Mat 22:1-14 Jesus
het weer in gelykenisse met die mense gepraat. (2) Hy het gesê:
"Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy
seun 'n bruilofsfees voorberei het. (3) Hy het sy slawe uitgestuur
om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie.
(4) Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: 'Sê vir die genooides:
Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed.
Kom na die bruilof toe.' (5) Maar die genooides het hulle nie
daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy
werkplek toe gegaan. (6) En party het sy slawe gegryp en mishandel
en doodgemaak. (7) Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur
om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.
(8) Toe sê hy vir sy slawe: 'Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar
die genooides was dit nie werd nie. (9) Gaan nou uit na die
straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees
toe.' (10) Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal
wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die
feessaal vol gaste geword. (11) Toe die koning ingaan om na die
gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie,
(12) en hy sê vir hom: 'Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder
bruilofsklere aan?' Maar die man kon niks antwoord nie. (13) Toe sê
die koning vir sy dienaars: 'Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in
die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande
kners.' (14) Baie is immers geroep, maar min is uitverkies."
Duidelike aansluiting met die vorige gedeelte en dalk steeds 'n antwoord
op die vraag van waar Jesus sy gesag vandaan kry.
Twee keer het die koning mense genooi, maar die verkose genooides wou
nie kom nie en reageer wreed op die koning se boodskappers of diensknegte. Die
fees is vir die koning se seun. Weer 'n sterk fokus op die seun wat heel
waarskynlik op Jesus wys. Erkenning van Jesus word weer die fokus van die
koninkryk!!
Die koning het kwaad geword! God gaan die wêreld in deur sy
boodskappers of slawe met 'n uitnodiging tot 'n fees. Die genooides wat nie wil
nie en die wreedheid van genooides teenoor die slawe, maak God kwaad. Dit bring
die koning se oordeel oor die genooides. Dit verwys seker oor die vernietiging
van Jerusalem 40 jaar later.
Dit bring egter ook die uitnodiging aan ander mense slegtes en goeies,
wat nie in die begin uitgenooi is nie. Die genooides was dit nie werd nie. Ten
diepste omdat hulle nie wou nie, wat op die ou end uitloop op 'n openlike
vyandigheid teenoor die koning deur nie die seun se bruilof te erken nie en dit
bewys deur hulle optrede teenoor die slawe. Nou is ons ook uitgenooi. Die Tempel en kerk van daardie tyd is eerste genooi, maar hulle wou nie na Jesus se bruilof kom nie. Hulle het soveel dinge reg gedoen, maar vanuit hulle posisie van "God se mense" was hulle te skepties om in 'n verhouding met Jesus te staan en na Sy bruilof te gaan.
Die gevaar is dus om so besig te wees met wat reg is dat jy nie na Jesus se bruilof wil gaan nie.
Wat is die bruilofsklere? Aanvaarding van die bruilofskleed lyk my is
die aanvaarding van die koning en sy seun en dus die onderwerping aan die seun
as ook sy koning. Die sonder die klere het seker gekom om saam te eet en die
voordeel van die fees te beleef sonder die ware erkenning van die koning se
seun as ook koning. Die klere sal dan die ware verhouding met die koning
versinnebeeld.
Die verhouding is 'n besondere een word met God se koninkryk. Sy
teenwoordigheid en dieselfde strewe en bereidheid om hom te dien. As hy die met
'n kleed roep om die land te verdedig en sy lewe daarvoor te gee, dan is dit
juis hulle wat dit sal doen. Die koning kan op hulle reken.
Dit is in die konteks wat die woord eer, betekenis kry. Dit is nie omdat
dit afgedwing word nie, of omdat jy bang is om dood gemaak te word nie, maar
weens 'n vereenselwiging met die seun en dus met die koning.
Die wat sonder die klere kom, is dalk hulle wat bang is om dood gemaak
te word. Net die voordele soek.
(14) Die wat die klere aantrek, eer en ag, is min.
Jy kan nie die koning eer sonder om by Jesus te begin nie. Die keuse is
egter by die kerk soos hy met die leiers praat. Die seun is nou hier. Die
koninkryk het in Jesus gekom en staan hier voor die leiers. Asof Jesus sê: Dit
is waar my gesag vandaan kom.
Wonder sommer oor Israel vandag. Die keuse is of ons die seun se bruilof
bywoon en die bruilof klere aantrek. Dalk is daar meer onder die wrede Hamas
beweging wat die klere aantrek? Ek weet nie. Dit is die balans punt oor God se
oordeel. Net so ook Oekraine.
Ons is gemaak om God te dien. Soms voel ek ongemaklik want dit voel of
dit my vryheid beperk. Die ongemak kom seker uit ons vervalle natuur wat rebels
is.
Hoe lyk die kleed wat ons aantrek? Dalk soos volg?:
God nooi ons na 'n fees op Sy voorwaardes en op God
se manier van doen. God vra dat ons dit doen met alles in ons. Daar is vryheid,
maar slegs in prys gee van vryheid. Wat 'n teenspreking?! Daar is net een keuse
wat gemaak kan word wat 'n nuwe lewe oop maak. Daar is geen manier om vry te
word as ons rebels is om eie identiteit en mens te behou. Tog is daar lyk my 'n
vreemde vryheid binne die onderwerping aan God. Dit is ook rebels, maar teen
gebroke mens wees in jouself en ander.
As ons uit ons vlees lewe is daar nie 'n manier
nie. Dit is self vernietiging voor God. As ons egter op 'n manier reg kry om
uit die Gees te lewe is ons vry in God se wil. Dit kom weer terug na ons
bekering. Elkeen van ons is uniek gemaak en tussen die mense wat ons leef word
unieke verhoudings geskep. In die omgewing wat ons leef word unieke vaardighede
geskep. Alles deur die Gees wat in ons werk. Verder gee die Gees alle
vaardighede en gawes, wat dikwels ontwikkel word in ons lewens. Die vryheid in
die Jesus lewe lê heel waarskynlik in hierdie uniekheid en vereis 'n klomp
kreatiwiteit. Dit vloei uit die begeerte saam met God vir Sy koninkryk wat
groei vanuit ons haglike vleeslike mens wees na 'n nuwe Lewe waar genesing
bevryding vervulling en verlossing van mense en versorging van dier en natuur
gebeur. Daarin werk ons ook aan die vernietiging en uitroei van menslike
begeertes, vleeslike gedrag wat vernietigend is. Soos met die roeping van
Jeremia (Jer 1:10). Om te bou en af te breek. Dit is dus nooit 'n stil
vreedsame lewe nie, maar ons is nie tuis hier nie en kan nie stil sit nie. Dit
is harde werk. Beginnende by myself, wat dan deurvloei na buite. Dit is self
vernietigende werk, vir die vlees en vreugde en vervulling vir die Gees. In die
proses word jy deel van God se bruilofsfees.
Ek wonder of die negatiewe gevoel teenoor die bruilofsfees nie juis kom uit die feit dat ons al die goeie goed van die nuwe lewe wil doen en na strewe soos om groen te lewe en vir ou mense te help, jou vrou lief te hê ens. Maar dit doen deur die vlees se pogings. Dan word die vreugde van die Gees gemis, die vrede, die vriendelikheid, die geduld en self beheersing. Die stryd voel dan asof dit nie lei na 'n fees nie. Ons is in die harde werklikheid van die aarde tot met die wederkoms of tot ons dood gaan.
Die fees of lewe in Christus, is 'n reeds oorwinning deur die kruis, kreatiwiteit, harde werk, saam met vreugde van weet aan watter kant ek reeds is ten spyte van my foute. Die vreugde van wat dit aan ander doen as ek ander help groei ens. Daar is baie meer om te leer as wat ek in my lewe kan leer en daar is dus te groot verskeidenheid van gawes en moontlikhede wat onbeperk is. Daar sal nooit 'n vervelige moment wees nie. Dit alles is moontlik saam met die steeds gebroke natuur en begeertes wat my so dikwels laat struikel .Selfs dit word in die koninkryk gebruik. Die fees lê ook daarin dat selfs al bly ek vir lank hardkoppig oor goed, dit word bietjie vir bietjie verander. - Gaan na die fees en trek die kleed aan.
Dit gesê, wat dan van die sentraliteit van die
Seun? Hierdie Lewe word moontlik deur die kruis en die bloed. Sonder dit was
daar nie 'n nuwe Lewe nie. Jesus is die enigste weg tot hierdie Lewe. Dit
is die seun se bruilof. Dit gaan nie net oor bywoon nie, maar deel word van en omdat
ons gebroke is, is dit absolute genade deur die kruisdood heen om enigsins deel
daarvan te kan wees. Hy is die weg, en Hy is die deur en almal moet deur die
deur kom. Die wat oor die muur spring is seker hulle sonder ‘n kleed. Die kleed aantrek is dan juis seker 'n simbool van die genade aantrek. Jouself daarin te klee.
KERN: God nooi na 'n fees. Die mens verwerp die uitnodiging. Sommige gaan na eie grond en ander na werksplek. Dan word hulle verwerp en word ander genooi. Hulle wat dan die kleed aantrek, deel in die fees van God. Hulle wat gekies was in die begin was dit nie werd nie.
(5) Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan.
Nogal iets om te wonder. Wat trek ons aandag af daarvan om na Jesus se bruilof te gaan? Die stuk grond en die werksplek behoort nie aan ons nie. Dit is ook net tydelik. Hoe kry die mens dit reg om deur die Gees so 'n revolusionêre prioriteit skuif te maak en hoe lyk die nuwe prioriteite in die lig daarvan dat ons ook moet werk om te leef. Wat is die implikasies van Jesus eerste. Die landery en die werksplek kan of joune wees of kan deel wees van God se opdrag. Deel van die fees daarvan om Jesus te dien.
(8) Toe sê hy vir sy slawe: 'Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie.
Die uitspraak dat die genooides dit nie werd is nie, laat my ook wonder. Ek wil van die standpunt uitgaan dat niemand dit werd is nie. Hierdie geweldige transformasie deur ons verhouding met Jesus is niemand werd nie. Ons almal het gefaal en ontbreek ons aan die geregtigheid van God. Die kern van die fees is dus juis daarin dat dit die Seun se bruilof is en dat ons deur ons verhouding met die seun dit werd word om die koning se slawe te wees en dus 'n verhouding met die eienaar te hê. Slegs hulle wat die kleed van geregtigheid ontvang wat gegee word, is dit werd. Dit is die kern van ons waarde. Nou deel ons God se versorging en Sy paleis, Sy kos en wyn, sy fees en die belangrikste, 'n verhouding met Hom. Nou word ons Syne en ons werksplekke en landerye word syne en begin Hom te dien. Dit is dalk ver gevat, maar as ek nou terugkeer van die bruilofsfees, dan bou ek Sy koninkryk deur alles syne te maak en alles Hom te laat dien.
(elke keer as ek 'n ongemaklike vraag vra, soos oor die uitspraak "Was dit nie werd nie", dan meestal kom daar skatte na voorskyn wat nie daar sou wees sonder die ongemak nie. dit daag mens uit).
(14) Baie is immers geroep, maar min is uitverkies."
Hoekom word die woord baie gebruik en nie almal? God het die wêreld lief. Hy is lief vir almal en het gekom vir almal. Dalk bedoel die baie eintlik almal om te kontrasteer met die min wat uitverkies is. Ek vermoed dat dit verwys na die baie wat op die strate en oral oor uitgenooi is vir die bruilofsfees. Ek weet nie.
Min is uitverkies. Dit verwys na die wat van die strate af die uitnodiging aanvaar het en die kleed aan het. Almal is nie uitverkies nie. Die wat uitgenooi is en aanvaar het en belangrik, ook die kleed aan het. Jy dra nie jou eie klere en jou eie geregtigheid nie. Jy is aanvaarbaar deur Jesus. Weer wys dit lyk my op die kerk mense wat in die kerk is en deelneem, maar nie 'n kleed aan het nie, want Christus is verwerp. Hulle wat trots is op hulle heiligheid en reg doen. Jou baadjie en jou das wat gewas en goed versorg is, kan jou nie red nie.
Almal is nie uitverkies nie. Baie sal nie die uitnodiging aanvaar nie en sal ook nie die kleed aantrek nie en later ontdek dat hulle nie uitverkies was nie. God red nie almal nie, is 'n ongemaklike realiteit. Die genade is dat Hy sommige kies, terwyl die mens Hom verwerp het en steeds verwerp. Hy is 'n God wat lief is vir mense en nie almal los vir die oordeel nie, maar uit genade sommige kies.