, dan is ek vry en bestuur ek wat Hy onder my beheer geplaas het. Selfs al het jy baie gawes en baie aardse rykdom, is dit nie meer joune nie. Dit is dus self vernietigend en spanningsvol. 'n Spanning agv die liefde vir die wêreld. Tog vry en vreugdevol.
Spanning daarvan om alle mense in God se liefde in te sluit en alle boosheid met goedheid en wysheid uit te werk. Dit vanuit 'n menslik onmoontlike verhouding, die verhouding van 'n sondaar mens met 'n heilige almagtige God dmv SY liefde.
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Mangalwadi about Charlie Kirk
To honor Charlie Kirk We have to reform the university When the US president calls the media “Fake News,” he implies that the Post-Truth w...
-
Mat 20:29-34 Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg. (30) Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het...
-
Mat 21:1-11 Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur (2) en vir hulle g...
-
Mat 20:17-19 Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: (18) "...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking