Die geheim hier lyk dit vir my is dat vervulling daarin lê in gee en nie ontvang. Al die begeertes en behoeftes van die self, kan vir oorlewing so ongelooflik belangrik word. Tog is dit juis dit wat kan maak dat jy die lewe mis. As jy die lewe hier op aarde wil red, gaan jy dit verloor.
Die gedeelte vra diep en ernstige vrae oor ons prioriteite. Wat beteken dit om Jesus te volg.
Vreugde word beleef nie wat ek self kry of waarin ek self baat nie, maar wat ander baat en bevry en ook in die deel van die Here se vreugde. Nou is lewe nie meer gebasseer in self nie maar in Hom en so ook in ander mense. Ander se blydskap, maak my dan bly.
As iemand 'n groot bedrag geld present kry, gee dit nie vir my vreugde nie, want dit is nie die persoon tot voordeel nie. Ek kry my vreugde daarin ook wanneer my mede broer bevry word en die lewe in Christus ontdek.
Jy kry die lewe as jy jou aardse lewe prys gee. Here wat is die lewe? As my besigheid mooi wins maak, is dit nou bron van vreugde of bron van gevaar? Hoe kan mens aardse wins as lewe ervaar? of mag mens nie? As ek nie vreugde vind in aardse goed nie, waarin vind ek dan vreugde? Wat is die koninkryk van God?
Dit lyk vir my asof God ALLES vra, maar dan dit terug gee aan die mens en dan kan jy steeds vreugde vind in aardse goed wat jy reeds weg gegee het en nie joune is nie, maar wat jy nou bestuur op koninkryks waardes. Dit is tog die konteks waarin ons die koninkryk moet realiseer.
Nou is ek nie meer verbonde aan die aardse goed nie, en kan dit op enige tyd prys gee ter wille van Hom. Dit sal altyd reg wees en sal nie my vreugde steel nie. In die kry en verloor van aardse goed, lewe ek die nuwe lewe.
As die Here vir my kinders gee om te versorg, is dit my vreugde, as Hy 'n kind of almal weg vat, is dit ook reg en word my rou en hartseer deel van die LEWE. Gaan dit so ver of nie? Ek kan dit wel doen, omdat die kind nie myne was nie en ek so geleef het.
Vind ek dan my vreugde in die gedeelte waaroor ek beheer het en die res aanvaar ek ook met vreugde?
Oor die gedeelte waaroor ek beheer het, bou ek die koninkryk en vind ek vreugde daarin om die koninkryk te bou. Die gedeelte van die lewe wat buite my beheer is, gee ek heeltemal oor. Wat ookal die Here wil doen of toelaat daar, is altyd reg. Soms vat dit tyd om te rou en deur te werk, maar dit sal altyd ondergeskik wees aan die konininkryk of sal ek sê die LEWE.
Ek het dus meer vrae as antwoorde. Daarom die belang van geloof.
Paar beginsels
Wees bereid om jou altyd aan God se voorsienigheid te onderwerp, maak nie saak wat. As ek kanker kry en in pyn lewe, dan is dit sleg, maar ook goed.
Verder gee jouself totaal vir die koninkryk en maak dit belangriker as enige iets waaroor jy beheer het. Vind jou vreugde in die Here hoe ookal Hy dit waaroor jy nie beheer het nie toelaat om te gebeur. Jy sal dikwels baie daarvan vanuit jou vlees nie kan verstaan nie.
Tog NB. Die vreugde begin in Jesus wat jou verlos. Dat jy niks verdien nie, maar dat daar soveel ook hier op aarde is wat jy kan geniet en waardeer. Die nuwe lewe op aarde en eendag in die Hemel is totaal 'n geskenk. Watter vreugde kan mens nie daaruit put nie!
Vers 28 wys juis op 'n koninkryk wat hulle voor hulle (ek glo fisiese dood) dood sou sien kom. Verklaarders meen dat dit met die kruis gebeur het. Jesus het daar reeds in sy koninkryks heerskappy gekom. Was self aan dood pyn belediging en verwerping vrywillig onderwerp. Daarna het Hy opgestaan en alles oorwin. Die oorwinning het Hom nie van lyding bevry nie, maar kon ook nie Sy vreugde in God se oorwinning vir die wêreld.
Verder moet ek onthou dat ons sy dood deel, maar ook saam met Hom oorwinnaar is ten spyte van eie foute sondes en mislukkings. Dit is tog die bron van alle vreugde in die Here. Ek dink die LEWE en vreugde is bedmaats. So ook vrede, geduld, selfbeheersing ens wat vrugte is van die Gees, dit kom nie uit myself nie. Ai en hoe sukkel mens nie daarmee nie. Sukkel nie om dit reg te doen nie, maar uit die bron te LEWE.
Aardse lewe is nooit die bron van ware lewe nie. Hierteen moet ons ernstig waak, want dit beheer te veel gelowiges se lewens.
VERDER GEDINK
Gepraat met dissipels wat 'n aardse koninkryk verwag het. Heerskappy deur mag. Daarom Petrus se reaksie om te sê dat Jesus nie gaan ly nie. Nou kom Jesus en wys daarop dat nie net Hy nie, maar ook hulle hulle lewens sal moet prys gee. Die Lewe lê in die weg gee van jou lewe. Die dissipels moes letterlik hulle aardse lewens op die spel plaas om Jesus te volg.
Dink maar vandag aan die vervolgde kerk waar lewens letterlik prys gegee word ter wille van Christus en dus die koninkryk.
Die ywer vir die koninkryk is baie sterker as die ywer vir oorlewing. Dit maak die ywer vir oorlewing slegs 'n oorweging as dit die koninkryk dien.
Nou koop en verkoop ek met groter ywer en bou pensioenfonds met groter ywer en met bereidheid om dit weg te gee, want nou is dit nie meer myne nie. Dissipels werk baie harder as aardse vergaderaars. Hulle is meer gemotiveerd, het meer deursettings vermoë en probleme is vir hulle geleenthede. Baie min sit hulle af om weer te probeer en oor en oor te werk. Hulle is gedryf deur sukses, wat nie eie sukses is nie, maar sukses in koninkryk. Mense wat groei in koninkryk verstaan en lewe en vreugde van mense wat tot bekering kom ens. Dit word die motivering.
Die nuwe lewe is 'n lewe vanuit 'n oorwinnings perspektief.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking