21 en 35
Hier is die vraag oor hoeveel keer iemand jou broer moet vergewe. Die antwoord kom oneindig. Dit word verduidelik deur die verhaal en dan in 35 is die antwoord dat die vraag eintlik verkeerd is. Dit gaan nie oor hoeveel keer nie maar of jy dit van harte doen. Die van harte is dan ook nie 'n strewe nie, maar 'n vereiste.
Here wat beteken "van harte"? Ek reken dit is meer as net vir die oortreding. Dit is 'n aanvaarding van die mens sonder voorbehoud. Jy is my broer ten spyte van wat jy gedoen het en nog gaan doen. Dit gaan nie oor net wat jy doen nie. Maak nie saak waar jy gaan en wat jy doen nie ek sal nooit hoop verloor op my broer nie, want nou is ek aan jou verbind soos ek aan myself verbind is. Vergifnis is die herstel van 'n verhouding. Selfs al moet ek jou hard hanteer en weg jaag is dit ook ter wille van jou, nie ter wille van myself nie.
Ek dink aan die Britse sendeling paartjie wat heroïne verslaafdes in hulle huis in Manenberg inneem. Telke male besteel word, op hulle geskiet word in die strate, maar hulle kinders in daardie huis groot maak. Oor lang tydperk 'n ongelooflike plek van hoop en herstel word. Hulle wil nie eers 'n geskenk van 'n mediese fonds aanvaar nie, want hulle kan hulleself nie so verwyder van die mense vir wie hulle omgee nie. Dit is nie net vergewe vir wat jy vandag gesteel het en dit more weer doen nie. Jy is aanvaarbaar by my met al jou foute wat jy nog gaan doen ook.
Ons stel hierdie standaard hoog, want dan verstaan ons beter wat die koning gemaak het teenoor ons.
23 In die Koninkryk word rekenskap geëis! Oordeel word gevel.
24 10 000 talente is gelyk aan 60 000 000 denarius. 100 denarius is 4 maande se salaris vir 'n werker.
Here, laat ek nooit vergeet hoe groot my skuld en ellende is nie! Dat dit totaal onmoontlik is om self iets daaraan te doen.
25 Ook die koning weet dat die skuld nie terug betaal kan word nie. Die wet vereis dit egter en daarom moet die gevolge wat die wet voorskryf nagekom word. Verkoop as slawe, nie net hy nie maar ook sy vrou en kinders. Gesinseenheid word hoog gestel en alle skuld en vreugde word gedeel. Westerse kultuur is baie individualisties, maar Joodse kultuur dink nie so nie. Ook nie Animistiese Afrika kultuur nie. Jy is mens tussen mense. As ek skuld maak, maak my hele gesin skuld. As ek gered word, word my hele gesin gered, soos ook in die verhaal gebeur.
Nuwe reëls geld nou. In die begin was dit net die koning se wette en strawwe wat gegeld het. Nou is die slaaf en sy gesin vry gestel daarvan en kan hulle vry lewe. Daar is egter nou 'n ander vereiste wat nie in die wette staan nie. Nou moet ons ook so optree teenoor ons skuldenaars net soos ons vergewe is. Dit is 'n natuurlike proses en selfs die ander mede slawe kon beleef dat dit nou moet gebeur dat ons ander vergewe. In 'n wêreld waar vergifnis vervang is met menseregte, gaan kinders van God se koninkryk in teen hulle eie regte (teen die reëls) om hulle regte prys te gee en te vergewe.
Here, ook hierdie nuwe reël is vir my te groot! "Soek allereers die koninkryk van God en Sy geregtigheid en al die ander dinge..." Die nuwe hart word gegee en nou maak ons dit 'n dringende saak om in Sy geregtigheid, daardie geregtigheid sigbaar te maak. Lewensvisie, maar nie uit die motivering dat ek bang is vir die oordeel nie. Nou soek ek dit met alles wat in my is. Emotief, Kognitief en funksioneel. Hart verstand en al jou kragte. Nie uit vrees, maar uit liefde. Dit sal deel word van jou lewe met so 'n ingesteldheid!! Dit is die voort vloei van God se liefde wat ons nie kan keer nie. Jy is of deel daarvan of jy is nie. Vrees is nie deel van die proses nie, maar geloof wel. Soos Paulus sê, vrees verwag straf. Ek bly worstel oor myself en of ek reg doen en of ek dit gaan maak. Geloof gerig op vergifnis reeds ontvang. Verhouding reeds herstel. Heilige Gees self is die deposito reeds gegee. Eendag as Hy weer kom, gaan die spanning finaal opgehef wees.
Here doen met my soos U wil en bring my verstand, hart en dade werklik onder U beheer elke dag meer en meer. Laat die proses deurweek wees met U liefde en nie my vrees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking