Mat 19:1-12 Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy uit Galilea vertrek en in die gebied van Judea anderkant die Jordaan gekom. (2) Groot menigtes het agter Hom aan gegaan, en Hy het hulle daar gesond gemaak. (3) Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: "Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?" (4) Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? (5) Daarby het Hy gesê: 'Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.' (6) Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie." (7) Hulle vra Hom toe: "Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou 'n skeibrief gee, hy van haar kan skei?" (8) Hy antwoord hulle: "Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. (9) Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk." (10) Sy dissipels sê toe vir Hom: "As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie." (11) Maar Hy sê vir hulle: "Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. (12) Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. Wie dit kan doen, laat hy dit doen."
(3) Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: "Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?" Die Fariseërs tree hier op as teenstanders van Jesus. In hulle verstaan van godsdiens, is hulle steeds besig met die gehoorsaam en straf godsdiens en ook oor posisie en aanvaarding by God en kerk. D.w.s 'n vrees en spanning godsdiens. Hierdie Jesus is lastig met die omkrap van hulle sinagoge struktuur. Hy moet verkeerd bewys word en deel van die onaanvaarbares word. Vyande van die kerk moet teengestaan word om God te beskerm.
(4) Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Hierdie is 'n duidelike uitbeelding van huwelik en God se skeppings bedoeling. Die huwelik as 'n goddelike instelling. Dit is dan ook die riglyn vir wat Gender is.
(5) Daarby het Hy gesê: 'Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.' Ek grawe nog in die betekenis van een liggaam word, groter as jou ouers se gesin verbintenis. Dit is fisies, maar ook in gees. Liefde word verbind met jou (soos 2020 vertaling met opsomming van wet) hart siel en verstand. Op ander plekke ook "met al jou kragte" Eenvoudig seker maar net hele wese. Jy is nie meer ek nie maar ons. Verbintenis wat herinner aan drie eenheid. Jy weet nie meer wie het wat gedoen het nie en steeds doen. Op die ou end raak dit God wat deur die "ons" doen alles wat julle doen. Elkeen het steeds 'n funksie, maar omdat die denke verander na ons, raak die verskillende gawes en funksies deel van 'n groter eenheid. Hoe groter die verskil, hoe groter die potensiaal van die eenheid. As jy baklei, baklei jy al meer vir jou ander persoon en al minder teen die ander persoon. Ek reken ek het die Here se stem hierin baie duidelik en direk gehoor. "Danie, hou op om teen jou vrou te baklei, baklei vir haar". Nogal 'n skokkende ervaring. Nou word hier bygevoeg, baklei vir die ons. Na regte behoort dit onmoontlik te wees om teen jou vrou te baklei, want jy baklei dan teen jouself ook. Dink net hoe radikaal anders dit is as die denkwyse van een wees in ons verstand se denkpatrone ingegraveer is deur die Heilige Gees. Dit teenoor hoe kulture daaroor dink. In menslike verstand is dit twee mense en hier moet God ons verstand verander (Rom 12) om die waarheid te kan word in ons gedagtes wat dan ons hele menswees bepaal. As jy dan ver van jou vrou is, is jy nog steeds een met haar.
(6) Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie." Die een wat dit doen is God en nie die mens. God drie enig, voeg twee mense saam. Dit is dan net nie logies om weer "uit mekaar" te haal nie. Tog het die mens die vermoë of mag gekry om dit stukkend te breek. Daarom die opdrag uit God se liefde "mag die mens nie skei nie".
(8) Hy antwoord hulle: "Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. Die opmerking "Harde harte" (2020 vertaling) beteken dus dat ons harte moes sag wees. Ek dink nie dit is 'n sentimentele sag wees nie. 'n Sagte hart is vasberade ook, maar nie volgens eie vlees, begeertes of voordeel nie. Dit is 'n sagte hart teenoor God en mekaar. Ek wonder of daar hardheid in jouself oorbly as jy jou eie voordeel prys gegee het.
Here, my eie vlees oorweldig my nog soveel kere! Here, maak my vlees saggies dood! So deur Jesus aan die kruis! Ek glo dat U wil hê dat hierdie vlees ook U moet dien.
Hoekom moet my vlees noual dood gemaak word en nie net wag tot ek eendag daarvan bevry word nie? Ek dink dit is omdat die Here die vlees noual wil gebruik
(9) Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk." Hierdie is die hartseer wat vergelyk kan word met God se liefde en redding van die mens ook. Hy het Homself een gemaak en dit is Sy manier van "dink en wees". Tog die mens weerstaan die liefde en een wees en kies om alleen te wees of met 'n ander verbind te word. Soos mense afgode begin dien ens. God gee alles. Deur Sy Gees maak Hy dit moontlik dat ons met ons besoedelde vertand kan groei in 'n verstand wat die eenheid kan verstaan en wees. Ons leer mekaar om dit te wees. As sommige die eenheid as offer beleef en die offer te groot word, gaan God jou nie dwing nie. Hy maak die eenheid moontlik, maar dwing jou nie om dit te vat nie. So ook nie met jou verhouding met Hom nie. Dit is om 'n harde hart te hê en nie die goeie van God te aanvaar nie.
Weens die uitverkiesing is hierdie steeds 'n onsekerheid, maar Here, ek staan op die feit dat U dit vir my moontlik gemaak het om U kind te wees en dat geen offer dus te groot is nie en U het dit ook moontlik gemaak om een te wees met Bonny en deur U Gees sê ek weer ja. Dit is radikaal anders.
(10) Sy dissipels sê toe vir Hom: "As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie." Dit maak dit volgens die dissipels te moeilik om te trou. Mens kan dit seker dan ook sê oor 'n verhouding met God. Dit is te moeilik en vra te veel. Die huwelik is vir my die leerskool vir die lewe met God en mens. Hoe om die onmoontlike moontlik te maak. Hoe om dit wat in die pad staan, amper gewelddadig te verwyder ter wille van die Godgegewe dood. (tot lewe).
(11) Maar Hy sê vir hulle: "Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. Dit lyk asof die bedoeling om een te word met God en met mekaar in die huwelik, baie sterk in God se bedoeling is. Dit is 'n baie sterk leerskool en hulp in dood gaan en lewe. Vir sommige is die vermoë gegee om nie te trou nie.
(12) Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. Wie dit kan doen, laat hy dit doen." As jy een van hulle is wat reg kry om nie te trou nie, word jy hier aangemoedig om dit nie te doen nie. Die rede hiervoor is vir my nie duidelik nie. Dalk is mense soos hierdie (soos Paulus) gegee om al sy aandag aan die koninkryk te gee. Dit is duidelik dat Paulus die lesse iewers geleer het. (Dalk omdat hy alles wat hy doen so passievol en met alle krag en oortuiging doen). Al wat ek kan sê persoonlik is dat die huwelik vir my die lesse leer wat ek nie andersins sou leer nie. Ek moes dus trou. Dit kan ook wees dat seksualiteit ook hier 'n rol speel?
Here, ook hier stap ek weg van die vers sonder om alles te verstaan. Tog het U genoegsaam bekend gemaak. U het bedoel dat ek trou en dat ek daardeur leer, dat ek in die ons U koninkryk beter dien. Dat U 'n ongelooflike verhouding gegee het vergelykbaar met U verhouding met ons. Here leer my om dit met my hele hart siel en verstand en al my kragte te vat uit dankbaarheid en my oorgee aan U raadsplan vir die wêreld wat hierdie huwelik insluit. Bou in my denke in elke interaksie dat ons hier besig is met 'n Goddelike gawe waarvan ons net die rentmeesters is. Die diep vreugde daarvan om in ons diepste begeertes tot eenheid aanvaarding vervulling en veral liefde, alles van U ontvang ten spyte van ons gebrokenheid. Bou verder aan die gebrokenheid vanuit die indikatief van wat U sin is: Hierdie verbintenis. Maar 'n skadu van U verbintenis met ons. Ons begeerte is om U verbintenis met ons al beter deur ons verbintenis, sigbaar te maak vir almal om te sien.
Nog 'n "crazy" gedagte. (Ds Goia van die SDA het gesê dat as dit "crazy" is, dan is dit dikwels 'n teken dat dit van God kom en as dit normaal is, 'n teken dat dit uit jouself kom). Wil nie sê dit kom van God nie, maar hier is dit: In die vergelyking tussen God se verhouding met ons en die huwelik, is daar die groot verskil dat God heilig en sonder sonde is en dat die kerk Hom dien. Terwyl in die huwelik mens mekaar dien en albei sondaars is. Wat het by die kruis gebeur. God het sonde op Homself gelaai ter wille van ons. Jesus het in diens gestalte na ons gekom. Hy het af gekom na ons toe. Hy het die mens kom dien. Dit is "crazy" dat God deur die sonde op Homself te neem, Sy grootheid juis bewys deur diens en om nie net om af te kom na ons nie, maar as dienskneg voor die mens kom staan het. Jou skuld is myne! Amper om te sê daar is nie meer jou skuld en my skuld nie, dit is ons skuld. Dit is ons sonde. Daar is betaal daarvoor en ons is vry gespreek deur die betaling en die verwydering daarvan. Albei is vry gespreek, maar albei gaan ook dood agv die sonde van Adam. Ons gaan saam met Christus dood. Ons sterf saam met Hom. Ons staan dus saam met Hom op. Hier is 'n diep assosiasie van God met ons. Een word. Bonny, Jou skuld en foute is myne soos myne joune is. Ek vat dit en ek dien jou! Nou is ons ons. 'n God gegewe gawe. Nou staan ons saam op in Christus, want dit wat ons geskei het is dood. Baie gevolge van die gedeelde skuld kan nou vanuit die nuwe werklikheid oor tyd en deur die krag werklikheid en teenwoordigheid van God en mekaar hanteer word. Here help ons om ook ons te word met ons sonde en skuld van die verlede en hede. Here gee dat die misterie van diep onverstaanbare eenheid as gegee deur U in 'n menslik onmoontlike verhouding moontlik geword het deur 'n kruis en bloed. Dat hierdie Godgegewe verhouding ook in ons huwelik sal manifesteer in dood en opstaan.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking